VROUE PRAAT REGUIT… Sosiale media

sosiale media

Sosiale media beïnvloed beslis ons psige. Lesers vertel waarom hulle share, like, kommentaar lewer of verkies om glad nie eens ’n selfoon te hê nie.

Plasings is ’n manier om simpatie te kry

IRMA LEYDEN
“Het julle al gesien watter mooi skaduwees maak die son op water wanneer dit op ’n sekere manier daarop skyn? Of watter ongelooflike kleure ’n brommer het?”

Sedert selfone ontstaan het, het ek nog nooit die behoefte gehad om een te besit nie. Daar was nog nooit vir my enige nut daarin nie. Vir eeue was persoonlike kontak tussen mense genoeg. Waarom nie meer nie?

Vir my het die feit dat ek nie altyd virtueel connected is nie, vrede in my gemoed gebring. Ek is rustig en kalm, nie altyd wagtend vir ’n sinnelose foto van my vriende wat êrens eet nie.

Ek glo die afwesigheid van tegnologie in my lewe maak dat ek meer in die oomblik kan leef, die mooi om my kan raaksien, vandag kan ervaar.

My lewe is meer georden, want mense kan my nie enige tyd kontak om ’n afspraak te verander nie. As ’n reëling getref is, moet almal daarby hou.

Niemand kan my net blokkeer sonder dat ek weet waaroor dit gaan nie. Wanneer iemand my wil laat weet hulle dink aan my, kontak hulle my op die landlyn of maak ’n afspraak om saam te kuier. Tyd en aandag is tog baie meer werd as ’n prentjie met ’n sinlose aanhaling elke dag.

Dit is baie lafhartig om met ’n paar woorde op ’n skerm ’n verhouding te beëindig of ’n rusie te begin. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou woorde en besluite en gaan praat dit persoonlik uit waar jy iemand se lyftaal kan sien en stemtoon kan hoor.

Ek en my man het vanjaar afgetree en bly deesdae op ’n natuurlandgoed waar daar net veld om ons is. Selfs al is dit afgeleë en daarom gevaarlik, is dit steeds my keuse om nie ’n selfoon te hê of op Facebook te wees nie. Ek verruil hierdie vrede vir niks.

Twaalf is te jonk om te mag aansluit

ILONA VAN DEN BERG
Reeds as tiener het ek op Facebook geboer. Ek was onseker van myself. Middag na middag was ek aanlyn in ’n poging om meer vriende en likes te kry. Myns insiens was almal se lewens beter as myne: Daardie een is mooier. Sy is al getroud. Het al kinders.

Om elke uur of halfuur te gaan loer wat ander doen, het my siel en my swak selfbeeld van destyds nie goed gedoen nie. Uiteindelik was die enigste oplossing om vir vyf jaar ’n breuk te neem.

Om konstant ’n kykie in ander se lewens te hê is nie goed nie. Die “perfekte” prentjie wat almal skep, het my eensaam, geïsoleer en jaloers op die ander gemaak – ’n plek waar ek nooit in my lewe weer wil wees nie.

In daardie vyf jaar kon ek die tyd gebruik om te breek met die drang om obsessief na almal se profiele te gaan loer. Ek het tyd gehad om my identiteit te bou en vir myself lief te word.

Kinders moet ouer as twaalf wees wanneer hulle toegelaat word om sosiale media te gebruik. Dit was die belangrikste deel van my vormingsjare waarin ek uiters beïnvloedbaar was sonder om ’n idee te hê wie en wat ek is.

Facebook is die laaste plek waar tieners hulle identiteit moet soek, want om jouself te meet aan die “perfekte wêreld” wat my vriende aanhoudend geplaas het, was wat my sielsongelukkig gemaak het. Nooit weer wil ek teruggaan na daardie donker tyd toe likes en comments al was waarvoor ek geleef het nie.

In plaas van om bekommerd te wees oor hoeveel vriende ek het en wie van my foto’s hou, is dit nou ’n sosiale platform om kontak te hou met mense wat regtig saak maak.

