Vroue praat reguit… Saambly

1648

Vroue vertel van hulle ervarings oor die keuse om saam met hulle geliefde te bly of nie. Is om ongetroud saam te bly so verkeerd? Is dit hoegenaamd nog ’n kwessie?

Ons kan sien of die kinders sal klaarkom

MIA VAN HEERDEN

Die “kinders” is ons katkinders, nie menskinders nie, want op 36 het ek nog nooit iemand ontmoet met wie ek wou trou of kinders hê nie, saam bly nog minder.

Na ’n paar verhoudings wat nie uitgewerk het nie, het ek Tinder vir die eerste keer probeer. Van daardie eerste regs swipe op ’n groepfoto tot ons ontmoeting waar Danie met ’n massiewe bos langsteelrose opgedaag het, het daar ’n gevoel van moed binne my gegroei. Miskien sou hý die een wees met wie ek die kans sou waag om my ruimte te deel. Dis maklik om lief te hê, maar om saam te lééf is ’n kuns wat nie almal kan bemeester nie.

In vorige verhoudings was ek bang. Dit het net nie reg gevoel nie, maar sedert ons ’n paar maande na ons ontmoeting verklaar het dat ons “so ’n klein bietjie lief” vir mekaar is, dink ons verder as die hier en nou.

Ons wíl trou en kinders hê, maar om die groot familietroue te hê wat ons beide begeer, moet ons begin spaar. Een huispaaiement minder en gedeelde koste gaan ons help om gouer daar uit te kom. Vir my is die rekening wat ons saam oopgemaak het om vir ons huis te begin spaar, ’n verdere teken van ’n verbintenis om hierdie verhouding te laat werk.

Dit is ’n bietjie agterstevoorom, maar dit is ’n logistieke en finansiële stap in die rigting van ons lewe saam.

Ons het nog nie ingetrek nie, maar ek dink dis belangrik dat daar voor die tyd oor goed gepraat word. Ek gaan byvoorbeeld my talent vir kosmaak inspan, terwyl hy die skottelgoed sal was. En aangesien ons al twee ook van me time hou, het ons besluit dat hy ’n hele kamer as sy man cave kan inrig.

Dit is miskien klein dingetjies, maar deur nou oor rolle en verantwoordelikhede te praat, kan dit konflik en misverstand later minder maak. Ons grootste bekommernis is of ons katte oor die weg gaan kom, maar ons sal daardie bruggie oorsteek wanneer ons daar kom, net soos ons baie ander brûe gaan aandurf voor die dag dat ons aan mekaar trou beloof.

Net twee vroue wat daardie gesiggie kan liefhê

CHERRYL ROSSOUW

“Hou nou op. Dis genoeg! Eet jy dit maar,” trek hy ’n gesig wat net sy ma kan liefhê.

Sy ma en ek, as ek nou mooi daaroor dink. Ons was jonk, baie verlief, en het nadat ons mekaar ’n maand geken het, saam ingetrek. Eintlik nog kinders wat hulle afkeer van aarbeie en pienk lekkers so duidelik kon maak. As hy nie gehou het van die kos wat ek gemaak het nie, was hy amper soos ’n stout kind.

Ek was nog op skool en wou eers matriek voltooi voor ons trou. My ouers het nog geleef, maar syne is reeds oorlede lank voordat ons ontmoet het. Deur saam te bly het ons mekaar se agtergrond beter leer ken.

Maar dis nie al wat ons beter leer ken het nie. Ook ons giere en geite, want dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Ons is albei ’n bietjie hardkoppig en daar was dae dat ons baie vasgesit het.

Dit was egter deel van die hele proses – soos ons verskil het, het ons mekaar nie net beter leer ken nie, maar vroeg-vroeg begin om saam konflik te hanteer. Omdat ons so jonk was, het daardie vaardighede om konflik te hanteer ons later baie gehelp in die storm-en-drang jare van ons verhouding.

’n Jaar later is ons getroud, en vandag, negentien jaar later, is ons steeds saam en geseën met drie dogters en ’n kleinseun.

My kinders moet hulle eie besluite neem, maar as hulle kies om saam te bly, moet hulle ook saam besluite kan neem – nie die een hierdie kant toe en die ander een daardie kant toe nie. Neem ’n besluit en respekteer mekaar.

