Vroue praat reguit… verslawing

1725

Een ding wat soos ’n paal bo water staan, is dat dwelms gebruik word om emosionele pyn te verdoof. Hier is vyf vroue se stories – rillers oor tik, alkohol, selfs heroïen.

Ek het gebedel en op straat geslaap

Daniela Beukman

Net verlede jaar alleen het ek veertien vriende as gevolg van oordosisse verloor. Presies waarheen ek op pad was.

Laer as laag kon die spiraal in daardie stadium nie meer gaan nie. Bedags was ek aan die bedel vir geld vir dwelms, snags was ek uitgelewer aan die koue en gevare wat ’n daklose vrou op straat moet trotseer. My wonderlike man en familie het die toutjie getrek – ter wille van hulleself en van my. Tough love is die enigste opsie wat uiteindelik oorgebly het.

Dis eers in rehab dat ek my lewe die eerste keer in perspektief kon sien. Eers dáár het die lig vir my opgegaan! Die verslawing was ’n manier om die pyn minder te maak. Die eintlike probleem was dat daar baie goed in my verlede was wat ek nooit verwerk het nie.

Dit het tyd geword om eerlik te raak oor wat werklik aan die gang was. Ek moes vrede maak met mense en dinge uit my verlede. Myself vergewe vir goed wat ek in die verlede en tydens my verslawing gedoen het. Daar was geen ware persepsie oor wie ek is en wat my waarde as mens is nie.

Dis nou al twee jaar dat ek skoon is en soms is dit steeds ’n daaglikse stryd. Basies gaan dit daaroor om die lewe te hanteer en nie op krukke soos dwelms te steun omdat jy nie kans sien om die werklikheid in die oë te kyk nie. Met die ondersteuning van my man, familie en baie ander mense voel ek nou fantasties.

Ja, heroïen, waaraan ek verslaaf was, is een van die vernietigendste dwelms wat daar is. Baie sterf. Omdat ’n mens fisiek so afhanklik daarvan raak, is dit verskriklik moeilik om te los, maar dit is wel moontlik. Daar is altyd hoop.

Dit sou beter gewees het as hy dood was

Maggie Titus

As daardie lus vir tik iemand oorval, is daar niks wat dit kan keer nie. Hulle raak heeltemal deurmekaar. Gevoelloos en gewetenloos. My seun sou enigiets vat net om geld in die hande te kry – my kastrolle, breekgoed. Sonder om te blik of te bloos sou hy net ontken dat hy dit gedoen het al het hy geweet ek weet. Dit het hom gewoon nie sleg laat voel nie.

Toe alles in die huis verkoop is, begin hy ander mense se goed steel. Word gevang nadat hy en vriende by ’n kar probeer inbreek het. Kry agtien maande, dien net agt daarvan uit. Dit was die hartseerste tyd in my lewe. Ons was nie gewoond aan sulke goed nie. Dit is nie hoe ek grootgeword en hy grootgemaak is nie.

So het dit baie lank aangehou. Dan is hy by die huis, dan raak hy weg. Soms vir drie, vier dae. Vergeefs sou ek rondvra, net om later te dink dit sou amper beter wees as hy dood was, want dan kan ek hom begrawe en ten minste weet waar hy is. Daardie rondswerwery was verskriklik. As hy terugkom nadat hy weg was, sou hy baie nederig wees, my voete was en huil, maar dan gaan hy maar net terug na sy ou weë.

Hy moes uit die omgewing en ver weg van sy vriende kom. My raad was op en dis toe dat die Here ingegryp het. Hy het ’n werk ver van hier gekry. Hy moes ryloop, maar by elke dorpie het hy laat weet hy is veilig. En daar, ver weg van ander, het hy vrede gevind.

Soos hy self sê: “As ek nie daar uitgekom het nie, sou ek in die tronk, mal of dood gewees het.” Genadiglik is ons dit gespaar.

