Vroue praat reguit… Studies, pret en studentwees

1159

Studentejare klink meestal na pret, maar voel alle studente werklik so? Is daar nie dalk
party studente wat eerder moedeloos voel met die vreemde omgewing en alles wat van hulle
verwag word nie? Skielik moet jy jou ruimte met nuwe mense deel en moet jy self al die
verantwoordelikheid dra vir jou studies en tydsbeplanning. Dis oorweldigend! Ons het met vier studente, Nonnie Ncibisane (politieke wetenskap), Mareli Golden (onderwys), Jessica
Boyd (regte) en Elizmari Rootman (mikrobiologie) gaan gesels om uit te vind hoe hulle diep
in hulle harte oor studentwees voel.

Is dit moeilik om op universiteit aan te pas?

Elizmari Omdat ek van ’n klein dorpie af kom, was dit nogal erg om die eerste keer universiteit toe te gaan. ’n Mens is maar bang.

Om skielik op ’n nuwe plek te wees waar jy omtrent net tien mense ken, was vir my ’n groot skok. Soos die tyd aanstap, raak jy darem gewoond daaraan en gelukkig hou ek van nuwe ervarings. Die koshuislewe het dit ook baie makliker gemaak, omdat daar ’n klomp mense is wat net soos jy voel. Jy is nie alleen nie.

Jessica Omdat my sussie voor my universiteit toe is, het ek vir vier jaar alleen in die huis gebly. In die eerste jaar op universiteit moes ek skielik ’n kamer deel met iemand wat twee meter van my af is. Dit was ongelooflik moeilik en het my moedeloos gemaak.

Ons is wel nou beste vriendinne, maar omdat sy grafiese ontwerp swot, het dit nie goed saam met my perfeksionisme gewerk nie. Daar het oral kleipotte rondgestaan en al die ligte moes aan wees anders is daar skaduwees op haar werk. Ons kon nie vriendinne wees terwyl ons in dieselfde kamer bly nie, en dit het ons al twee baie hartseer gemaak. Toe sy uitgetrek het, het ons agtergekom hoe lief ons eintlik vir mekaar is.

Wat ook aan die begin moeilik was, was al die geluide in die koshuis wat my uit die slaap gehou het – die trein ry verby en deure slaan toe. Dit was moeilik om wakker te bly in die klas en met koshuisaktiwiteite. Maar namate jou sisteem aan die nuwe plek gewoond raak, raak jy ook gewoond aan die geluide.

Nonnie Dis nou nog vir my moeilik om aan te pas. Dit lyk my net nie ek kry dit reg nie. Dit was makliker toe ons net op skoolwerk hoef te gefokus het. Nou moet ek allerhande kulturele aktiwiteite ook doen en dit is alles nuut, maar een van die dae sal dit seker beter begin gaan. Ek hoop regtig so, want dis moeilik.

Mareli Omdat ek op skool reeds in die koshuis was, was dit nie so moeilik nie. Waar dit wel alleen gevoel het, was in die Puk se koshuis, omdat daar geen bekendes was nie. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek moes leer hoe om vriendinne te maak, behalwe natuurlik in die kleuterskool. Maar daar speel ’n mens net, so hierdie was regtig iets nuuts en anders. Dit vat jou heeltemal uit jou gemaksone uit.

Hoe kry ’n mens tyd vir alles op universiteit?

Nonnie Dis nogal moeilik. Dit werk vir my goed as ek weet dat ek net moet oefen en leer, maar soms gebeur daar soveel goed dat dit moeilik is om te bly fokus op wat belangrik is. Ek sukkel erg daarmee. Dis lekker om besig te wees en om te prioritiseer, maar soms skrik ek eers agtuur wakker as my toets vyfuur is, en dis nie goed nie.

Partykeer vergeet jy ook net om te leer. Daar is net te veel goed.

Elizmari As daar geleer moet word, dan leer ek. Dis lekker om saam met my vriendin, Cara, te leer, want ons het dieselfde tipe aandagspan.

As die een ’n breek wil vat, voel jy sleg omdat die ander een nog leer. Op hierdie stadium bestaan my studiegewoontes eintlik nie, want my leerpatrone is altyd anders.

’n Mens leer maar om vinnig te swot, want deesdae moet ons voor elke prakties ’n toets skryf – dis elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag. Partykeer het ek letterlik net ʼn uur om te leer vir ’n toets en dis maar stresvol. Daar word baie van jou verwag.

Jessica Tydsbestuur is baie, baie belangrik. Dis jou tyd en jy besluit hoe jy dit gaan deurbring. As jy nie jou tyd goed bestuur nie, kan die gevolge daarvan nogal erg wees.

Soms is dit belangrik om te gaan sit en dink hoe laat jy dit gaan doen en hoe laat jy dat gaan doen. Dan is jy ten minste voorbereid.

