Vroue praat oor… Oorwin

0
277

Soms skyn die son helder, ander kere val daar skaduwees oor jou. Verandering, verwerping, tekortkominge en mislukkings kom staan in ’n ry. Sulke tye kos dit deursettingsvermoë en daadwerklike keuses om die stryd te wen.

Jy kan dit doen! Jy is meer as net ’n doodgewone vrou – jy is bedoel as ’n seën vir ander. Jou hart, die kern van wie jy is, kan baie dinge te bowe kom. Dit is die oorsprong van jou kreatiwiteit, krag en oortuigings.

Ses bekendes vertel hoe hulle ’n inspirasie wil wees, maar erken dat hulle ook eers deur sekere kwessies moes werk.

Verandering beteken daar kom iets beters

ELMA POSTMA

Daar is seker nie ’n mens wat nie voor verandering te staan kom nie. Vir sommige vroue is dit bloot ’n fase in hulle lewe, vir ander is dit ’n nimmereindigende kronkelpad. Daarom glo ek daaraan om elke dag te improviseer – jy kan immers niks voorspel nie!

Ek was nie altyd lief vir die verhoog nie. Toe ek ’n kleuter was, was ’n gehoor vol toeskouers my heel grootste vrees. Dit was so erg dat ek ’n kalmeerstroop en sielkundige ondersteuning nodig gehad het om aan die verhoog gewoond te raak.

Dit is natuurlik glad nie ongewoon dat akteurs soms introverte agter die skerms is nie. Ek moes baie tyd en energie daaraan bestee om my selfvertroue op die verhoog te bou. Maar ek het dit gedoen en dit het gewerk! Later het ek selfs eerder drama as arbeidsterapie gaan studeer.

Vandag kyk ek terug en sien hoe verandering gesorg het vir wysheid wat ek andersins nie sou gehad het nie.

Na ’n rol in die toneelstuk Monsters is ek gedwing om grense oor te steek wat ek nie gedink het moontlik is nie. Teater en toneelspel, wat merendeels geskoei is op veranderlikes, is baie waardevol. Dit help my om my onmiddellike omstandighede, wat binne ’n oogwink kan verander, te stuur.

Daar is mos altyd die twee kante van ’n muntstuk. Al veroorsaak enige verandering onsekerheid, help dit ook om jou opnuut te wys hoeveel oorlewingskrag daar in jou verskuil is. Soos die keer toe ’n leeu my aan die hand gebyt het en ek steke moes kry. Of toe my ouers gebel het om van die groot K te vertel.

My pa, Fanie Postma, het prostaatkanker gekry. Die siekte, wat niemand kan ignoreer nie, het ons gesinslewe en my eie prioriteite positief beïnvloed. Sukses, werk of bekendheid was skielik nie meer so belangrik soos verhoudings nie.

Baie mense skram weg van verandering of beskou dit as uitdagend of vreesaanjaend, maar dit is net ’n manier waarop die Here eintlik wil sê: “Daar lê iets mooiers en groters vir jou voor.”

Oorkom verwerping na ’n mislukking

ELIZMA THERON

Elke vrou wil graag weet dat sy oukei is. Dat sy aanvaar word net soos sy is en dat daar niks met haar verkeerd is nie.

Gevoelens van minderwaardigheid laat ’n mens maklik na elke mislukking vra: Wat het ander wat ek nie het nie? Is ek te vet? Te moeilik? Hoekom word my droom nie bewaarheid nie?

So het ek ook agter ’n toe kamerdeur in my ouerhuis gewroeg oor die lewe. Die droom van ’n musiekloopbaan het heeltemal buite bereik gelyk. Gedagtes oor mislukking het my verteer. Die gevoel dat ek die Here en my ouers teleurstel, was soos ’n swaar, donker jas wat ek elke dag oor my skouers moes gooi.

Na baie gebede, op die regte tyd, het die geleentheid hom voorgedoen om by ’n platemaatskappy te begin werk. Nou wel nie om te sing nie, maar om hier en daar grondvloerwerk te doen. Dit was waardevolle ondervinding.

