Vroue praat oor… God se grootheid

0
1159

Die lewe bring storms, uitdagings en vir baie van ons ook die herinneringe aan ’n rou seer wat diep lê. As gelowige vrou kan jy egter in elke seisoen Sy grootheid ervaar. Hy is altyd daar.

En waar God is, is geen leemte te leeg om te vul, geen situasie te groot om te oorwin, en geen seer te rou om te genees nie.

Ons kan vir seker weet, ná elke grou winter blom ’n lenteroos. Ses gospelsangeresse vertel hoe hulle Sy grootheid veral tydens ’n woestynseisoen ervaar het.

Dit was nog nie tyd om te sterf nie

Annaretha Anza

Die dood het amper gewen toe die dokter my ouers bel en sê: “Julle dogter gaan dit nie maak nie; julle moet kom groet. Haar longe het platgeval.”

’n Wonderwerk gebeur en ek sit later regop in die hospitaalbed. Skuldgevoelens knaag aan my. Doer onder in die diep, donker put van selfverwyt, waardeloosheid en totale hopeloosheid het selfdood na die enigste uitweg gelyk. Volgens my verwronge denke kon dit my genees van twee egskeidings, verkeerde keuses en verwerping. Dit was ’n uitweg uit ’n baie pynlike situasie.

Met ’n tipiese slagofferhouding het ek gevra hoekom God nie ingryp nie – dit nadat ek nog altyd so getrou aan Hom was. My lewenslied het ’n stil, wanhopige kreet geword.

Ek het geglo my harde werk in die musiekbedryf was tot niet en dat ek nooit weer sou sing nie. Op my eie wou ek ’n tweede huwelik, wat op valse hoop gebou was, laat werk. Intussen het ek lafhartig weggekruip van die skande waarin ek myself en my kinders gedompel het.

Daardie dag het ek die dood vir die soveelste keer vrygespring. Nie omdat ek so sterk of oulik was nie, maar omdat daar vir my gebid is. My tyd hier was nog nie verby nie.

Na die oproep van die dokter het my ouers geweet wat om te doen. My pa, ma en broers het langs die hospitaalbed gaan staan en gebid: “Here, as dit haar tyd is om te gaan, laat haar gaan, maar as U nog nie met haar klaar is nie, bring haar terug.” In daardie tyd het ’n tannie wat nie een van ons geken het nie, ook daar langs die bed vir my gebid.

Hoeveel keer het die dood nie aan Job of koning Dawid se deur geklop nie? Elke keer was die tyd nog nie reg nie. Wanneer God besluit sy doel met jou is nog nie volkome bereik nie, sal geen selfmoordpoging, siekte of ongeluk daardie besluit kan verander nie. Die teendeel het met my gebeur: Hy self het nuwe hoop en lewe in my kom blaas.

Goed genoeg, al voel jy nie so nie

Julita Kok

Die selfverwyt en skuldgevoelens het aan my gevreet en elke dag my gedagtes oorheers. Ek het geglo ek is nie ’n goed genoeg kind van God nie. Soms het ek onder die treinbrug gaan staan en sodra die trein die klanke om my uitdoof, het ek geskree. ’n Rou, diep klank het uit my binneste gekom.

Dit was ’n geveg teen my eie onvermoë om ’n lewe van geluk in die Here te leef. ’n Gevoel van algehele verlatenheid het soos ’n swart kombers om my gevou.

Gelukkig is ek verkeerd bewys. Dit was toe al die tyd net ’n gevoel, gegrond op my menslike manier van dink. Daar is ’n groot verskil tussen wat ons voel en wat ons wéét. Dit het tydens een van my soveelste skree-sessies duidelik geword toe die Here in ’n hoorbare stem die donker om my verlig het: “Gaan lees Korintiërs!”

Ek is dadelik huis toe en het my Bybel by Korintiërs oopgemaak. En daar tref dit my tussen die oë!

Díe bevestiging het vir my ’n nuwe toekomsvisie gegee. Ja, ek het self die keuses gemaak wat tot my huidige omstandighede gelei het, maar Hy kan dit gebruik om iets moois te maak. My wanhopige hulpkrete is beantwoord.

Daar was ’n hemelse vrede in my toe ek besef dat ek nooit werklik alleen onder die brug gestaan het nie. My Pa was altyd daar. Ek kon Hom net nie sien nie, want ek het heeltyd teen my eie probleme en pogings vasgekyk.