As jy dit nie doen nie, beteken dit maar net dat jy gaan agterraak en dat jy uiteindelik nie meer sal kan inhaal nie.

Daardie risiko is net te groot. ’n Mens wil nie jou tyd hier mors nie.

Is jou hart rustig oor jou studierigting en toekoms?

Mareli In my eerste jaar het ek begin met BCom Menslike Hulpbronnebestuur en het toe in die helfte van die jaar besef dis glad nie vir my nie. Myns insiens was dit die perfekte werk vir ’n sagte mens soos ek, want al wat jy moet doen, is om almal gelukkig te hou. Toe is dit nou glad nie so nie. In daardie tyd het ons op ʼn uitreik gegaan waar ons vir kindertjies skoolgehou het en toe weet ek net my studierigting moet verander word.

Dit was die heel beste besluit van my lewe.

’n Mens is maar skrikkerig om vir jou ouers te sê dat hulle so pas ’n jaar se studiegeld op jou gemors het, maar dit het tog gevoel soos die regte ding.

Die toekoms maak my nie baie bekommerd nie, want as ’n mens passie het vir wat jy doen, sien ander dit altyd raak.

Jessica Van die begin af was dit my eie keuse wat ek wou gaan swot, omdat daar in my rigting regtig die kans is om verandering teweeg te bring.

My ouers het nooit eers enigiets daaroor gesê nie, hulle het my net ondersteun. Ek is so lief vir hulle.

Hulle is super-ondersteuners en is opgewonde saam met my. My hart is so dankbaar vir hulle. Hulle bid saam met my en stuur vir my boodskappe elke liewe oggend om sterkte te sê.

Ek is rustig oor my toekoms, want ons het grootgeword met die idee dat daar vir almal ’n plekkie in die son is. Daar is altyd plek vir iemand wat hard werk en goeie werk doen, so, dis eintlik opwindend om te sien wat gaan gebeur. Nadat my studies afgehandel is, wil ek wel eers vir ’n paar jaar oorsee gaan.

Nonnie Ek wou nog altyd net chill, maar moes iets doen waarmee my ma en pa tevrede sou wees. My ma is baie godsdienstig en my pa is polities. Dis die lekkerste om pappa se engel te wees, toe gaan ek maar eerder vir politiek. Aan die begin het alles daaroor gegaan om my ouers trots te maak en nie regtig om myself trots te maak nie.

’n Mens kan nie ’n groter fout as dit maak nie.

Op die ou end het dit my begin boei en was dit dalk al die tyd ʼn bedekte seën. Dit is soms vreesaanjaend om te dink dat ons eendag dalk nie gaan werk kry nie. Politiek is ’n rowwe rigting – jy kry nie maklik werk nie, tensy jy ’n tannie ken wat jou inglip. Gelukkig het ek toe ’n beurs gekry waarvoor ’n mens drie jaar moet terugwerk, daarom is ek nou verseker van ’n werk. Dit maak my rustiger.

Elizmari ’n Mens raak soms bekommerd oor jou toekoms, want met mikrobiologie en fisiologie is daar nie baie laboratoriums waar jy sommer maklik kan inkom nie. In my eerste jaar het ek in ʼn laboratorium gewerk by Monsanto. Hulle het toe vir ons gesê dat as jy nie jou honneurs doen nie, die kans vir werk nog skraler is.

Maar dis oukei, want toe ek ’n rukkie terug wiskunde en Engels vir skoolkinders gegee het, was dit ontsaglik lekker. As BSc nie vir my uitwerk nie, sal ek onderwys toe gaan. Om ’n diploma te gaan doen in kliniese tegnologie waar jy leer om masjinerie te hanteer, is ook vir my ’n opsie.

Daar is gelukkig ’n plan A, B en C vir my toekoms. Natuurlik hang alles ook af van waar jy uiteindelik beland. Dalk bly ek eendag in die middel van die Karoo waar daar nie ’n enkele laboratorium is nie. Wat doen jy dan? Dis hoekom plan B en C belangrik is. Dalk trou ek nog met ’n Ier en dan werk niks van my plannetjies uit nie. Dit help ook nie om te veel te beplan nie – ’n mens weet nooit hoe die lewe gaan verloop nie.

Hoe leer jy met soveel kuier-geleenthede?

Mareli Dis belangrik om ’n balans te probeer vind, want daar is talle keuses wat ’n mens elke dag moet maak. Jy moet besluit hoeveel jy gaan swot, hoeveel jy gaan kuier en by hoeveel koshuisaktiwiteite jy betrokke gaan wees. Die beste is om ’n bietjie te werk, ’n bietjie te kuier en ’n bietjie vir die koshuis te doen.

Ek vra my maar net altyd af wat die regte ding sal wees om te doen in enige situasie.

Dis maar hoe ek my pad stap. Dit is wel soms moeilik om nee te sê vir jou vriende, maar partykeer is dit nodig, soos as jy die volgende dag ’n toets skryf.