As hy kon, sou hy die yskas ook wegdra

Charmaine Adams

So gepraat van jou huis rot en kaal besteel, hy het dit letterlik gedoen. Die mikrogolf, TV, ketel… As hy die yskas alleen kon dra, was dit ook weg.

Nou kan ek amper lag kry vir die yskasstaaltjie, maar dit was tóé glad nie snaaks nie. Nie as jy doodmoeg van die werk af kom en dit waarvoor jy so lank gespaar het, is net weg nie.

Verslawing is nie kinderspeletjies is nie, inteendeel, dis verskriklik om die man met wie jy graag die res van jou lewe wou deurbring, voor jou oë in ’n moeras te sien verdwyn waaruit net hy homself kan trek.

Mense het my gewaarsku. Ek wou dit nie glo nie, tot ek op ’n dag self op die dagga en tik afgekom het. Baie van my skoolmaats het dit gebruik en ek het geweet hoe dit lyk. Hy het hoog en laag gesweer dis nie syne nie, maar hy het geweet ek weet.

Toe ek weet en niks daaraan doen nie, het die rokery erger geraak. Amper legal. Hy het dit vir langer tye en openliker begin gebruik. Hy was minder gemotiveerd om werk te soek. Dit was te lekker, want nie net het sy vrou kos huis toe gebring nie, sy het dit sommer vir hom gaargemaak ook.

Wat my laat uithou het, is die wete dat hy ’n goeie mens is – vir my dogter en op ’n tyd ook vir my. Die ergste was toe my dogtertjie op die dwelms afgekom het. Daar het ek die besluit geneem om te skei. Daar is mense wat my veroordeel, maar ek is nog jonk, hy is nog jonk. Ons albei kan ’n nuwe lewe begin. Dit is nou seer, maar ek doen dit vir myself, vir hom, vir my dogtertjie, vir ons.

Die mense na aan die verslaafde het ook hulp nodig

Christelle Vermeulen

Ek wou hê hy moes die pa van my kleintyd wees. Die sterk man wat my optel en sonder om te huiwer die branders saam met my aandurf.

Maar niks is net “sommer” nie. ’n Man verloor nie net sy wil om te baklei nie. Daar is altyd ’n rede hoekom mense die keuses maak wat hulle maak, en, in hulle oë, die maklike, minder pynlike, uitweg in ’n bottel of ’n blikkie kies. Dit gebeur ook nie oornag nie. Ná ’n operasie wat skeefgeloop en later baie mediese probleme en pyn veroorsaak het, was my pa nooit weer heeltemal dieselfde nie.

Hy was ’n boer in murg en been. Toe sy droom vir ’n plaas bietjie vir bietjie begin wegkwyn, het die afwaartse spiraal begin. Bitterheid, om ander te blameer en ’n gewoonte om elke aand na werk jouself met ’n bier in die hand te herinner aan alles wat verkeerd geloop het, verander amper ongemerk in ’n afhanklikheid wat nie by ’n bier of twee bly nie.

Na soveel jaar is dit steeds pynlik om hieroor te praat, want verslawing het ’n invloed op baie mense. Die mense na aan die verslaafde het ook hulp nodig. Die versekering om te weet dit is nie jou skuld nie en die perspektief om te weet dis nie ’n goeie keuse om alles weg te steek nie. My ma wou my pa teen vernedering beskerm. Geduldig sou sy maar net altyd die leë blikkies weggooi sodat niemand anders dit sien nie.

Dit het lank so aangehou tot my ma genoeg gehad het en hom voor ’n ultimatum gestel het. My pa het reg gekies en kon daarin slaag om net so op te hou. Jare se gebede is verhoor en my ouers se storie kon ’n goeie einde hê. Ek wil mense wat in dieselfde situasie is, smeek om so gou moontlik hulp te kry. Of jy die verslaafde of iemand na aan die verslaafde is – julle kan gehelp word. Daar is altyd, maar altyd, hoop.

