[VROUE PRAAT OOR] Om nie kinders te kan hê nie

0
3548

Sy is die vrou agter jou in die kerk, ’n kollega of ’n buurvrou. Uiterlik lyk sy tevrede, selfs gelukkig, maar vanaand huil sy weer by die Here – oor haar hartsbegeerte vir ’n kind en oor al die onsensitiewe goed wat mense sê. Die pad van kinderloosheid is ’n lang en eensame reis.

Retha Vrey, Jacoline Pretorius-Halgryn, Karen van der Merwe en Lucille Grünewald deel hulle hartseer stryd. Hulle vertel van die druk in die huwelik en van buite, van die meedoënloosheid van vrugbaarheidsbehandelings en hoe hulle die pyn verwerk.

Hoe voel jou hart daaroor dat jou arms leeg gebly het?

Retha: Ek het aanvanklik verstote gevoel, deur die Here en deur die samelewing. Asof ek nie goed genoeg is om ’n ma te wees nie. Daar is dwelmverslaafdes wat babas kry en kinders wat weggegooi word. Wat moes Hy dan van mý dink?

Miskien was dit Sy plan dat ek eerder ’n ma vir ander moet wees, want ’n ma is ’n versorger. Dit het ’n hele paar jaar gevat om by hierdie punt te kom, maar God maak jou sterker. Niemand troos soos Hy nie.

Lucille: As jy die vraag twintig jaar gelede gevra het, dan was dit anders. Daardie tyd was dit verskriklik. Ek wou so graag ’n mamma gewees het en het alles in my vermoë gedoen om swanger te raak. Nou, jare later, besef ek dit was nie deel van God se plan nie. Hy het iets beters vir my gehad. Op daardie stadium was dit net nie moontlik om dit in te sien nie.

Karen: ’n Mens voel half anders, asof jy nie deel uitmaak van die norm van die samelewing nie. Dit is so ’n algemene ding dat ’n vrou kinders moet hê. Dit voel asof mense die rug op jou draai as hulle dit hoor, omdat hulle nie met jou kan assosieer nie. Ons het vriende verloor, want almal praat oor hulle kinders en ons kan nie saampraat nie.

Jacoline: Ek was bitter, veral as ek hoor van kinders wat mishandel of weggegooi word. Hoekom? Ons wat na kinders sal kyk en wat lief is vir hulle, kan nie hê nie. Of as een van my vriendinne gesê het sy is swanger, het ek in trane uitgebars. Nie omdat ek nie bly was nie, maar omdat dit vir my gevoel het dat ons al soveel langer probeer. Hoekom is dit nie ek nie?

Waarmee vul jy die leemte sonder kinders?

Karen: Die hele proses het my nader aan die Here gebring. Dis vir my die grootste lekkerte om in die oggend stiltetyd te hou vir ’n uur of twee of selfs drie. Die situasie stel my in staat om na my ware skeppingsdoel te soek. ’n Ma met kinders het minder tyd vir haarself en vir Hom omdat alles rondom kinders baie tyd in beslag neem. Sonder hierdie verantwoordelikhede kan ’n mens ook beskikbaar wees vir ander. As een van my vriendinne ’n slegte dag gehad het, kan ek binne vyf minute by haar uitkom en haar bemoedig.

Skilder maak ook ’n groot deel van my lewe uit. Dit is deel van my reis om my dieper skeppingsdoel te vind. Een aand by my selgroep het ons oor drome gepraat. Ons drome om kinders te hê is natuurlik verpletter, maar ek het daardie aand ook gesê dat ek nog altyd wou skilder. Die groep het my aangemoedig om nie uit te stel nie en net daarmee te begin. Dit het toe my lewe in ’n heeltemal ander rigting gestuur.

Elke keer as ek ’n kindergesiggie verf, is daar iets van my eie hartseer wat loskom. Dit het ’n uitlaatklep vir my seer geword, maar ook ’n manier om vir ander kinders te bid. Voordat ek ’n kindjie skilder, skryf ek ’n gebed op die doek. My gebed is dat hulle vir Jesus sal ken en ’n pad saam met Hom sal loop. Deur my skilderwerk kom genesing, iets wat nog daagliks nodig is.

Lucille: Ek het myself in my werk ingeleef en ook baie meer tyd saam met my sussie en haar kinders deurgebring. Dit het gehelp.

Jacoline: Dit is makliker as ’n mens op die positiewe aspekte fokus, soos as mense kla oor skoolgeld en die oproepe wat hulle van onderwysers af kry, dan dink ek, dankie Vader. Hy het beter geweet. Ek kan slaap so laat ek wil en op kort kennisgewing weggaan deur slegs vinnig ’n tas te pak.