Sosiale media is baie real

TRISA HUGO
Die paartjie oorkant my aan die tafel het my aangenaam verras, want dit was presies hoe ek hulle voorgestel het. Dis vir my baie belangrik wie ek selfs in my virtuele lewe toelaat en hierdie mense is presies soos ek hulle voorgestel het. Nuwe vriende, nuwe idees, nuwe moontlikhede.

Aanvanklik was ek onder die indruk dat Facebook net ’n virtuele kuierplek is, maar dit is baie meer. Dit is ’n plek om belangstellings uit te leef, maar ook ’n manier om ’n diens aan die gemeenskap te lewer. Met een van die groepe wat ek gestig het, word werknemers en moontlike kandidate by mekaar gebring.

Dit is wonderlik as mense op my skryfstukke reageer selfs al verskil hulle. Dis as’t ware ’n bevestiging dat my stem saak maak. Nog eienskappe wat ek ontdek het, is leierskap, fasilitering en organisasie.

Vir die eerste keer in my lewe trek ek grense. Sosiale media gee aan boelies ’n anonieme platform om lafhartig menings op jou profielblad te lug. Opsies soos unfriend en block is daar vir ’n rede. Ek hanteer Facebook deesdae soos my huis. Niemand kom ongenooid in my huis om meubels rond te skuif nie, waarom sal ek dit in die virtuele wêreld toelaat?

Vir my is sosiale media baie werklik. Net ’n virtuele wêreld, maar ’n wêreld. Facebook is real, very real. Dit is ’n verlengstuk van my lewe, my gedagtes en dade. Dit is ’n platform waar ek soveel van myself kan ontbloot as waarmee ek gemaklik is.

Dis ongelooflik hoe ek keer op keer eienskappe van iemand ook in die werklikheid vind. Daar is soveel ooreenkomste tussen hulle aanlyn profiel en wie hulle in die werklikheid is – dit is amper skrikwekkend.

Tot dusver was ek gelukkig. Die diep spirituele gesprekke wat ons in die kuberruim gehad het, kon in die werklikheid saam met goeie kos en wyn voortgesit word. My enigste bekommernis is dat Facebook in die huidige formaat sal verdwyn. Vir my is dit ’n lieflike dagboek van my lewe, my denke.

Sosiale media is ook ’n verslawing

CHARNÉ CRONJÉ
Dit was seker die eensaamste tyd in my lewe. My man het ’n betrekking op ’n baie klein dorpie gekry. Omdat ek hom elke aand wou sien, het ek saam getrek na ’n klein, afgeleë plaasgemeenskap. Ek was ses maande swanger met geen familie naby nie, en die eensaamheid my oorval.

’n Paar jaar gelede het ek die aanlyn ondersteuningsgroep, Mammas 24/7, wat deur ’n vriendin begin is, oorgeneem. Dit is ’n virtuele platform waar ma’s veilig voel, hulleself kan wees, bemoedig kan word en ondersteuning kan kry.

Dit het my redding geword. Dit het gevoel of ek weer deel is van ander mense en ook nie alleen met vrae oor moederskap worstel nie. Terselfdertyd het dit gevoel of ek iets nuttigs doen.

Ek het ervaar hoe mense kan saamstaan en ’n eenheid vorm. Dit is ’n maklike en vinnige manier om ’n antwoord te kry van mense wat in dieselfde bootjie as jy is.

Dit kan beslis gebeur dat jy so vasgevang word in die getal likes of interaksie wat jy aanlyn kry dat sosiale media soos ’n dwelm word. Dit is daardie gevoel van virtuele samehorigheid. Myns insiens is dit so maklik om verslaaf te raak aan dié gevoel dat dit selfs tot huweliksprobleme kan lei.

Ek het ook vriendinne wat sukkel om van die skerm af weg te bly. Hulle móét net gou nog hierdie boodskap stuur, kommentaar lewer daar, en sien wat hierdie vriendin die naweek aangevang het. ’n Uur later sal sy steeds met haar neus diep in haar foon wees.

