Vroue praat reguit … Aanlyn ontmoetings

953

Talle vroue gebruik deesdae die internet in die hoop om ’n romantiese maat te ontmoet. Hulle reken dis veiliger, maar is dit? Vyf vroue vertel.

Sy opregtheid het hom anders gemaak

Juanita Fick

“Let all my happiness be yours and all your sadness mine. Let the world be yours and your world mine,” kom die woorde oor die vliegtuig se luidspreker na my aangesweef. Helder en duidelik, my ore gespits nadat die kaptein my naam aan die begin van die aankondiging gesê het.

Dit neem ’n rukkie om in te sink. Is ek so pas op die mees romantiese manier denkbaar gevra om te trou? Deur ’n man wat ek aanvanklik nie gedink het my tipe is nie.

Soms weet ’n mens nie wat jy nodig het nie tot jy dit uiteindelik vind. Asof ek myself wou martel, het ek aanhou soek na dit waaraan ek gewoond was al het dit nie gewerk nie.

Na twee maande se teleurstellende ontmoetings met mense wat ek op ’n afspraakwebtuiste ontmoet het, het ek moed opgegee. Mans wat speletjies speel en net daar is vir ’n vinnige fling. Ek kon nie meer nie en het besluit om my rekening te kanselleer. In daardie tyd het ek nie meer ’n aktiewe profiel gehad nie alhoewel boodskappe steeds na my e-pos gestuur is.

“Corné would like to come in contact,” het ’n ruk lank gelê voor ek dit gesien het.

Nie baie entoesiasties of met enige verwagtings nie het ek hom geantwoord. Halfhartig daarna inligting met hom gedeel. Uiteindelik maar weer die toepassing op my selfoon gelaai om makliker te kommunikeer.

Dit het baie lank geneem voor ek hierdie keer my telefoonnommer of naam gegee het. Ek wou die kat baie goed uit die boom kyk.

Aanvanklik het ek gedink dat hy nie my tipe is nie. Groot was my verbasing toe hy met ’n massiewe bos blomme by ons eerste afspraak aankom. Selfs daarna was ek steeds versigtig om teenoor hom oop te maak.

Maar Corné was anders. Opreg, met geen bedoeling om enige speletjies te speel nie. Ek kon nie anders as om ja te sê toe hy die groot vraag deur die kaptein van vliegtuig vra nie.

Toe was hy ’n kansvatter op ’n donkie

Ronel Vorster

Aantreklik, mooi gebou ook, maar daardie hande, sulke worsievingers. Net daar het ek besef dat daar van hierdie ontmoeting niks meer gaan kom nie.

Dit was my eerste afspraak met iemand wat ek aanlyn leer ken het. Gelukkig was daar nooit verskriklik slegte ervarings nie, maar vreemde karakters is volop.

Soos die man wat volgens sy profiel ’n Amerikaanse soldaat in Afghanistan is, ’n enkelpa wat een of ander tyd ’n draai in Suid-Afrika gaan maak. Toe ons na WhatsApp skuif, het ek begin onraad vermoed: ’n soldaat met ’n skoenlapper as sy profielfoto? As Engelssprekende was sy grammatika onder verdenking, maar ek hou daarvan om met buitelanders te gesels. By hulle te leer, uit te vind hoe hulle leef, en, wie weet, miskien is my ridder op ’n wit perd nog ’n lid van die Amerikaanse Vredeskorps.

Die dag toe hy my vra of hy vir my iets van oorsee af kan bring, het ek gelukkig net voor dit van ’n meisie gehoor met wie iets soortgelyks gebeur het. Die “geskenk” waarvoor jy vra, word teen groot onkoste versend en dan word daardie geld van jou verhaal. As hy maar net die Afrikaans kon verstaan van die woorde wat ek hom toegevoeg het! My ridder was toe al die tyd ’n kansvatter op ’n donkie in die Afghaanse woestyn (waar hy natuurlik nie is nie) wat op naïewe vroue jag maak.

Ek het nie tyd om speletjies te speel nie, maar almal sien dit nie so nie. Dikwels sal iemand gesels en op ’n dag net verdwyn. En al is daar meer as genoeg visse in die see, het daardie verwerping tog ’n invloed. Vrae soos: “Hoekom swipe jy my nie?” of “Hoekom gesels jy en dan verdwyn jy?” is die slegte ding van online dating. ’n Mens oordeel jouself aan mense wat jy graag wil hê jou moet swipe. Daar is niks met aanlyn ontmoetings verkeerd nie, solank jy nugter bly.

