VROUE PRAAT REGUIT… Gly of bly?

0
270

Almal van ons ken iemand wat in die buiteland bly. Iemand wat geëmigreer het vir ’n beter lewe. Maar is die gras aan die ander kant soveel groener?

Emigrasie het bygedra tot my egskeiding

ELSIE VERMEULEN-JOOSTE
Ek staan en kyk tot hulle net stippeltjies is en uiteindelik verdwyn. My kinders kan teen dié tyd baie behendig tussen al die mense en verkeer deur vleg om alleen skool toe te loop.

Die skuldgevoelens kom lê swaar in my, want nie net moet hulle elke dag alleen by die skool kom nie, maar ons het hulle ook weggeneem uit hulle skole in Suid-Afrika, hulle omgewing, en van hulle maats.

Vir ’n twaalfjarige wat pas aangewys was as hoofmeisie van haar laerskool, moes dit verskriklik erg gewees het.

My hart het gebloei vir my kinders, maar ook vir myself, want daar was nie regtig ’n keuse nie. Toe my man die uitstekende werksgeleentheid in Amerika kry, kon hy nie anders as om dit te aanvaar nie.

Goeie posisie of nie, my man moes onder begin. Die eerste paar nagte het ons op die grond geslaap. Vir baie lank was die boks waarin die nuwe rekenaar gekom het, die tafel waarop ons geëet het.

Dit is asof jy weer ’n keer gebore word, maar jy weet die tyd en plek is verkeerd, want jou siel is nie hier by jou nie.

Ja, finansieel het dit goed gegaan, maar geen geld kan jou emosies koop nie. Geen geld kan daardie verlange stilmaak as jy ’n vliegtuig sien en wens dit kan jou huis toe vat nie.

Toe ons uiteindelik burgerskap kry, was dit vir my ironies verby. Ek en my man het by mekaar verby begin leef en besluit om te skei.

Met sy werk was dit vir hom vanselfsprekend om agter te bly, maar vir my en my oudste dogter was die verlange te groot. Ons is nou terug in Suid-Afrika terwyl my ander kinders steeds in Amerika is.

Sal ek dit weer doen as ek my lewe kon oorhê? Beslis nie. Ons het ons kinders ’n onreg aangedoen. Op die ou end was die prys van wat ons gedink het ’n beter toekoms sou wees, te hoog. As jy net ’n klein bietjie twyfel of jy wil gaan, moet jy dit nie doen nie.

Jy besef nie die gevolge twintig jaar later nie

ILZE RAATH-THORBURN
Dit is vir my hel. Eerlikwaar! Dit voel asof my liggaam in stukke gedeel is – my lyf hier, my siel op ’n ander plek. Ek weet nie of dit by my ma is, wat nou alleen in ’n aftreeoord in die Kaap is, of by my pa, wat langs sy ouers met ’n uitsig oor die see en berge begrawe lê nie.

En dan is daar natuurlik my man en ons babatjie in Duitsland. Al wat ek nou weet, is dat my siel nie hier is nie.

Twee weke. Veertien dae, en nou is hy vir altyd weg. Ek het hom net-net gemis. Ons het gedink my pa, wat kanker gehad het, sal nog ’n rukkie by ons wees en het die kans gevat om vir my man se familie in Skotland te gaan kuier.

Twee dae voor Kersfees is hy dood. Ek was nie aan sy sy om te groet nie. Gelukkig kon hy my dogtertjie, wat in Suid-Afrika gebore is, vir drie maande geniet voor hy oorlede is. Dit is die grootste geskenk wat ek hom kon gee.

Sy dood is ’n keerpunt in my lewe. Dit gee nou ’n ander perspektief. Nooit kon ek my voorstel dit is hoe dit sou wees nie. As jy jonk en opgewonde is, dink jy nie aan die gevolge van jou besluit om die land te verlaat twintig jaar later nie.

Selfs sonder kinders was een van ons redes die goeie skole wat hier is. Die staatskole is regtig goed en kos jou nie ’n plaas se geld nie. Daaroor is ek nie spyt nie.

Of ’n kind ooit ’n volbloed Europeër sal wees is elke ouer se keuse. Ek wil nie noodwendig ’n Duitse kind grootmaak nie, maar wil ook nie hê sy moet volksvreemd wees hier nie.

