Vyf leuens oor die son en velkanker

0
70
velkanker_0.jpg

Hoeveel weet jy régtig van velkanker? Hierdie vyf mites het jou dalk ook mislei na ’n valse sekuriteit.

Suid-Afrika se sonskynklimaat is beide ’n seën en ’n vloek. Die lekker weer kom teen ’n prys, want Suid-Afrika se voorkoms van velkanker is van die hoogste ter wêreld. Ons ontmasker vyf mites oor sonbrand wat vir jou ’n valse gevoel van veiligheid kan gee.

1. Net oumense kry velkanker

Volgens KANSA vind ten minste 80% van sonskade voor jou 18de verjaarsdag plaas. Die simptome kan egter eers baie later in jou lewe na vore begin kom. Dit is waarom jong vroue nie met ’n valse gevoel van veiligheid in die son kan lê omdat hul velle “jonk en sterk” is nie. Navorsing toon ook dat vanaf 1970, die voorkoms van kwaadaardige melanoom (die dodelikste vorm van velkanker) met 706% vermeerder het by vroue tussen die ouderdom van 18 en 39.

Dit is nog belangriker om jong kinders teen die son te beskerm. Ons is gou om hulle spierwit op die strand of by die swembad te smeer wanneer ons op vakansie is. Maar wat van by die huis, op die atletiekveld of wanneer hulle buite speel? Maak dit deel van jou en jou kinders se daaglikse roetine om hulle voor hulle die oggend by die deur uitgaan, eers met sonbrandroom te smeer.

2. Ek het vitamien D van die son nodig

Dit is wel waar dat ons liggame vitamien D produseer wanneer dit aan UVB-strale blootgestel word. Volgens die Velkankerstigting het jy egter baie minder tyd in die son nodig as wat jy dink om die vitamien te vervaardig. ’n Persoon met ’n ligte tot medium vel het slegs 5 minute daagliks in die son nodig vir vitamien D-produksie om sy maksimum vlak vir die dag te bereik. Wanneer jy te lank in die son sit, kan dit egter jou vlak van dié vitamien verminder. Onthou dat lewertraanolie-aanvullings ’n hoë vlak van vitamien D bevat. Drink eerder dit as om in die son gaan lê, maar hou by die voorgeskrewe dosis. Te veel kan toksies wees.

3. Sonbeddens is veiliger as ’n natuurlike sonbruin

Talle dokters en dermatoloë meen sonbeddens moet groot, duidelike gesondheidswaarskuwings bevat. KANSA sê daar is ’n direkte verband tussen velkanker en die gebruik van sonbeddens. Hulle is besig met ’n veldtog om dit onwettig te maak vir kinders onder 18. Die waarheid is dat dié metode van verbruining nog gevaarliker is as die son. Die nuwegenerasie-sonbeddens is toegerus met hoëdruksonlampe, wat nog meer UV-strale as gewone sonlig bevat. Vroue wat gereeld daarvan gebruik maak, ontvang jaarliks 12 keer meer UVA-strale as wat hulle van gewone sonlig sou ontvang. Volgens die Velkankerstigting het dié groep vroue ’n nóg groter kans om velkanker op te doen. Die enigste veilige sonbruin kom uit ’n botteltjie!

4. Jy brand nie wanneer dit bewolk is nie

As dit ’n bewolkte dag is, het jy mos nie sonskerm nodig nie? Dink weer! Net omdat jy nie jou skaduwee kan sien nie, beteken dit nie dat jy veilig is nie. 80% van skadelike UV-strale kan steeds deur die wolke en selfs mis dring. Jy is ook nie veilig onder daardie strandsambreel nie. Die sand kan tot 20% van die UV-strale terugkaats. Tog is die beste tyd om op die strand te wees tussen 10:00 en 15:00, wanneer die UV-strale op hulle sterkste is.

5. SBF 50 sal my die hele dag beskerm

Die sonbeskermingsfaktor (SBF of SPF in Engels) wat op die houer staan, is ’n aanduiding van hoe goed die sonroom jou vel teen UVB-strale sal beskerm. Dit dui aan hoe lank jy in die son kan bly voor jy brand, in teenstelling met wanneer jy geen sonskerm aan het nie. Indien dit 3-4 minute neem vir ’n onbeskermde vel om rooi te raak, sal die gebruik van ’n SBF 30 sonskerm die rooi verkleuring met 30 maal vertraag (dit wil sê ’n gemiddeld van 1½ tot 2 uur).

Selfs al gebruik jy ’n sonbrandroom met ’n SBF 50 sal jy ten minste elke vier uur ’n nuwe laag moet aanwend. As jy boonop aktief is en sweet, of swem en jou afdroog, vermeerder die aanwending tot ten minste elke twee uur.

Sonbrandroom gee my dan puisies!

Talle vroue is geneig om sonbrandroom te vermy, omdat hulle meen dit verstop porieë en los ’n vetterige laag op hulle vel. Eucerin se Dermo Purifyer Adjunctive Hydrating Care is ’n bevogtiger met ’n SBF van 30. Die produk is spesiaal ontwikkel vir velle wat sensitief is vir die son as gevolg van akneebehandelings soos salisielsuur en Roaccutane. Die nie-olierige formule word dadelik deur jou vel geabsorbeer en daar is geen vetterige lagie wat oorbly nie.

Kry só die meeste uit jou sonskermroom

1. ’n Klein blertsie sonroom gaan jou nie beskerm nie. Vir die beste beskerming sal jy ten minste drie eetlepels sonbrandroom moet gebruik.
2. Dit help ook nie eers jy sit dit op die strand aan nie, dan het die sonstrale jou al lekker gekarnuffel. Die regte tyd is 30 minute voordat jy uitgaan.
3. ’n Laag sonbrandroom vroeg in die dag sal jou nie die hele dag beskerm nie. Jy moet dit ten minste elke twee uur aanwend, en nog meer gereeld as jy swem en jou daarna met ’n handdoek afdroog .
4. Kenners stel voor dat jy niks minder as SBF 30 gebruik nie.
5. Kyk uit vir die KANSA Seël van Erkenning. (KSVE). Dit waarborg dat die vervaardigers van hierdie UV-beskermende produkte aan die streng kriteria voldoen soos deur KANSA bepaal.

Wees sonslim met selfies

Neem gereeld (minstens een keer elke twee maande) nabyskote van jou moesies en enige ander vlekkies op jou gesig en lyf met jou kamerafoon. Nou het jy fotografiese bewyse vir wanneer een van jou moesies vreemd begin lyk. Navorsing toon dat dit ’n meer akkurate vorm van selfdiagnose is, eerder as om net op jou geheue staat te maak. So het jy ook ’n verwysing om vir jou dermatoloog of dokter te wys.

Aanvullende bronne: www.cansa.org.za; www.skincancer.org