Het ek Hom dan nie teleurgestel nie? Ek het nie, en sal ook nooit kan nie. Hy is groot, met of sonder ons eenvoudige dade. Dis juis waarom ons wil opofferings maak – nie om iets te verdien nie, maar omdat ons uit dankbaarheid reg wil leef. Ons kan eenvoudig nie anders nie!

Terwyl ons elke dag met uitdagende omstandighede worstel en teen die wêreld baklei, kan ons wéét: Iemand anders is in beheer. Ons hoef vir niks bang te wees nie, want ons Pa is groter as alles. Dit weet ek nou.

Hy is sigbaar in alles om jou

Soekie Krog

Toe my vyfjarige seuntjie, Adriaan, aan kanker sterf, was ek verpletter. Ek het so hard geglo en vasgehou aan die Krag wat dooies kan opwek en siekes kan gesond maak. Baie gebid en na Hom gesoek. Waar is Hy dan? het ek gewonder.

Toe sien ek ’n klomp prentjies in my kop wat my aan Sy almag herinner. Ek sien Sy krag op die berg Karmel en in Elia se geloof. Voor my geestesoog sien ek die Rooi See wat voor duisende Israeliete oopgaan. Ek sien Jesus aan die kruis hang, maar ook die klip wat voor ’n leë graf weggerol is.

In die Bybelse tyd was daar baie wonderwerke. Ons lees van Simson wat die Filistyne verslaan het. Daniël in die leeukuil. Dawid se geveg teen die reus Goliat. En vandag? Is God steeds so groot soos destyds, tweeduisend jaar gelede?

“Hy is so-o-o-o groot,” strek my kleindogter, Lainey, haar armpies so wyd soos sy kan. Ouboet tel al tot by ’n duisend, maar selfs dit is nie naastenby genoeg om Sy grootheid te omskryf nie.

Oumas wil graag glo hulle ken al die antwoorde op hulle kleinkinders se vrae, maar toe die jonges vra: “Nou hoe pas Hy dan in my hart?” was selfs hierdie ouma sonder ’n antwoord. Ek weet die Een wat die aarde as ’n voetstuk gebruik, is ook in staat om terselfdertyd in my hart te leef. Maar hoe beskryf ’n mens die omvang van daardie grootheid aan ’n kind?

Ja, kanker het my seuntjie van my af weggeneem, maar wanneer ek die wonderwerke om my en in my eie lewe sien, kry ek sommer nuwe krag. Hy is sigbaar in die eenvoudigste veldblom, geklee met natuurlike prag. In die kruis. En in ’n leë graf.

Dieselfde krag is ook in elke klein én groot uitdaging in jou lewe. Ons kan nie hierdie grootheid verklaar of probeer beskryf nie. Al wat ons kan doen, is om dit elke dag ons bron van krag te maak.

Sy drome vir jou is groter as wat jy dink

Tracey Lange

Blinkoog en baie opgewonde het ek my ouerhuis, grootworddorp, familie en vriende agtergelaat om ’n toekoms saam met my verloofde te begin. Alles wat bekend was, moes agterbly en plek maak vir nuwe gewoontes, ervarings en mense. Dit was so opwindend!

Maar toe verbreek hy die verlowing. Ek was nie kwaad nie, maar het hulpeloos probeer verstaan hoekom die verhouding, na al my opofferings, moes eindig. Wat was die doel daarmee dat ons verhouding tot by ’n verlowing gevorder het om daarna net skielik tot stilstand te kom?

Dis maklik om te sê dat God altyd in beheer is. Maar wat as jou huidige situasie ’n ander prentjie skilder? Wat as jy voel jou omstandighede is buite beheer en jy kan nie insien hoekom die kronkelpaaie van die lewe juis só moet loop nie? Ons mag nie Sy planne bevraagteken nie, want ons sien wel die groter prentjie – op die regte tyd.

Nou kyk ek terug en verstaan. My tuisdorp was my gemaksone en ek was doodtevrede om net daar my wortels geanker te hou. Ek sou later heeltemal stagneer en nie die mooi dinge kon beleef wat daar vir my beplan is nie.

Danksy ons verhouding het ek ’n nuwe omgewing aangedurf en dit waaraan ek gewoond was, agtergelaat. Ek kon my reis in die lewe voortsit en ’n nuwe wêreld ontmoet. Ek moes eers losgemaak word van my eenvoudige drome sodat ek geneem kon word na groter dinge wat lankal reeds vir my uitgekerf is.

Daardie verhouding moes plaasvind sodat ek die reis na ’n goddelike droom kon begin, met ’n dieper insig in mense en verhoudings. Dit is moeilik om binne-in ’n rou, seerkrytyd die doel daarvan in te sien – maar gelukkig weet ons Sy grootheid beteken ook Hy is áltyd in beheer. Alles werk nie altyd uit soos jy dit wil hê nie, maar uiteindelik werk dit reg uit, soos dit moet.