Facebook is my werk, en nie regtig vir my persoonlike gebruik nie. Ek sal nooit ’n totale breuk met sosiale media kan bewerkstellig nie, maar ek beperk dit deur selde na ander se plasings te kyk. Wanneer ons gesinstyd het, probeer ek my foon ten minste vir daardie tye wegsit al kan dit nooit net afgesit word nie.

Virtuele empatie het my gehelp om te rou

SULETTE THOMPSON-WIESE
Na my man se dood het ek my geweldig onttrek van mense. My gemoed was op ’n baie slegte plek. Die lewe het nie vir my enige sin gehad nie.

My dogter het ’n profiel vir my begin, wat in daardie stadium van my lewe die beste ding was wat kon gebeur het. Skielik was daar mense wat in dieselfde bootjie as ek was. Dieselfde vrae, dieselfde pyn, dieselfde hartseer.

Die verandering wat Facebook gebring het, was kontak met die buitewêreld. Ek het ’n nessie van pyn vir myself geskrop en wou nie met iemand praat nie. Net om uiteindelik my pyn te verwoord was ’n verligting.

Likes was nie vir so belangrik nie, maar uit kommentaar kan ’n mens aflei as iemand swaarkry. So dikwels het dit gebeur dat gesprekke op Messenger later oorgaan na die werklikheid. Daardie gevoel om iemand te kan help het wonders vir my gemoed gedoen.

Facebook is ’n vorm van virtuele empatie. Daardie kort opmerking of like het vir my soos ’n kopknik in die werklikheid gevoel. Ons enkelvroue het teen mekaar speletjies gespeel wat ons self uitgedink het.

En ons het gepraat. Baie gepraat, want uiteindelik het ons ’n medium gehad om mekaar te troos en virtuele drukkies aan mekaar te stuur. Eintlik weet min mense wat werklik in jou lewe aangaan. Jy dink jy is die enigste een wat seer het, en op ’n manier raak gedeelde pyn meer hanteerbare pyn.

Deesdae is ek nie meer so baie op Facebook nie. Behalwe om inligting te deel, gebruik ek dit ook as ’n aanlyn dagboek en erfenis vir my kinders en kleinkinders.

GESELS SAAM!
Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 minuut lank, na 062 194 2334. Luister elke Vrydag na jou en ander se bydraes by voelgoed.co.za/vroue-praat-reguit.

SOSIALE MEDIA MAAK JOU NIE “IEMAND” NIE!

Een van die redes waarom mense op sosiale media boer, is die heel basiese behoefte om te behoort. Die verkeerde gebruik daarvan kan dit egter in ’n tragedie laat ontaard.

Sosiale media is nie jou vriendin nie

Facebook het sy tyd en plek as ’n manier om bemarking te doen, ou kennisse op te spoor en op hoogte te bly van wat in vriende en familie se lewens aangaan.

Iemand wat nie in die werklike lewe stewig geanker is in gesonde verhoudings met mense van vlees en bloed nie, sal probeer om daardie leemte te vul en hier word die aantal friends en likes dan die maatstaf waarmee hulle aanvaarding meet.

Vind bekragtiging in die regte wêreld

Die probleem lê in die manier waarop Facebook benut word. Gesonde mense sal dit meestal op gesonde maniere benut. Gebroke mense, wat boonop nie in die werklike lewe sterk geanker is in gesonde verhoudings nie, sal hierdie platform op ’n manier inspan wat tot hulle nadeel is. Goeie verhoudings in die werklike lewe is belangriker as virtuele verhoudings. Dus, werk aan jou verhoudings, dié van vlees en bloed.

Intieme detail is vir mense wat dit verdien

Hou dit wat persoonlik en vertroulik behoort te wees, vir jou binnekring van vriende in die werklike lewe. Deel die goeie en slegte dinge in jou lewe, weg van sosiale media met mense van vlees en bloed wat jou belange op die hart dra en jou menswees respekteer. Jy kry dalk hope reaksie wanneer jy jou pyn op Facebook uitbasuin, maar daardie mense het dikwels geen werklike meelewing met jou nie en jou hartseer word die volgende brokkie skindernuus op hulle eie tydlyn.

Amanda de Lange, lewensafrigter