Vyf wenke vir Ma-wees

Ma-wees

Ek is seker elke ma het al moedeloos op die kombuis vloer gesit en wonder of sy ‘n goeie ma is, terwyl sy ‘n bordjie vol halwe chicken nuggets sit en eet.

Ons kan so vining moedeloos raak as ons hoor van ‘n vriendin wie se kinders net organiese kos eet, en die ander wie se kinders glad nie terug praat nie. Ons wil die perfekte ma wees en ons wil die perfekte kinders grootmaak, maar mamma daar is nie iets soos perfek wees nie. So staan op, sluk daardie laaste chicken nugget af, maak vir jou ‘n koppie te en doen jou beste, jy kan dit doen en jy IS ‘n goeie ma! Intussen, is hier vyf wenke wat ek geleer het, wat ma-wees vir my makliker gemaak het:

  1. Kyk na jouself

Mamma, jy kan nie gee as jou tenk leeg is nie. Al wil ons ma van die jaar wees kan ons ongelukkig nie van onsself gee as ons nie na onsself kyk nie. Vat tyd vir jouself, al is dit net om in die bad te lê sonder dat klein handjies onder die deur inloer.  Gaan vat n stappie óm die blok of kyk ‘n lekker voel-goed fliek. As die begroting dit toelaat gaan kry ‘n pedicure of kleur jou hare. Jy is nie ‘n slegte ma as jy net so rukkie vat vir jouself nie.

  1. Ondersteuning

Het jy al ooit met ‘n ander mamma gepraat en skielik besef jy is nie alleen nie? Haar kind weier ook om speelgoed op te tel, hy wil ook net koekies eet vir aandete en sy emosies styg vining as hy nie sy sin kry nie. Praat met ander mamma’s, gaan drink ‘n koffie en deel jou hart. Vra vir jou vriendinne om saam met jou te bid deur moeilike fases en vra vir advies wanneer jy moedeloos is met die vel uitslae en slaap roetines. Moenie bang wees om te vra nie. Ek ken nie ‘n ma wat nie sal spring om ‘n ander mamma te help nie.

  1. Probeer is die beste geweer

Dit het baie probeerslae gevat todat ons ‘n roetine gekry het wat vir ons dogtertjie gewerk het. Vetrou jou moederinstink want jy ken jou kind die beste en as jy weet dat ‘n sekere tegniek nie werk vir jou kind nie, probeer iets anders tot julle ‘n plan kry wat werk. Ek glo dat net soos ons, is ons kinders almal verskillend en daar is verskillende maniere om hulle te disiplineer. Moenie opgee nie, daar is ‘n manier wat vir julle gaan werk.

  1. Stel ‘n voorbeeld

Iemand baie slim het eendag gesê “Kinders doen nie wat jy sê nie, hulle doen wat jy doen” Verlede jaar het hierdie waarheid my reg tussen die oë geslaan. Ek het besef dat as ek wil hê my dogtertjie moet wortels eet, beter ek ook daardie wortels eet. My een vriendin het altyd ‘n groot bak vrugte in die kombuis en as ons daarheen gaan wil die kinders altyd ‘n vrug eet. Ek het toe ook begin om die vrugte mooi uit te stal in ons huis en binne ‘n paar dae het my dogtertjie begin vra vir vrugte. Jy moet gewillig wees om iets self te doen as jy verwag jou kind moet dit ook doen.

  1. Maak dit pret

Ek besef ons het meer as een rol wat ons moet vervul; vrou, ma, dogter, werknemer, vriendin en die lys gaan aan… Al die rolle laat ons soms moeg en uitgeput. Partykeer as jy by die huis kom is jy moeg na talle vergaderings en moeilike kliente, dan hardloop jou kind in die gang af en skree soos sy lag (of dalk gebeur dit net in ons huis) en die laaste ding wat jy wil doen is om ook te hardloop en te gil. Ek het besef dat wanneer ek my foon neersit en saam in die gang hardloop soos ‘n lawwe hoender, is dit die dae wat ek meer samewerking kry en dan raak sy sommer vinniger aan die slaap in die aande. Dit kan nie altyd net lekker speletjies wees nie, maar probeer om ten minste een keer per dag saam met jou kind te speel, dit is goed vir jul verhouding en die Fitbit kort mos altyd ‘n ekstra paar tree vir jou daaglikse doelwitte.

Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat vir my gewerk het. Elke gesin is anders en elke kind uniek. Kry iets wat vir jou gesin werk en onthou om nie alles so ernstig aan te pak nie. Onthou dat jou kind eendag eerder jou gaan onthou wat dokter-dokter gespeel het as ‘n huis wat skoon en netjies was.

Vorige artikel‘n Lekker droom – letterlik!
Volgende artikel“Respek word verdien” is nie bybels nie!
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.