Vroue praat oor… Gewig, dieet en die ideale lyf

0
95
dieet

Hoe lyk die ideale figuur en wat is die perfekte gewig vir ’n vrou? Bestaan so ’n vrou regtig of is dit ’n mite wat die media ons voer?

Hoe lyk die ideale figuur en wat is die perfekte gewig vir ’n vrou? Bestaan so ’n vrou regtig of is dit ’n mite wat die media ons voer?

As jy op die internet gaan rondsoek om te bepaal wat nou eintlik die ideale figuur vir vroue is en daarmee saam die perfekte mate en gewig, gaan jy jou in ’n oormag teenstrydige opinies en syfers vasloop.

Daar is hordes webtuistes, boeke, DVD’s en artikels beskikbaar, almal geskryf deur “kenners” wat elkeen glo hulle is reg. Dit is genoeg om jou na ’n stuk koek te laat gryp. Eintlik is dit wat ons in die media sien, maar net ’n refleksie van wat op daardie stadium in die “mode” is. Gaan kyk maar na foto’s van vroue in die 20ste eeu – elke dekade verskil drasties van die vorige een. Een jaar moes almal lank en slank, amper seunsagtig, gelyk het, net om in die volgende dekade voller kurwes te moes hê.

Dit is natuurlik nie moontlik nie. Die wêreld bestaan uit unieke mense wat almal verskillende lengtes, groottes en gewig het. Ongelukkig glo baie vroue dat hulle soos die nuutste voorbladmodel van die modetydskrifte moet lyk. Hulle weet bloot nie dat al die modelle en aktrises wat so in die tydskrifte pryk se foto’s ook maar goed geredigeer word voordat dit gepubliseer word.

Onlangs het ’n studie van Superdrug Online Doctors opslae op die internet gemaak. Hulle het ’n projek, Perceptions of Perfection, van stapel gestuur, waarin hulle vir 18 grafiese ontwerpers wêreldwyd gevra het om dieselfde foto van ’n jong vrou te redigeer om te pas by hulle kulturele persepsies van hoe die ideale vrou sal lyk. Nie twee van die foto’s het naastenby dieselfde gelyk nie, wat net bevestig het: Daar is nie iets soos die ideale gewig en die ideale bou vir ’n vrou nie.

Ons het by ’n paar vroue gaan hoor wat hulle van die hele gewig- en dieetkwessie dink.

“Ek is oorgewig, wat nou?”

Madelé Burger is ’n voltydse blogger en skrywer van die gewilde “Toortsie se Bantingboerekos”. Haar gewig het lank wipplank gery en dit het haar gesondheid benadeel.

Die nare kringloop begin by twee kilogram wat jy net gou wil afskud. Iewers hoor jy van ’n kitsdieet waardeur jy dit binne vyf dae kan verloor. Jy volg die instruksies noukeurig, honger jou gedurende die vyf dae uit en verloor die twee kilogram sonder moeite! Maar dis nie waar dit ophou nie! Sodra die vyf dae om is, val jy terug in jou ou patroon en voor jy jou kom kry, het jy dit weer aangesit.

Ry jy ook op daardie wipplank? Oorgewig, verloor, tel meer op, verloor, tel nog meer op. Ek ken dit – die prentjie vertel my eie verhaal. Die probleem is dat die leefstyl wat ons volg wanneer ons gewig aansit, totaal vervang moet word met ’n nuwe leefstyl. Dis belangrik dat elke persoon die program sal volg wat by haar eie leefstyl kan inpas, een waarmee sy die res van haar lewe sal kan volhou. Toe ek met Banting begin het, het my hele lewe totaal verander.

Met geringe aanpassings in my normale kookpatroon kon ek gou-gou binne die riglyne kook. Dit het vir my ’n leefstyl geword; ek verlang glad nie meer terug na die stysels waarvoor ek so lief was nie. Ek is gelukkig in my lyf, ek voel en lyk gesond en sien weer kans vir die lewe. Ek het my eetversteuring oorkom en daarvoor kan ek net God loof en dank. Dis só lekker om kos sommer net te kan geniet en nooit skuldig te voel omdat ek lekker eet nie.