’n Spikkel, maar jy word raakgesien!

Linda Kilian

Dit het al voorheen gebeur dat my hart op galop gaan en kliphard teen my ribbes skop. Gewoonlik wanneer dit gebeur, haal ek net rustig en diep asem en na ’n paar minute word dit beter. Daardie oggend was dit anders. Ek het die suurstof diep in my longe getrek. In. Uit. In. Uit. Maar die hartkloppings wou net nie bedaar nie.

My man het gesien daar is fout en die ambulans ontbied. Die paramedici het my hartklop gemonitor. Dit was heeltemal uit ritme. Hulle het my onmiddellik op ’n drup gesit en my op die bank laat lê. My hart het net al vinniger en vinniger geklop. Doe-doef, doe-doef, doe-doef.

In daardie klein, eenvoudige vertrekkie het ek skielik so hulpeloos gevoel. Klein soos ’n miertjie. ’n Spikkel in die heelal. Die Skepper was klein genoeg om die kamertjie met Sy heerlike teenwoordigheid vol te maak, maar ook groot genoeg om my lewe te spaar en my gesond te maak.

My hart het stadiger en stadiger begin klop – en toe, skielik, was my hartklop weer normaal! Die paramedici en medikasie het vir seker ’n belangrike rol gespeel. Almal was deel van die plan om my lewe te spaar. Tog kan ek nie ontken dat slegs die Here my daardie dag gered het nie.

Trouens, daardie insident móés gebeur het, want dit het gewys dat my hart mediese aandag nodig gehad het. Was dit nie vir daardie waarskuwing nie, kon iets veel ergers dalk later in my lewe gebeur het.

Wanneer ’n mens besef hoe broos jou liggaam is en hoe maklik iets kan skeefloop, sien jy ’n groot Hand wat jou elke dag veilig hou. Ek is baie dankbaar om te kan sê dat daar nog nie weer so ’n situasie was nie. Dis suiwer genade!

Ek kon deurentyd voel hoe die Here daardie dag teenwoordig was. Hy is altyd daar. Dalk twyfel jy, soos ek voorheen, of Hy jou in jou spesifieke omstandighede raaksien. Jy kan stil glimlag en weet: Hy sien jou.

Geen krisis is ooit te groot nie

Sandra Barnard

Breinvliesontsteking. Die woord was te groot vir die agtjarige lyfie. Net ’n ma sal verstaan wat deur jou gedagtes gaan as jy sulke nuus kry.

Ons huisdokter, wat ook ’n vriend van ons was, het Boeta getoets deur vog uit sy rugmurg te trek. Op daardie stadium het die nuus dat twee kinders in die gemeenskap aan breinvliesontsteking dood is, soos ’n veldbrand versprei.

Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ons huisdokter gebel. Die nuus het my keel laat toetrek. Boeta was positief.

My kind was baie siek. Hy was te swak om te loop, want hy kon geen kos of vloeistowwe binne hou nie. As daar teen die volgende oggend nog steeds geen beterskap was nie, sou hy in die hospitaal opgeneem moes word.

Toe begin ons bid. Elke nou en dan het ons seuntjie se sagte fluisterstem ons gebede met ’n “Amen” beaam. Intussen het die lewe aangegaan en Pappa moes gaan werk. Voor hy by die huis weg is, het hy vir my gesê hy sal nie ophou bid vir ons seun nie.

En toe was dit net ons twee – ek en my seunskind. Alleen by die huis. Ek het besef hoe belangrik dit was dat hy iets moes drink en het hom met ’n teelepel bietjies water ingegee. Na elke slukkie het ek gewag om te sien of hy dit kan binne hou.

Ons het aangehou smeek en vra, en ek glo ons was nie die enigstes nie, want sommer gou was daar ’n merkwaardige verbetering. Toe my man later by die huis kom, het hy tot sy groot verbasing gesien dat ons seun regop sit en sê: “Ek is lus vir ’n appel!”

Gebed ís kragtig. Binne twee ure het ons seun weer begin eet en drink. Hoe kan ons anders as om te glo die Here het hom genees? Voor my oë het daar ’n wonderwerk gebeur.

Ek het geleer dat seerkrytye deel is van hierdie wêreld. Gelukkig kan ons weet God is groter as enige siekte of omstandighede. Jou angs kan in ’n loflied verander. Gló dit net!