VROUE PRAAT REGUIT… Mishandeling

455

Mishandeling in ’n verhouding is ’n onreg. Om dit te verduur en daaroor te swyg los niks op nie. Deur daaroor te praat kan jy ’n uitweg vind na ’n beter lewe.

As dit maar by skellery opgehou het

MICHELLE STRAMROOD
Hy het haar kop hard teen die muur geslaan. Daar was so baie bloed dat ek nie haar gille kon hoor nie. Die volgende dag moes my ma vir die soveelste keer weer haar werk los omdat haar kop soos ’n waatlemoen gelyk het.

Ná hulle egskeiding het ek die rol van ma oorgeneem – die houe gevat soos my pa ’n vrou “reggesien” het. Skaars veertien, moes ek vir hom dwelms in die Kaap gaan haal. Eenkeer is ek en my vriendin oor en oor deur die nag deur bendelede verkrag.

Hierdie blootstelling aan mishandeling oor jare vreet so aan jou siel dat jy later begin glo jy verdien wat met jou gebeur. Jy dink minder en minder van jouself, en op ’n dag maak jy jouself wys dat jy nie beter kan doen as wat jy op die oomblik het nie.

Die gevolge van mishandeling strek oor geslagte. Die kinders van ouers wat in sulke vernietigende verhoudings was, het later huweliksprobleme. Ek is besig met my tweede egskeiding; my boetie is die hele tyd in en uit rehab.

Die een ding wat ek my voorgeneem het, is om nooit afhanklik van ’n man te wees nie. Ek het my eie inkomste en kan op my eie oorleef. Mans het nogal ’n probleem met onafhanklike vroue. Dikwels glo slagoffers dat hulle doodgemaak gaan word die oomblik dat hulle hulle voete by die deur uitsit.

Dit is nie so nie. As jy finansieel onafhanklik is met ’n sterk ondersteuningsbasis is daar geen verskoning om nie te loop nie. Op die ou end is dit net jy wat die besluit kan neem.

Ek sal nooit ooit stilbly oor mishandeling nie. Mense maak maklik hulle eie afleidings. “You never broke me, you made me,” is my leuse. Ek gaan nie nog meer mag aan iemand gee wat reeds soveel van my weggevat het nie. My fokus is om dit wat lelik was, in iets positiefs te omskep.

My dogtertjie is in ’n vrieskas toegemaak

NATASHA TOLKEN
Die gille laat amper my hart gaan staan. My dogtertjie! In die kombuis kan ek nie glo wat ek sien nie. Hoe wreed kan jy wees? Om op ’n kisvrieskas te sit met haar binne-in!

Ek was getroud met ’n man wat dit geniet het om ons fisiek en finansieel te martel. Die kere wat hy my toegelaat het om te werk, sou hy my soos ’n valk dophou. Letterlik by my kom sit.

Om te keer dat hulle die mishandeling sien, is drie van my kinders by my sussie geplaas.

Die verlies was groot. Hy het geld as ’n wapen gebruik, en gevolglik was ek magteloos, finansieel afhanklik van hom. Dit was bitter moeilik om van hom af weg te kom. Saam met die magteloosheid was daar ’n gevoel van absolute mislukking – as ma, as vrou. Dit het my gebreek.

Aan die ander kant het hierdie wanfunksionele verhouding my nader aan die Here gebring. Dit was die enigste manier om dit te hanteer. Ek voel nie hartseer daaroor nie. Ek sou net wou gehad het dat my kinders dit nie gesien het nie.

Die mishandeling deur ’n alkoholis is erger as enige van die ander mishandeling wat ek in ander verhoudings beleef het. My eks was ’n goeie mens. ’n Wonderlike, vrygewige mens as dit nie vir die alkoholisme was nie, maar drank neem alle logika, alle rede, weg.

Vernietigende verhoudings het nie klas, rykdom of kleur nie. Dit kan met enigeen gebeur, maar as niemand daarvan weet nie, gaan niemand jou help nie. Praat daaroor en kom daar uit. Jy kan! Jy is dit ook aan jou kinders verskuldig.