Ekself kan nie méér Afrikaans en trots Suid-Afrikaans wees as wat ek hier in die vreemde is nie. Ja, daar is goeie mense oor die hele planeet, maar Afrika is in my bloed.

Die Afrika-manier van buigsaamheid wanneer dit by sekere dinge kom, is net baie meer menslik en toegeeflik as die Duitse deeglikheid, presisie en reëls.

Boonop het ons net ’n tikkie ekstra vasberadenheid en weerbaarheid. Ons weet hoe om te oorleef – waar ons ons ook bevind.

Dis so veilig en netjies as wat mense sê

HENDRIEHET VISSER
Benoud haas ek my terug na die winkelwaentjie. Daar is nogal baie geld in my beursie en my ouma het hoeka altyd gesê ’n mens verlei nie dié wat swaarkry nie. Toe ek daar kom, is dit steeds daar: my beursie oop en bloot vir enigiemand om te vat…

Dit verstom my keer op keer hoe veilig dit hier is. “What is here not to like, not to love,” is my antwoord as iemand my vra hoe dit is om in Australië te bly.

Ná twee erge misdaadaanvalle waartydens my man onder andere gekaap en ontvoer is, was veiligheid een van die redes waarom ons die skuif gemaak het.

Gelukkig is dit regtig so goed as wat ons gehoop het dit sou wees. Ons sluit ons deure net as ons op vakansie gaan. Die kinders se speelgoed lê soms vir dae in die voortuin. My seun het eenkeer sy selfoon op die bus vergeet. Ons het gebel en dit teruggekry.

Jy ken jou bure, want hulle kruip nie agter tralies weg nie. Mense is oor die algemeen goed en gaan uit hulle pad om jou te help. Elkeen doen sy werk en is bevoeg om dit te doen. Ons kan op die polisie staatmaak as ons in die moeilikheid is.

Die hartseer storie van enige emigrant is maar die familie en vriende wat jy agterlaat. Hoe sit ’n mens ’n prys op die feit dat my kinders nooit werklik hulle familie gaan ken nie.

As gevolg van probleme by Binnelandse Sake kon my seuns nie betyds paspoorte kry om by een van hulle oupas se begrafnis te wees nie.

Die opoffering wat jou eie familie maak, is ook groot. Ja, hulle het ons ondersteun, maar dit is steeds nie maklik nie.

As my ma hier by my kon wees, sou ek die gelukkigste emigrant onder die son gewees het. Dan was my storie 100% gelukkig.

Ek is nie ’n ouma vir my kleinseun nie

STEPHANIE BLAKE
Die plomp, perfekte vingertjies wat met die blokkies op die mat speel, is altyd soos ’n wonderwerk. ’n Oomblik se weifeling voor hy die driehoek in die gaatjie laat val wat vir dié vorm bedoel is.

Ja, my dogter doen die regte ding vir haar en haar kind se toekoms, maar ek is opstandig – aanlyn ouma wees is my voorland.

Dit is vir my onregverdig dat my kind en kleinkind nie ’n toekoms hier het nie. Dit maak my bitter dat hier nie werksgeleenthede is nie.

Die misdaad in die land het so erg geword dat ouers hulle familie en vriende moet los om hulle kinders in ’n ver land groot te maak om vir hulle ’n veilige en rooskleurige toekoms te gee.

Dit is asof my kleinseun Alyx gestraf moet word vir dinge wat sy voorgeslagte gedoen het lank voor hy gebore is. Dit voel of ek moet boet vir dinge wat in die verlede gebeur het waaroor ek ook geen beheer gehad het nie.

Dis ons kinders wat nie werk kry nie as gevolg van ’n politieke bestel waaraan hulle geen aandeel gehad het nie.

Nou is ons die agtergeblewenes. Ons gaan alleen oud word. Sonder kinders of kleinkinders wat ’n kuiertjie in hulle besige lewens kan inpas.

Geen drukkies of taai soentjies nie. Geen sandkastele saam met Ouma op die strand nie. Net nou en dan ’n vinnige video-oproep.

Dit is ook nie asof die rand so sterk is dat ek vir my kleinkinders kan gaan kuier nie. My pensioengeld neem my skaars Somerset-Wes toe, wat nog te sê kilometers ver oor die see.

Kortom, is ek woedend dat ek ’n ouma is wat nooit die klein oorwinninkies in haar kleinkinders se lewens gaan beleef nie.