“Ek voel gemaklik met my lyf”

Sarina Heap is ’n hoërskooljuffrou wat glo in ’n gebalanseerde leefstyl wat almal aanmoedig om hulle teikengewig te bereik en gesond te leef.

Ek probeer om tussen my daaglikse aktiwiteite as hoërskooljuffrou deur drie keer per week te oefen. Dit is belangrik om gereelde oefentye te hê en daarby te hou. Ek lees ook gesondheidsartikels en kyk na oefenprogramme om myself te herinner aan watter gesondheidsvoordele dit vir jou liggaam inhou. Ek hou nie van alleen oefen nie. Dis hoekom ek by Run/Walk for Life aangesluit het, sodat my drafmaats my kan motiveer en kan help om nie tou op te gooi nie.

Ek gaan stap ook saam met my man en ons honde. Ons gesels dan heerlik en praat oor enigiets wat op ons harte gelê word. So bou ons dan ook aan ’n gesonde huwelik! Benewens die oefening glo ek ook aan genoeg slaap, want dis nodig om jou liggaam weer te laat rus en te laat herstel vir ’n nuwe dag wat voorlê.

Ek is ’n rustige mens en het al van kleins af geleer om my stres te beheer en geduldig te wees. Dit help jou nie om jou te bekommer oor môre nie, want môre bring sy eie bekommernisse. ’n Mens moet ook genoeg water in die dag drink. Dit help my om beter te konsentreer, meer werk te voltooi en gee my ook meer energie. Ek probeer om die inname van geprosesseerde kos te verminder omdat dit min voedingswaarde het en baie onnodige koolhidrate en preserveermiddels bevat. Ons versap ons groente en vrugte en maak so seker ons kry elke dag al die nodige voedingstowwe in.

“Ek wil fiks en maer wees om gesond te wees”

Rochélle Human is ’n vryskutjoernalis. Sy gym ten minste drie keer ’n week, want sy glo oefening is belangrik vir ’n lang en gesonde lewe.

As tiener het ek besluit om nooit dwelms te gebruik nie. Hoekom sal jy dinge aan jou liggaam doen wat jy wéét enorme skade sal aanrig? Later, as gesondheidsjoernalis, het ek besef dieselfde geld oorgewig wees. Om ’n liggaamsmassa-indeks (LMI) van 25 of hoër te hê, het ’n rimpeleffek op jou gesondheid. Kenners gebruik die term metaboliese sindroom om te verwys na die groep simptome en toestande wat jou risiko vir sogenaamde leefstylsiektes soos tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk en hartsiekte verhoog.

Jy kan maer wees – hou net op eet. Maar dit gaan jou nie noodwendig gesond maak nie. Daar is ’n fenomeen, veral onder vroue, wat bekend staan as skinny fat. Die vrou lyk slank in haar klere, maar in werklikheid het sy ’n hoë persentasie vet in haar liggaam, en veral rondom haar organe – die ongesondste, gevaarlikste soort vet wat tot bogenoemde leefstylsiektes kan lei. Die raad om van hierdie vet ontslae te raak is, ook nie nuut nie: Oefen meer en eet gesonder.

As jy een van dié is vir wie ’n dieetfoefie gewerk het, goed en wel, maar vir die res van ons verg dit ’n kopskuif. In hierdie opsig is my ma my rolmodel: Ná drie kinders en jare van ongesond eet het sy bloot haar leefstyl verander. As ’n stuk koek nie haar asem wegslaan nie, eet sy net ’n hap en los die res. Aandetes is daar geen stysel op haar bord nie. Die kilo’s het weggesmelt, sy is blakend gesond en lyk op 52 elke dag jonger.