Alkoholis of nie, mishandeling is verkeerd. Geen mens het die reg om ’n ander sleg te sê of seer te maak nie.

Om my kinders terug te kry, moes ek uit die verhouding kom en finansiële onafhanklikheid kry. Vandag het ek my kinders en inkomste terug, maar dit was ’n lang en moeilike pad.

’n Mens is altyd op jou senuwees

CORNÉ WELMAN
“Waag dit om hier uit te stap en ek maak jou lewe hel,” sê hy terwyl hy met sy hande op die tafel tussen ons slaan.

’n Man wat ’n obsessie met my ontwikkel het en nie kon aanvaar dat ek nie my lewe met hom wou deel nie, het die besluit geneem dat hy die reg het om my lewe te vernietig.

Naïef het ek gedink ek sou dit kon hanteer, maar narsiste is monsters wat baie subtiel, berekend en wreed te werk gaan om hulle slagoffers se siel stukkie vir stukkie uit te suig.

Narsisme is ’n psigiatriese toestand, ’n persoonlikheidsversteuring, wat nie maklik verander kan word nie. As jy doen wat hy wil,
sal hy die son en maan vir jou gee, maar gaan teen sy wil…

Dis asof jy heeltyd op eiers loop en gereed is om aangeval te word. Elke dag wonder jy wat gaan gebeur, in watter bui die persoon is en wat hulle vir die dag beplan. Dis moeilik om te voorspel, want daar is nie logiese denke daaragter nie.

Dis eers baie later dat ek besef het die fout het nie by my gelê nie. Daar was niks wat ek verkeerd gedoen of anders kon doen nie.

Die prys wat vir my vryheid betaal moes word, was finansieel en emosioneel hoog, maar dit was deur en deur die moeite werd, want dit het my ’n sterker mens gemaak.

Dis moeilik om normale verhoudings te hê

RETHA HORN
’n Piksoentjie hier, ’n drukkie daar. As agtjarige het ek nie gedink daar is iets mee verkeerd om op my kunsonderwyser se skoot te sit nie. Kuns was vir my heerlik en dit was dit.

Op ’n dag het hy gesê hy wil vir my wys wat “regte kuns” is. Wys toe foto’s van meisies voor ’n swembad en in die volgende foto het die meisies nie klere aan nie.

Hierdie goed het my geweldig gepla en ek het daarvan in ’n joernaal geskryf. Toe my ma dit sien, was dit die einde van my kunsklasse.

Op twaalf het ek ’n senu-ineenstorting gekry, maar die gevolge van seksuele mishandeling het ’n groter effek op my as volwassene gehad.

Dis vir my moeilik om te vertrou en ek het lank weggeskram van enige fisieke kontak. Vir jare het ek my hare kort gehou en net in die seunsafdeling klere gekoop in die hoop dat ’n man nooit na my sou kyk nie. Die mans wat ek wel naby my toelaat, is eerder die “intellektuele” soort wat ek glo meer na my brein as na my kyk.

Ek dink mense wat van seksuele oortredings aangekla word, moet op ’n nasionale register geplaas word wat toeganklik vir die publiek is. So kan daar verhoed word dat kinders deur onderwysers, afrigters of ander grootmense wat baie met kinders werk, verniel word.

As agtjarige het ek nie heeltemal geweet wat aangaan nie. Jy het ’n vermoede iets is verkeerd, maar jy is nog steeds so besig met die dinge van ’n kind dat jy nie weet presies wat verkeerd is nie. Dan kom lê die skuldgevoelens oor jou en praat jy nie daaroor nie.

Vandag is ek self ’n onderwyser. Dis vir my belangrik om te praat oor wat met my gebeur het sodat dit nie met ander kinders gebeur nie. Ek teken en verf weer sonder om deur angs oorval te word en is die afgelope paar maande in ’n wonderlike verhouding met ’n wonderlike man.

Praat, want dit gebeur met baie mense

JACQUELINE LE ROUX
Daar was fisieke mishandeling, maar die emosionele skade wat gedoen is, het ’n groter negatiewe impak op my gehad as wat enige vuishou ooit kon hê.