Elf jaar en drie pragtige kinders later

Hannelie Nahringbauer

Uit die hoek van my oog hou ek die kinders dop. My drie pragtige kinders. Hulle monde hang oop. Die changing of the guards hier by Buckingham-paleis bly maar fassinerend, die presisie waarmee hulle beweeg.

Dan voel ek hoe Heinz se hand na myne soek. Mag ek nooit blasé raak oor hierdie wonderlike lewe wat ek die afgelope elf jaar saam met my ridder van die internet het nie.

Pas uit ’n langerige verhouding met iemand wat ek op ’n aanlyn webwerf ontmoet het, het ek uit vermakerigheid weer op ’n site gegaan en na twee weke met Heinz begin gesels.

Gesels, gesels, oor die internet, en toe ek sy stem die eerste keer hoor, was dit nie ’n teleurstelling nie. ’n Man met so ’n stem…

Die naweek na ons eerste ontmoeting het ek saam met hom gaan motorfiets ry.

Die wind wat verby ons swiep, my arms om sy lyf en die besef dat een klein foutjie, ’n verkeerde draai, my dood kan beteken. Allesbehalwe die avontuurlustige tipe, het ek geweet as daar iemand is wat ek met my lewe kan vertrou, sal dit hierdie man wees. Met my oë toe, my kop teen sy rug, het ek elke oomblik net ingedrink.

’n Maand later het ons ouers ontmoet, einde November verloof geraak en is in Januarie getroud. Drie en ’n half maande tussen ontmoet en getroud. Ons bly nou in Engeland en is werklik steeds so gelukkig soos toe ons mekaar die eerste keer raak “gekliek” het.

Vandag is ek bly daardie eerste verhouding het nie uitgewerk nie. Dink net: vir jare vasgevang in ’n ongelukkige huwelik. Dankie tog dat dit my nie afgeskrik het van aanlyn ontmoetingswebwerwe nie. Dating sites het goed vir my gewerk, want ek kan nie dink hoe ons paaie in die regte lewe ooit sou kruis nie.

As iets te goed is om waar te wees

Sandra Viljoen

Ek staar na die skerm lank nadat ons afgelui het. ’n Aardbewing, die Filippyne, werksmense dood, $100 000.

Ek dink daardie gesprek het my die eerste keer onraad laat vermoed al het my hart só gehoop dat my verstand verkeerd is. Dat hy regtig ’n siviele ingenieur van Amerika was wat nou ná ’n aardbewing in die Filippyne sy werksmense se hospitaalkoste moet dra. Dat die regering regtig op sy bates beslag gelê het omdat hy versuim het om versekering vir hulle uit te neem. Dit was ’n fout om nie versekering uit te neem nie, maar hy was steeds ’n goeie man, dan nie?

Net so graag soos ek gehoop het dat sy komplimente oor my glimlag, sy liefde vir my en ’n huweliksbelofte kort daarna opreg was. Al wat opreg was, was sy soeke na geld. Geld wat ek nie gehad het nie, en my ouers ook nie. Sy volgende voorstel was dat ek my huis en juwele verkoop. Later sal hy die geld terugbetaal. Hoe dom het die man gedink is ek?

Ek het begin bang word toe hy sê vriende van hom in Johannesburg sal die geld in my bankrekening betaal. Dan kan ek dit aan hom oorbetaal, maar daarvoor het hy my bankbesonderhede nodig. Ek het die bank laat weet en hulle het onmiddellik die rekening geblokkeer.

“Gaan bly solank in my huis in Kalifornië. Ek sluit by jou aan sodra ek terug is van die Filippyne,” was sy volgende scheme saam met ’n hartstogtelike liefdesverklaring. Toe ek dit ook weier, het hy baie kwaad en ongeskik begin raak.

Dit was die einde. Ek het hom op al die maniere geblokkeer wat ek kon. Toe ek later weer na sy profiel op Facebook gaan kyk, was alle besonderhede weg. Sy nommer bestaan ook nie meer nie.

Ek sidder om te dink wat met my kon gebeur het as ek wel Amerika toe gegaan het. So ’n Facebook-verhouding sal ek nie maklik weer begin nie. As iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik te goed om waar te wees.