My seun het ’n vieslike monster geword

Elize Fouché

Ek het ’n papier gevat, twee kolomme getrek en die woorde “Reg” en “Weg” boaan geskryf.

Reg: Jy gaan vir rehabilitasie. Jy het ’n ma, kar, familie, kos en ’n huis om in te bly.

Weg: Ek wil jou nooit weer sien nie, maar jy gaan ook nie ’n familie hê nie, want jy gaan ook nie by Ouma en Oupa bly nie. Weg is kos en ’n dak oor jou kop. Jy kan maar op straat gaan bly, overdose, doodgaan en in vrede rus.

Ek het die briefie met die kolomme op die ontbythoekie gelos en gaan slaap met nie veel hoop dat hy daarop gaan reageer nie.

Die volgende oggend was daar ’n briefie vir my. Toe ek dit lees, het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ek het altyd gedink alles was my skuld. Ek was ’n slegte ma en dit is hoekom my kind hierdie goed doen.

Wat ek nie besef het nie, was dat sy pa se vroeë dood en ’n mislukte liefdesverhouding hom so seergemaak het dat hy verligting op ’n ander manier gaan soek het. Natuurlik is dit geensins ’n verskoning vir enige verslawing nie, maar mense hanteer pyn op verskillende maniere. Waar hy altyd ’n sagte seun was, het hy in ’n vieslike monster verander en verhoudings voor die voet verbreek.

Hy wou nie na ’n rehabilitasiesentrum gaan nie, maar het wel ingestem vir beradingsessies saam met my. Genadiglik is hy al meer as ’n jaar skoon. Hy het ’n wonderlike werk, sy oë blink weer en hy het ’n bietjie gewig aangesit.

Ons werk maar hard aan ons verhouding. Ek weet ek kan nie vir altyd oor die verlede praat nie, maar ek sukkel om te vertrou. Dit sal wel regkom. As ek maar net vroeër die streep getrek het…

Moenie wag tot iemand gehelp wíl word nie

Moenie wag tot iemand eers self gehelp wil word nie

Natuurlik is dit die ideaal, maar dit is ook gevaarlik, want dit kan te laat wees. Onthou, ’n verslaafde dink net aan een ding – hoe en waar hy sy volgende fix gaan kry. Van rasionele denke is daar nie sprake nie. In uiterste gevalle kan die hof genader word om ’n bevel vir opname in ’n rehabilitasiekliniek uit te reik indien ’n persoon nie vrywillig hulp wil kry nie. Dit is moontlik waar die verslaafde ’n gevaar vir homself of die gemeenskap is, of die wet oortree om sy afhanklikheid te onderhou.

Laat hom die gevolge ervaar

Skande, stigma en ontkenning is van die redes waarom die mense na aan hom die verslaafde beskerm teen die negatiewe gevolge wat sy gewoonte veroorsaak. Dit word ’n bose kringloop: Hoe langer hy geen gevolge ervaar nie, hoe langer hou hy aan om middels te misbruik. En hoe langer hy dit doen, hoe swaarder kry sy geliefdes.

Daar is hulp as jy nie grense kan stel nie

Jy het nie die verslawing veroorsaak nie en kan dit ook nie stop nie. Tydens rehabilitasie kan jy help dat die persoon weer deel word van die “gewone” lewe en sy pad na onafhanklikheid vind, maar eers moet jy gesonde grense stel. Vir mense wat sukkel om ondersteuning te stop, is daar organisasies soos Tough Love wat jou kan bystaan. Kyk intussen na jouself. Eet, slaap en ontspan genoeg.

Gesonde streshantering kan onder andere verslawing genees

Dit is beslis moontlik om verslawing te oorkom, maar niemand is na drie maande of selfs tien jaar vir altyd gerehabiliteer nie. Dit is ’n siekte waar die verslaafde vir die res van sy lewe stres gesond moet hanteer of hulp moet kry indien nodig.

Mandy Stokes, maatskaplike werker