Hy het vir my voorgeskryf hoe om te praat, selfs waar om te parkeer. Ek mag nie woorde soos cool gebruik het nie. Met WhatsApp-boodskappe het hy lang sinne verwag. My mening het niks vir hom beteken nie en ek mag net gepraat het wanneer hy my naam sou sê.

Tot vandag toe weet ek nie hoekom hy leuens vertel het oor ’n kamtige werk wat hy as ’n geheime agent by die polisie gekry het nie.

“Selfsugtig, lui, mal, hoer.” Dit is woorde wat in ’n mens se kop vassteek. Later begin jy dit glo. Ek het gedink ek is die slegte persoon wat hy my genoem het.

Ek moes my gevoelens onderdruk en kon nooit uiting gee aan die hartseer toe my ouers en broer dood is nie. Om te huil was verbode, want vir hom was dit ’n onnatuurlike emosie.

Wanneer hy iets op Facebook geplaas het, het hy die dogters ge-tag, maar nie vir my nie. Ek het uitgesluit, eensaam en vervreemd van my eie kinders gevoel.

Dis belangrik om oor mishandeling te praat. Dis nie nodig om skaam te voel daaroor nie, want dit gebeur in talle verhoudings met mans en vroue. Na 23 jaar het ek genoeg gehad en van hom geskei.

Ek het uiteindelik besef dat hy nie die prins was wat hy voorgegee het hy is nie. Baie vroue beëindig nie ’n verhouding nie omdat hulle finansieel afhanklik is van die man. Hy het egter nie eens meer daarin voorsien nie, want vir ses jaar was ek die enigste broodwinner.

Vir die eerste keer in baie jare voel ek vry. Dis my tyd om te begin leef. Geen spanning oor my woorde, WhatsApp-boodskappe en wie my vriende is nie. Ek het begin glo dat ek ’n goeie ma is.

SÓ KOM JY WEG VAN MISHANDELING

Die onderliggende sielkunde van gewelddadige verhoudings gaan oor selfliefde, maar daar is ook praktiese raad wat jou kan help om uit ’n vernietigende verhouding te kom.

Sien die tekens raak

Soms is jy so gekondisioneer deur jou ouers, die samelewing waarin jy grootword of selfs godsdienstige oortuigings dat jy dikwels nie eens besef dat die verhouding waarin jy is allesbehalwe gesond is nie.

Die grootste dryfkrag agter mishandeling is beheer. Dis die een ding wat elke geweldenaar wil hê, en hy verkry dit op verskillende maniere of dit nou emosioneel, fisiek, verbaal of finansieel is.

Wees voorbereid om te gaan

Kry iemand wat jou glo, wat jou kan help en wat jy kan vertrou, want jy gaan ander se hulp nodig hê. Wees versigtig om vriende of familie van die persoon van wie jy wil wegkom, te vertrou.

Mense verraai mekaar ongelukkig. Wanneer dit ’n fisiek gewelddadige verhouding is waaruit jy moet ontsnap, is dit belangrik om dit ongesiens te doen, want geweldenaars is geneig om baie goed waar te neem.

Pak ’n sak, kry ’n datum, beplan ’n ontsnaproete, maak ’n ekstra motorsleutel en maak seker jy het jou eie bankrekening met ’n bankkaart en alle dokumente soos ID’s, geboortesertifikate en paspoorte reg.

Maak bewyse en dokumente bymekaar

Veral wanneer daar kinders betrokke is en daar oor onderhoud en toesig besluit moet word, is dit belangrik dat jy bewyse bymekaar maak.

Neem foto’s en gee dit vir iemand anders om te bewaar, want dikwels oorreed die persoon wat die mishandeling uitvoer jou dat jy die saak moet terugtrek en dan het jy niks om eendag in die hof te gebruik nie.
Deborah McPhilemy

GESELS SAAM!
Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 minuut lank, na 062 194 2334. Luister elke Vrydag na jou en ander se bydraes by voelgoed.co.za/vroue-praat-reguit.