Later het ek ook modelwerk gedoen – en ondervind hoe meisies aanhoudend verwerping moet verwerk. ’n Mens maak natuurlik ook self die fout om jou met ander te vergelyk en dan sleg te voel oor jou tekortkominge.

Vandag nog sal sulke gedagtes my tyd steel wanneer ek wonder of ek die regte liedjie gesing het, ’n goeie vertoning gelewer het of die regte keuse gemaak het. Dit is in hierdie tye dat ek myself van voor af daaraan moet herinner dat ek al weer op “ek” fokus, en nie op God nie.

Ons weet Jesus het die grootste verwerping deur sy eie Vader beleef sodat ons nooit daardeur hoef te gaan nie. Hierdie sekerheid is nie op gevoel gegrond nie, maar op vir seker weet.

Ná jare se mislukte verhoudings kan ek nou dankie sê vir my kosbare gesin en bely dat ek spesiaal is; Sy kosbare kind.

Dit beteken nie jy gaan nooit weer minderwaardig voel of jouself glad nie meer aan wêreldse standaarde meet nie. Nee. Jy weet nou jy is uniek, presies nes jy bedoel was om te wees, volgens Hom.

My hartsmense inspireer my

ANEL ALEXANDER

Ek voel ongelooflik bevoorreg om te kan sê dat die vroue wat my die meeste inspireer, die vroue die naaste aan my is: my ouma, my ma en my sussies.

My hartsmense straal almal ’n vroulike wilskrag en sagte teerheid uit. Tot vandag toe, wanneer die uitdagings my wil oorweldig, dink ek aan hoe ouma Maxi moeilike omstandighede in haar lewe hanteer het.

My ma, Marlene, is ’n busybody wat niks wil misloop nie. Ek het vir seker my FOMO (Fear Of Missing Out) by haar geërf. Sy het net ’n manier om die murg uit die lewe te suig – letterlik en figuurlik. Sy kom uit Namibië en kan ’n skaapkop skade aandoen!

By haar leer ek wat dit beteken om regtig empatie te hê. Sy gee haarself met oorgawe aan die mense om haar en alles wat die lewe het om te bied.

My ouer sussie, Marilet, het die drie mooiste dogtertjies in die hele wêreld. Daar is min mense wat hulle gemeenskap, geliefdes en familie so toegewyd en onselfsugtig dien soos sy. Sy is ’n ongelooflike ma – ek is verstom oor die liefdevolle en kreatiewe manier waarop sy haar meisiekinders grootmaak.

Ons “babasussie”, Pulane, het ontwikkel in ’n verstommende go getter-vrou. Sy is sterk en ontsettend vindingryk. Ek vergaap my altyd aan hoe sy ’n plan kan maak om enigiets te laat werk.

Dit verg ’n spesiale tipe deursettingsvermoë om in Johannesburg vroualleen as aktrise te oorleef, en Pulane doen dit met flair. Dis wonderlik hoe sy haar eg-wees uitleef.

Ek en my man, James, woon in Los Angeles. Noudat ek aan die ander kant van die wêreld bly, besef ek watter voorreg dit was om met sulke formidabele vroue rondom my te kon grootword. Hulle inspireer my!

Bekoorlike vrouwees is in die klein goedjies. Jy hoef nie ’n kuur vir kanker te ontdek of sewe weeskinders aan te neem om ’n inspirasie te wees nie. Begin by die mense om jou. Dis al wat Hy vra: om ’n verskil te maak in jou eie klein kringetjie.

Aanvaarding en egtheid verryk julle verhouding

ILSE ROOS

In die begin is julle smoorverlief en dink nie aan wat oor twintig jaar gaan gebeur nie. Al lyk die toekoms ook hóé onseker, maak julle blinkoog beloftes aan mekaar.

Dan begin die saamgroei-reis. Ons kan ons maklik blind staar teen die amper idilliese beeld van ’n verhouding wat ná baie jare steeds net uit passie en vuur bestaan. As dit dan nie so gebeur nie, voel ons iets skort.