My honde is my obsessie – hulle is my babas. Ons moes ’n groter bed koop sodat hulle saam met ons daarop kan slaap.

Retha: Jy moet baie kreatief wees om daardie leemte te vul. Ek moes weer leer lag. Elke keer as negatiewe denke my wou onderkry, het ek ’n komedie aangesit of na ’n snaakse prentjie gekyk om te lag.

My man is ’n pastoor. Ons het dus ’n gemeente as familie. Daarom was en is daar ook baie mense wat ons kan versorg asof ons hulle ouerpaar is. Jy is ook ’n ma in baie ander rolle, soos ’n peetouer, tannie of selfs net die beste babaoppasser.

Daar het ’n groot ommeswaai vir ons gekom toe die Here na 21 jaar vir ons ’n dogtertjie gegee het deur aanneming. Nou besef ek daardie gat is oorvol, maar ek sal nooit vergeet hoe leeg dit gevoel het nie.

Hoe het die vrugbaarheidsbehandelings jou huwelik beïnvloed?

Retha: Jy swel op, jou hare val uit, jou vel lyk sleg en jy voel nie lekker oor jouself nie. Dan is daar die finansiële druk. Om te betaal vir ’n miskien baba, wat op ’n miskraam gaan uitloop. Ek het na een van my miskrame erge depressie gekry en dit het baie druk op my man geplaas, want hy moes my daar uithelp. Al die ander mense gaan aan met hulle lewe, so, julle het net mekaar.

My man wou nooit voor my huil nie omdat my gemoed altyd swaar was. Tot ek eendag op hom afgekom het, toe kom die besef: Hy het ook seer. Dit bind julle stywer vas aanmekaar, want jy besef dis net jy en jou man en die Here in daardie bootjie.

Die druk van buite af was amper die ergste. Almal wil hê julle moet kinders kry. Mense se onsensitiewe opmerkings en ongevraagde raad het gemaak dat ek my pyn met baie min mense kon deel. Dit maak dit ’n stil stryd.

Lucille: Vrugbaarheidsbehandelings plaas baie druk op die huwelik. Almal wil hê dit moet ’n sukses wees en julle as ’n paartjie voel oorweldig. Omdat vroue emosionele wesens is, is dit vir ons miskien makliker om oor teleurstellings te praat en dit te verwerk. Daar was baie vrae in my, op die ou end miskien dalk te veel. Nie net vrae vir mense om my nie, maar ook vir die Here.

My man moes my help. Hy moes my troos en moed inpraat. My ma en sussies was daar. Met al die ondersteuning was dit asof die eina nie meer so seer was nie. Vir my man, aan die ander kant, was dit anders. Die teleurstelling was duidelik in sy oë sigbaar, maar hy het nooit sy emosies met my gedeel nie.

Die jaar nadat die in vitro-bevrugting nie gewerk het nie, is leukemie by my gediagnoseer en ons is toe geskei. Ons was twaalf jaar getroud, maar na my diagnose het hy net uit die hospitaal gestap. Dit was die laaste wat ek hom gesien het. Hy het nooit vir my redes gegee nie. Ek weet nie of die kinderloosheid ook ’n rol gespeel het in waarom hy weg is nie. My vermoede is dat dit een van die grootstes was, want ons wou verskriklik graag kinders gehad het.

Karen: Dit vat die natuurlikheid van intimiteit ’n bietjie weg, maar dis al. Omdat ons so naby aan mekaar geleef het en deur dieselfde ding gegaan het, was daar nooit druk van my of my man se kant nie. Dit het nogal gevoel asof die samelewing meer spanning vir ’n mens skep. Vrae soos “Wanneer gaan julle kinders kry?” of “Hoekom kan jy nie kinders kry nie?” was vir my die ergste.

Jacoline: Trauma het nie dieselfde uitwerking op alle paartjies nie. Party mense kom nader aan mekaar en ander verstoot mekaar weer. Aan die begin het my man homself blameer, maar toe vind ons uit dat daar by my fout ook is. Al was dit baie erg, het dié nuus dit vir ons beter gemaak. Ons kon saamstaan.

Waarom het julle besluit om op te hou probeer?

Lucille: Ons het ’n besluit geneem dat as dit dié spesifieke keer nie sou werk nie, ons sou ophou. ’n Mens moet dit doen, want jy raak moeg en jy weet nie hoe lank jou liggaam nog alles kan verduur nie. Dis skokkend om te sien wat alles aan jou lyf gedoen moet doen word om swanger te kan raak. Die teleurstelling as alles misluk, is net te groot.