Ek sê geensins dat ’n paartjie wat voor die tyd saam bly, se kans op ’n lang huwelik beter is as dié van paartjies wat nie voor die tyd saam gebly het nie.

’n Huwelik blom as ’n man en vrou mekaar verstaan en saam goed kan doen, nie net omdat doen doen is nie, maar ook omdat hulle geniet wat hulle doen.

Soos een van my ooms altyd gesê het: “Hou jy jou man gelukkig en hy sal jou gelukkig hou.”

Saambly was nie nodig om te weet of ek wou trou nie

NATHANYA VAN ZYL

31. Dis hoe oud ek was toe ek en my verloofde uiteindelik voor die kansel beland het. Dis ook tot op watter ouderdom ek en Chappies steeds maagde was.

Miskien ’n oujongnooi vir party, maar noudat ons getroud is, is daar nie ’n oomblik se spyt dat ons wel gewag het nie. Daar is baie oomblikke wat spesiaal is juis omdat ons gekies het om nie voor die huweliksnag saam te slaap nie.

Ons was vier jaar saam en agt maande verloof. Voor die troue het ons wel vir ’n kort rukkie saam ingetrek om koste te deel, want ’n troue is duur. Die enigste rede waarom ons dit gedoen het, was omdat ons geweet het dat ons daartoe verbind was om nie ons waardestelsel prys te gee nie.

Daar is verskillende redes wat paartjies aanvoer hoekom hulle saambly, waarvan een is dat hulle mekaar beter kan leer ken. Alhoewel daar waarheid daarin is, is my ervaring dat dit nie vir my nodig was om by iemand in te trek om te weet of hy die man is saam met wie ek wil oud word nie.

Lang vakansies en baie tyd saam in vorige verhoudings was vir my genoeg om wel te weet dat iemand nie reg is om die res van my lewe mee deur te bring nie.

Saambly kan help om mekaar se gewoontes te leer ken. Jy sien jou maat in die goeie en slegte tye en jy kan besluit of jy met daardie gewoontes kan saamleef of nie. Vir my is dit ook belangrik om te sien of die ander persoon my grense kon respekteer, want dit is vir my nog ’n teken van commitment.

Ek het met ’n streng waardestelsel grootgeword en Chappies ook. Dit is ’n besluit wat ons geneem het, want ons wou hê God moes ons huwelik seën. Dit was nie altyd maklik nie, maar dit was die opoffering werd as dit kan beteken dat ons nie deel word van die statistiek van huwelike wat in die skeihof eindig nie.

Die dag as jy trou, kan jy ophou werk aan julle verhouding

LOUISE COERTZE

Ek vertrou God en sy Woord, maar nie mense nie, en ongelukkig ook nie mans nie. As ’n jong meisie het ek heeltemal te gou getrou. Nooit weer nie, het ek na twee mislukte huwelike besluit.

Toe ek weer ’n man ontmoet, was ons albei versigtig om te trou. Ons het saam ingetrek en in vyf jaar mekaar op ’n ander manier leer ken as wanneer ons net sou uitgegaan het. Dit het beslis nie gegaan oor seks of ’n dak oor ons kop nie.

Ons het mekaar se stokperdjies en belangstellings leer ken. Ook gewoontes – hoe hy die tandepasta uitdruk of die toiletrol afrol. Kan jy daarmee saamleef? So baie tyd saam het tot genoeg konflik gelei om voor die tyd te sien hoe ons verskille hanteer.

Vir my was dit ook baie belangrik om te sien hoe hy my behandel as ons alleen, maar ook tussen mense is. Dra hy my op die hande selfs wanneer dit hom nie pas nie? Ek wou hê ons moet mekaar op ’n diep vlak leer ken – dieper as die diepste sodat ons seker kan wees dat ons daardie mens nie net liefhet nie, maar ook saam met hom kan leef ten spyte van al sy tekortkominge.

Drie jaar gelede het ons besluit om te trou. God het in ons huwelik gekom en dit is wat Hy wou hê ons moet doen. My probleem was nooit God nie, maar mense. Ek het Hom vertrou, maar was bang dat iemand so maklik kan voorgee tot die dag dat ons trou.

Ek sê geensins dat jy saam met elke man moet intrek wat jy ontmoet of in ’n verhouding is nie, maar vir my was dit die moeite werd omdat ek weet hoe baie hartseer ’n egskeiding vir ’n klomp mense kan bring.