Aan die ander kant, as jy aan niks deelneem nie en net daar rondsluip, is dit ook nie lekker nie, want niemand weet dan van jou nie. By hoe meer dinge jy betrokke is, hoe lekkerder word die koshuislewe.

Nonnie Ja, jy moet seker ’n balans handhaaf, maar vir my is dit beter om onder druk te werk. Die motivering is baie groter om te werk as daar min tyd oor is om dit te doen.

Ek glo nie regtig aan balans nie, want as ’n mens aan die toekoms dink, is iets soos networking in elk geval baie belangriker.

Jessica Dis vir my baie moeilik om te gaan werk eerder as om saam iemand koffie te drink, te gesels of buitekant te gaan sit. Dis dan so lekker. Die versoeking is soms baie sterk, maar jy weet ook wat die gevolge gaan wees as jy nie selfdissipline het nie.

Daarom moet jy maar partykeer iets opoffer om jou werk te doen, al is dit ook hoe moeilik. Vir my is dit beter om nie onder druk hoef te werk nie – dis maar net beter om te beplan en vooruit te werk. Dan voel ek oor die algemeen rustiger.

Elizmari Ek het daardie ding wat ’n mens FOMO noem: Fear of missing out. Jy wil tog nie enigiets misloop nie. Partykeer is dit regtig moeilik om te besluit of jy gaan leer of kuier, maar as jy môre ’n toets skryf, is dit nie baie slim om te gaan kuier nie.

Ons het eenkeer ’n informal gehad op ’n Maandag en Dinsdag moes ek die grootste projek van my lewe inhandig. Dit het gelukkig nie gemaak dat ek enigiets hoef op te gee nie, want die projek was Sondag al klaar sodat ek Maandag net die aand kon geniet. In hierdie geval was dit goed om vooruit te werk.

Beplanning is alles as jy verantwoordelik wil wees en steeds jou studentejare wil geniet. Dis belangrik, veral in jou derde jaar. ’n Mens moet ook maar groot en verantwoordelik raak soos die jare aanstap, sodat jy uiteindelik iets van jou lewe kan maak.

Aan die ander kant wil jy ook nie ’n sluiper in die koshuis wees nie. Dis nou iemand wat aan niks deelneem nie. Jy wil vanselfsprekend deelname hê sodat jy volgende jaar weer in die koshuis kan wees. Dis lekker om goed saam jou maatjies te doen en sommer die lewe te geniet. Om jou tyd mooi tussen alles te verdeel bly partykeer regtig moeilik.

Is dit waar dat meisies mollig raak op universiteit?

Mareli Die kos wat ons kry, is lekker, maar die pampoen het baie suiker in en die boontjies het baie botter in. As jy gesonder wil wees, sal jy jou eie kos in die kamer moet maak. Daar is net nie altyd tyd nie en dis baie skottelgoed. Niks sal ooit by jou ma se kos kom nie, maar die eethuise probeer hulle bes om dit soos mamma-kos te laat proe, en dis dalk waar die probleem lê.

Jessica In die begin verloor jy baie gewig, maar as die klasse eers begin, raak ’n mens verskriklik besig met jou studies en al die koshuisaktiwiteite. Op skool het ek netbal gespeel en landloop gedoen, maar in my eerste en tweede jaar was daar nie tyd vir sport nie. Ek het vir seker gewig aangesit, nie omdat ek slegte eetgewoontes aangeleer nie, maar omdat daar net regtig nie tyd was vir oefening nie. Dis baie frustrerend, omdat jy dit sien gebeur, maar jy kan nie regtig iets daaraan doen nie.

Elizmari Omdat ons koshuis nou baie klein is, het hulle my nodig vir omtrent al hulle sport. Jy bly aktief, want daar is elke aand ’n ander tipe sport. Maar ’n mens se prioriteite verander ’n bietjie, want jou afrigter is nie gepla of jy kom oefen nie. As jy nou nie by die gim uitkom nie, is dit jou eie probleem, maar as jy op skool nie gaan hokkie oefen het nie, is jy uitgetrap. Jy moet nou jou eie motivering vind en veral aan die begin sukkel die meeste meisies baie daarmee.

Nonnie Gewoonlik is die eethuise net twee uur oop en as jy in daardie tyd dalk klas het, kan jy nie daar uitkom nie. Dan moet jy maar droëvrugte, ’n pakkie Lay’s of speckled eggs eet. Dis oukei, want die sjokolade laat jou sommer beter voel. Dit is wel duurder, maar wat moet jy doen as die eethuis nie oop is nie?

My ouers het al vir my vrugte en groente gekoop wat ek in die mikrogolf kan stoom.

Dit smaak nooit lekker nie, maar ’n mens moet eet. Die goed is erg buite jou beheer en dit maak alles net nog moeiliker.