Hy het met vier ander vroue ook gepraat

Thea Swart

Hy is so besig om buite langs die braaivuur te skel dat hy nie eers agterkom ek is weg nie. Sy skootrekenaar lê oop en bloot op die kombuistafel, ingeteken op Facebook. Ek begin lees. Vier vroue met wie hy begin praat het op presies dieselfde tyd as wat ons begin het, maar sommer cut en paste. Binne vyf minute sal hy dieselfde boodskap aan vyf vroue stuur.

Die verskil: Met hulle het hy internetseks gehad. Op sy e-pos kom ek op eksplisiete foto’s van die vroue af. Dit het so professioneel gelyk. Wie weet, miskien was dit nog? Ek het later probeer, maar myne het soos ’n sonarfoto met ’n kat op gelyk.

Wat my daardie aand gered het, was dat hy so dronk was dat ek myself teen sy houe kon beskerm.

Ek was nie gewoond aan die immoraliteit waardeur ek daagliks in Namibië omring was nie. Later bly ’n mens maar net stil, aanvaar dit gelate om letterlik te oorleef. Die ergste is dat ek ’n goeie lewe in Suid-Afrika gehad het. Taamlik welvarend, tussen my kinders en kleinkinders, die mense wat my liefhet.

Ná ’n bitter egskeiding, met my selfbeeld aan flarde, was ek so soekend na liefde dat ek om een of ander duistere rede ja gesê het toe hy my aanlyn vra om te trou.

Ek het Windhoek toe gevlieg om hom te ontmoet. Hy lyk nes ’n karwag, was my eerste gedagte toe ek hom sien. Seker maar van al die ure in die son op sy plase, het ek dit afgemaak. Dit was ’n baie klein karretjie met die grootste versameling stickers waarmee hy my kom haal het. Die man heg seker nie waarde aan karre nie, was die verduideliking aan myself. Toe hy daardie aand voorstel dat ons eerder gaan uiteet, het ek later besef dis omdat daar nie kos in die huis was nie.

Tog het ek voortgegaan met die trouplanne. Hieruit sou ek leer hoe wreedheid regtig lyk. Op die ou end het ek meer as ’n miljoen in hom en ’n besigheid belê wat misluk het. Nadat ons geskei is, sit ek nou in Namibië sonder geld om terug te gaan Suid-Afrika toe.

Só lê jy die fondament van ’n suksesvolle aanlyn verhouding

Veral wanneer daar chemistry is, kan ’n verhouding aan die begin baie vinnig ontwikkel. Natuurlik sal jy meer tyd saam met die persoon wil deurbring, maar doen dit gebalanseerd. Kuier steeds by jou vriende en familie, doen steeds jou stokperdjies. Wees versigtig dat hierdie verhouding nie allesoorheersend raak en jou hele lewe om daardie persoon begin draai nie.

Wag ’n ruk na ’n mislukte verhouding. Verwerping, of dit nou uit jou kinderjare of ’n mislukte verhouding kom, laat ’n leemte in jou. Gevoelens van minderwaardigheid kom weer na die oppervlak wanneer jy pas uit ’n betekenisvolle verhouding kom, selfs as jy die een is wat dit beëindig het. Die maklikste manier is om vinnig in ’n nuwe verhouding te gaan. As dinge ongewoon vinnig verloop, staan ’n oomblik terug en kyk hoekom dit so vinnig gaan. Is dit nie dalk ’n manier om daardie seer in jou lewe weg te neem nie? Wees bewus hiervan en kry professionele hulp as dit emosies, gedagtes of gebeurtenisse is wat jy nog nooit hanteer het nie.

Bly oopkop met vleitaal. Met mooipraatjies kan ’n mens ver kom. Bly nugter as die pap vroeg-vroeg te dik aangemaak word. Natuurlik is daar iets soos liefde met die eerste oogopslag, maar onophoudelike kontak deur die dag of ’n blitsige huweliksaansoek is dikwels die tekens van ’n manipuleerder of ’n verhouding wat in emosionele misbruik of fisieke geweld kan eindig.

Wees versigtig met eerste afsprake. Wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet, of dit ’n persoon is wat jy aanlyn ontmoet het of ’n blind date wat deur vriende gereël is, is daar ’n paar veiligheidsmaatreëls wat nagekom moet word. Ontmoet altyd in ’n openbare plek en laat iemand weet van die ontmoeting. Laat weet wanneer jy aankom en weer gaan. Hou dit ’n kort, vinnige kuier in die middel van die dag tydens jou middagete sodat jy nie deur ’n lang aandete hoef te worstel nie.

Tarishia Moodley, kliniese sielkundige