Karen: Tydens die proses van in vitro-bevrugting het die dokter vir my gesê dat hy doen wat hy kan, maar dat slegs God kan besluit of die embrio’s suksesvol sal groei. Daar was ’n klomp van my vriendinne wat vir my gebid het, en ek het dit ook in my hart vir die Here gegee. As dit sou werk, sou ek weet dit was Sy wil. Werk dit nie, sal dit die antwoord wees dat ons moet aanbeweeg. Ek was ook nie bereid om weer daardeur te gaan nie.

Jacoline: Na my laparoskopie het die dokter my ses weke gegee om spontaan swanger te raak. As dit nie werk nie, was in vitro-bevrugting die volgende stap. Hy het my gewaarsku dat die kans vir sukses bitter skraal was.

Dit was ’n lang pad. Ons was op dosyne pille en hormoonbehandelings. Toe ons nie vanself swanger geraak het nie, het my man my net op ’n dag gevra of ek kans sien om weer deur alles te gaan. Die antwoord was nee. ’n Mislukte swangerskap sou my breek. Dit was asof dit toe ’n keerpunt gebring het. Van daar af was die hartseer minder wanneer ander mense om my swanger geraak het. Die besluit het vrede gebring.

Retha: Stadium vier-endometriose is op 21 by my gediagnoseer en sewentien laparoskopieë later het die laaste een op ’n nood-histerektomie uitgeloop. Ons is deur vier in vitro-behandelings met gevolglike miskrame. Twee drielinge, ’n tweeling en daarna een baba. Tussendeur die behandelings het vier aannemingspogings ook nog deur die mat geval. Genoeg is genoeg, ons harte kon nie meer nie. Die mense om ons kon ook nie meer nie. Jy ken jou perke. Ek en my man het geweet tot waar ons kon gaan. Jy kom op ’n plek waar jy sê jy gaan die pad verder sonder ’n kind stap.

Watter sosiale geleenthede is vir jou ’n uitdaging?

Retha: Aan die begin toe dit nog baie rou was, was dit vir my baie moeilik. Veral kuiers by vriende wat kinders het, omdat hulle nogal geneig is om baie oor hulle kinders te praat. Gedurende behandelings onttrek jy jou weer en is baie kieskeurig oor uitnodigings. Daar is sekere sosiale geleenthede wat totaal vermy word. Mense moes my nie eens na ’n inseëning, kinderpartytjie of babatee toe nooi nie. Waaroor gaan ons praat? As ek oor my honde gesels, sal ons nie met mekaar kan identifiseer nie.

Later wil jy nie eers meer van ander mense se kinders hoor nie. Partykeer het dit gevoel asof van my vriendinne wat kinders het, se aandag verdeel was as ons gesels. Noudat ek aan beide kante staan, verstaan ek dit.

Lucille: Soms het mense net te veel geraak. Ek het dikwels weggehardloop en myself vir ’n paar minute in ’n toilet toegesluit. My eks-skoonma het eenkeer na my toe gekom en vir my gesê sy moet my iets vertel. “Moet net nie vir my vra om weer ’n babatee te reël nie,” het ek toe gesê. Haar oë het net gerek, want my skoonsussie het agter my gestaan en sy was swanger.

Jacoline: Dis baie beter nou. Vroeër was dit vir my moeilik om in die geselskap te sit en luister na alles wat die kinders doen en hoe fantasties hulle is. Nou sit ek my eintlik en verlekker. Terwyl die ma’s rondhardloop en die een se seuntjie huil, kan ek ontspan en rustig wees.

Karen: ’n Doop is vir my moeilik. Ek het een oggend by ’n kinderdoop in trane uitgebars, opgestaan en uitgeloop. Dit is ook deel van die proses van genesing. Die feit dat dit jou daaraan herinner dat jy nooit die voorreg gaan hê om ’n kind groot te maak in God se weë nie. Die hartseer kant daaraan is dat baie mense wat daardie gelofte aflê, dit nie ernstig genoeg opneem nie. Baie mense skei ook later. Dit is vir my sleg om te sien dat beloftes wat oor ’n kind gemaak word, nie altyd nagekom word nie.

Nou is my pyn ook genees en kan ek by ’n kinderdoop spesifiek intree vir die ouers en vir die kinders, al is dit nie my kind nie.

Soms, as ek in ’n restaurant ’n gesin sien wat mekaar geniet en saam eet, dan tref dit my – die wete dat ek dit nooit gaan hê nie. Dit is maar ’n blywende seer. ’n Mens maak ook mettertyd vrede daarmee en gaan aan met jou lewe.

Het jy of sal jy ooit aanneming oorweeg?

Karen: Glad nie. Ek sou dit dalk nog oorweeg het, maar my man was nie te vinde daarvoor nie en ek respekteer dit.