Die waarheid is dat die band tussen twee mense na ’n tyd uit baie meer as net verliefdheid bestaan. Dan is egte vriendskap en dat julle van mekaar hóú, die belangrikste faktor in die verhouding.

Vir baie vroue is dit nie snaaks dat hulle mans dae, weke of maande aaneen weg van die huis is nie. My man, Gary, moes ook ’n ruk lank in Nigerië woon en werk.

In sulke tye moet ’n mens weer diep gaan delf en vasklou aan die beloftes wat julle heel aan die begin aan mekaar gemaak het. As daardie beloftes eg was, sal geen afstand tussen jou en jou man ooit te ver wees nie. Egtheid in ’n verhouding verdryf jaloesie.

Trouens, ek dink dat gesonde afstand en ruimte perspektief skep. Julle kan nie na soveel jare elke sekonde van die dag by mekaar wees nie, al blom die liefde hóé sterk! Afstand is belangrik én gesond.

Jy moet eerlik kan sê wanneer jy ruimte nodig het of wanneer jy nie aan gekarring wil word nie. Dit geld natuurlik vir al twee van julle. Na jare van saamleef sal jy ook besef wanneer jou maat ’n stil tydjie nodig het. Dan moet julle kan begryp van waar af dit kom en mekaar help sonder om geaffronteerd te voel.

Jy is dalk jonk en verlief. Of jy vier binnekort jou goue bruilof. Dit maak nie saak waar julle nou is nie. Aanvaar mekaar en wees innig dankbaar vir mekaar. Maak egtheid deel van julle verhouding, dan sal die passie ook altyd daar wees.

Fokus op die mooi dinge

NADIA VALVEKENS

Dit was ’n doelbewuste keuse om gelukkig te wees. Hartseer en pyn sal daar altyd wees, net in verskillende gedaantes. Dit is onvermydelik, maar gelukkig nie onoorkombaar nie.

Jy het altyd ’n keuse om ’n slagoffer van jou omstandighede te wees of om daarmee klaar te speel. Hartseer en pyn mag jou nie definieer nie. Dit is belangrik om negatiewe emosies en gebeure te verwerk, maar jy moet keer dat dit jou vashou.

Persoonlike tyd elke dag is broodnodig. Jy moet jouself gereeld afsonder en net stil raak. Maak dit ’n manier van bid, dan kry jy nuwe perspektief.

Wanneer daar nou struikelblokke in my lewe is en ek dit op hierdie manier benader, ervaar ek Sy seën. Dit is asof Hy die lyne inkleur sodat ek die groter prentjie weer duidelik kan sien.

Jy kan ook besluit om dankbaar te wees vir struikelblokke en om dit dapper aan te durf. Dit kom natuurlik nie sonder ’n prys nie, dit gaan van jou vra om keuses te maak. Om vorentoe te tree en uit die put van selfbejammering te klim. Na elke oorwinning, hoe groot of klein ook al, sal jy sien hoeveel wysheid en insig jy gekry het.

As vrou het ek en jy die voorreg om die wedloop van die lewe te hardloop. Ons is voorbeelde vir ons vriendinne, lewensmaats of selfs vreemdelinge. Dit is soos ’n hinderniswedloop – hoe kan ons aanhou hardloop wanneer ons nie die struikelblokke oorsteek nie?

Omdat dit my ingesteldheid is, verwelkom ek elke uitdaging of seerkry wat my mag oorkom. Dit help my ook om ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak.

Sommer vroeg in my lewe het ek, sonder om die seer in die lewe mis te kyk, besef watter kosbare en wonderlike ervarings daar is. Ek het toe al besluit om eerder op die seën van die lewe te fokus. Om gelukkig-wees te kies.

So ’n houding gaan nie moeilike uitdagings, siektes of pyn van jou af weghou nie, maar dit sal tye van herstel omskep in geleenthede om weer perspektief te kry. Dan kan jy voluit leef.