My kind kon ten minste saambly voor haar dood

TESSA BIAGIO

Kanker is ’n ongenaakbare vernietiger van lewe – vandat Marisca gediagnoseer is, het dit 107 dae geneem waarin sy sel vir sel verteer is.

In hierdie tyd was sy nie alleen nie. Richard, die liefde van haar lewe, haar verloofde, was elke dag langs haar. Ek was dankbaar dat Richard haar so bygestaan het. Dit het my hartseer minder gemaak, want hulle het toe al ’n ruk lank saamgebly.

Dit was soveel anders 38 jaar tevore toe ek getrou het. Saambly was nooit ’n opsie nie. Ons het nooit eers daaraan gedink nie. Twee jaar na matriek is ons getroud. My man was agt jaar ouer as ek.

Dertien maande later het Marisca haar opwagting gemaak. Niks hiervan was vir my vreemd nie. Dis hoe dit was en dit is hoe ek dit aanvaar het. Soos my kinders grootgeword het, het ek saam met hulle gegroei. Geleer om ’n bietjie terug te staan sodat hulle hulle eie identiteit kon ontwikkel. Ek wou altyd gaan studeer, het by Unisa ingeskryf en saam met my kinders eksamen geskryf.

Wat ek nie wou hê nie, was dat my dogters afhanklik van ’n man is en onder hom leef. Leef eerder sáám met hom. Die tyd wat ’n vrou op twaalf aan ’n man beloof word, is verby. Baie van die reëls van die samelewing is deur mense gemaak om ons te pas.

Om getroud te wees is nie die alfa en omega nie. Uiteindelik sal ek graag wil hê my kinders moet trou, maar daardie sertifikaat is nie vir my ’n bepaler van wie hulle as mens is nie.

One night stands stuit my teen die bors en ek praat dit beslis nie goed nie, maar waarom kan jongmense nie saambly as hulle in ’n committed verhouding is nie? Daardie keuse verteenwoordig vir my amper die evolusie van vrouwees. Maak eerder ’n fout in ’n verhouding as in ’n huwelik.

OM DIE REGTE BESLUIT OOR JOU VERHOUDING TE NEEM

Wanneer jy voor die keuse te staan kom om te trou of saam te bly, besluit wat daardie verbintenisse vir jou beteken. Is daar, behalwe vir ’n stukkie papier, enige verskil?

Die emosionele trauma wanneer ’n saamblyverhouding tot ’n einde kom, is net so erg soos ’n egskeiding.

Maak seker hoekom jy ’n bepaalde besluit neem

Waarom maak jy daardie keuse as daar nie eintlik ’n verskil tussen die twee opsies is nie? Is jy miskien nie heeltemal seker oor die verhouding nie? Wat keer jou om te trou?

Om saam te bly is soos om ’n kar vir ’n toetsrit te vat. Daardie eerste rit is opwindend en lekker, maar jy gaan nie noodwendig al die foute in daardie rukkie sien nie. Baiekeer kom die probleme wat onder die oppervlak was, eers later in ’n huwelik na vore.

Bepaal waarvoor jy bang is

Soms, waar kinders uit gebroke huwelike kom of waar daar toksiese huislike omstandighede was, word ouers se vrese en skeptisisme dikwels onbewustelik na hulle kinders oorgedra. Maak seker wat die oorsprong van jou vrese is.

As jou ouers geskei of ongelukkig was, beteken dit nie jy gaan dieselfde paadjie loop nie. Miskien gaan jy juis harder aan jou huwelik werk omdat jy weet watter seer ’n egskeiding bring.

Die troudag is nie so belangrik nie

Veral vroue is geneig om so ’n groot ding van die troudag te maak dat “spaar” dikwels as rede vir die besluit om saam te bly, gegee word. Ja, almal wil ’n mooi bruilof hê, maar is die toekoms van ’n huwelik nie belangriker nie?

Bestee eerder tyd en geld om mekaar op dieper vlakke te leer ken deur terapie of werkswinkels. Laat iemand julle help om gesprekke te voer oor julle verwagtings rakende intimiteit, konflikhantering, kommunikasie, kinders en finansies. Hoe verskil julle waardestelsels? Is julle emosionele intelligensie op dieselfde vlak?

Nelia Steyn, verhoudingsterapeut