Jacoline: Ons doen pleegsorg. Vakansies en party naweke kry ons ’n seuntjie. Ons het dit op ’n stadium oorweeg om hom aan te neem, maar iets het voorgeval wat ons toe daarteen laat besluit het. Dis vir my man erg. Hy dink ek het te gou handdoek ingegooi, maar die aannemingsproses is vir my presies soos die stryd om swanger te raak. Dis mislukking op mislukking.

Ons maak seker dat ons hom baie sien. Hy het ’n sussie wat in permanente pleegsorg is en ons reël ook gereeld kuiers vir hulle twee saam.

Lucille: Ons het dit oorweeg. Die koste van inseminasie en aanneming is ewe hoog, daarom het ons besluit ons wil eerder ons eie kind hê.

Later het die Here die wonderlikste, dierbaarste man op my lewenspad gebring. Saam met hom het ek twee pragtige seuntjies ryker geword. So, my vervulling is daar. Sy kinders voel soos my eie. Ons doen huiswerk saam, dans en ry rond. Dit het baie natuurlik gebeur.

Retha: Vroeër jare het ons daarteen besluit. Ons wou ons eie kind hê wat soos ons lyk. Na my nood-histerektomie het dit vir my gevoel asof ek ’n droom doodgemaak het. Al die gereedskap om ’n baba te kon hê was weg. Ek was ’n versorger en mamma vir almal om my, maar my huis was te stil.

Aanneming is soos al die behandelings – baie moeisaam. Toe die een poging na die ander misluk, het dit gevoel asof ons wil doodgaan van die pyn. Ons is Zanzibar toe om alles vir die Here te gee en weer heel te word. Nege maande na daardie vakansie het ons Zoe gekry.

Dit was die heel beste besluit ooit, want haar en ons toekoms het drasties verander. Kyk, dit was ’n massiewe aanpassing. Vir meer as twintig jaar was dit net ons twee. Ek was op my knieë voor die Here vir ’n kind, en nou is ek nog meer op my knieë. Dit is baie harde werk om ’n ma te wees.

Vandag kan ons God se doel agter al pyn sien. Dit het alles oor haar gegaan. Zoe voel nie soos my aanneemkind nie. Ek is haar eie mamma.

Het julle ’n goeie ondersteuningsnetwerk gedurende die proses gehad?

Jacoline: Ek wou dit nie juis met baie mense deel nie, meestal om hulle die teleurstelling wat ons gevoel het te spaar. ’n Uitgesoekte vriendin en my broers is al vir wie ons eintlik gesê het. Sommige mense verstaan nie sulke goed nie. My pa is nog steeds onder die indruk dat ons nie kinders wou gehad het nie.

Karen: Sonder die mense na aan ons sou ons dit nie kon doen nie. Dit was baie belangrik.

Soos die jare aangegaan en ek nuwe vriendskappe ontwikkel het, was dit verbasend hoeveel vroue daar is wat nie kan swanger raak nie. In my vriendekring is daar talle sulke vroue. Dit help baie om met iemand te gesels met wie jy jou kan vereenselwig.

Retha: Ons het ons pyn met ’n kerngroepie gedeel wat saam kon bid en wat saam die pad gestap het. My boetie en my ma was fantasties. Op die ou end is die ondersteuning oor die algemeen eintlik min. Die druk wat jy ondervind, van die samelewing en van jouself, is baie groter. Ek is tans besig om ’n boek te skryf oor alles. Mense moet bewus gemaak word van die gebrokenheid van kinderloosheid. Wat die regte en die verkeerde woorde is om te sê. Mense weet nie altyd wat só iemand nodig het nie.

Dis ’n private en ’n stil pyn, want jy wil nie altyd daaroor praat nie. Mense sê onvanpaste goed, terwyl die regte gebaar van liefde en begrip jou ’n goeie stoot vorentoe kan gee. Soos een Moedersdag. Ek het verkies om eerder by die huis te bly, want elke ma in die kerk kry ’n roos. En ek is nie ’n ma nie. Op dié dag stuur die kinderkerk-juffrou toe saam met my man ’n groot bos rose. Sy het geweet van my kinders in die hemel. Die roosblare is steeds in my Bybel. Haar gebaar het ongelooflik baie troos gebring.

Lucille: Ons is ses kinders, so, daar was meer as genoeg ondersteuning. My familie was wonderlik.

’n Hegte verhouding met die dominee het ook gehelp, want ’n mens raak kwaad. Veral vir die Here. Op my siekbed het ek anders na die lewe begin kyk. As ek kinders gehad het, sou iemand vir die jaar wat ek in die hospitaal was, na hulle moes omsien. Soos jy ouer word, kry jy vrede in jou hart. Dit vat lank, maar jy kom daar.