Ek het gehuil en my ma het gebid

LIESEL COETZEE-MARAIS
Of my baba van vyf maande of ek die hardste huil, weet ek nie. My gesig is in plooie vertrek wat geen Botox kan regdokter nie. Dit is meer as die gewone moegheid-blues wat ’n jong ma het.

Ek huil oor baie goed: my eie ma wat nie hier is nie en ’n vreemde land met vreemde kulture en tale. Om boonop nog te moet leer om aan die regterkant van die pad te ry bring net meer trane.

Vandag weet ek dat die uitdaging om nes te skop in ’n vreemde land, met ’n vyf maande oue baba, weg van my familie en vriende, sekerlik die grootste uitdaging tot dusver in my lewe is. Duisende kilometers ver van Dubai het my ma haar knieë flenters gebid.

Die moontlikheid om te emigreer het begin ná ’n finansiële resessie wat ons besigheid totaal uitgemelk het. Werksgeleenthede in Suid-Afrika was min. Elke deur van hoop het in ons gesig toegeslaan. Daar was net geen keuse meer as om na Dubai te trek toe my man ’n pos daar kry nie.

Tot die naelstring met jou mense by die huis nie geknip is nie, kry ’n mens baie swaar. Dit het my twee en ’n half jaar geneem.

’n Mens is woedend omdat jy om finansiële redes op ’n plek moet bly terwyl jy met jou hele siel in jou eie land wil wees tussen dit wat jy ken, waar jy openlik kan bid en waar jy tuis voel.

Dit is nou tien jaar later. Intussen het ons ’n seuntjie ryker geword. My man het ’n goeie werk, ek ook.

Dit is hartseer dat my kinders aan Suid-Afrika as ’n vakansiebestemming dink en die gevoel van “behoort” nooit heeltemal sal verstaan nie. Selfs al is my seun hier gebore, het hy steeds net ’n Suid-Afrikaanse paspoort.

Ons sal môre terugtrek Suid-Afrika toe mits die misdaadkwessie opgelos is en my kinders in ’n veilige omgewing kan grootword, maar ná tien jaar is ons gelukkig hier.

GESELS SAAM! Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 minuut lank, na 062 194 2334. Luister na jou en ander se bydraes by voelgoed.co.za/vroue-praat-reguit.


IS ’N LEWENSVERANDERENDE BESLUIT

Wanneer jy die keuse moet maak om jou land te verlaat, het dit ’n invloed op jou, maar ook op al die mense om jou. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou voor jy ’n besluit neem.

Dit kan soos dood in die familie wees

Om tussen mense te wees wat nie soos jy grootgeword het nie, kan bitter eensaam wees. Vrae oor wie jy is en waar jy hoort, kan jou oorweldig.

Of jou rede om te emigreer beter werksgeleenthede, ’n toekoms vir jou kinders of misdaad is, daardie rasionele besluit kan nie die enigste rede wees waarom jy gaan nie.

Jy moet weet of jou hart ook daarin is, want op die ou end is dit positiewe emosies wat jou deur moeilike tye gaan dra.

Berei jouself voor vir al die fases wat jy sou deurgaan as iemand doodgaan. Ontkenning, angs, depressie en eers later die uiteindelike aanvaarding.

Emosionele veerkragtigheid soos jou denke, waardes, oorlewingsvaardighede en ondersteuningsnetwerk is wat uiteindelik jou aanpassing gaan bepaal.

Die impak op ander mense is enorm

Hierdie skuif mag spanning op jou verhoudings plaas. Jy en jou maat moet beide duidelik weet hoekom julle wil gaan.

Verhuising het veral op tieners wat uit hulle portuurgroep geneem word, ’n groot uitwerking en kan traumaties wees.

Onthou ook dat daar ’n tyd gaan aanbreek dat jou pa en ma ouer word en selfs sterf sonder dat jy daar kon wees. Die skuldgevoelens as so iets gebeur, mag jou oorweldig.

Maak nuwe keuses as dit ’n fout was

Indien dit gebeur dat jy geëmigreer het en later besef daar is ander dinge wat vir jou belangriker is as die redes hoekom jy gegaan het, beteken dit nie jy is ’n mislukking nie.

Dit beteken net jy is getrou aan jouself. Selfs al kan jy nie teruggaan nie, kan jy jou lewe aanpas om beter keuses te maak met die inligting wat jy nou tot jou beskikking het.

Rina de Klerk-Weyer, emosioneleintelligensie-kenner