Waag dit om te droom!

0
1156

Elke vrou het ’n droom wat sy diep in haar hart bêre. Maar hoor hier: Dis nooit te laat om dit te begin leef nie!

As dit nie was dat kolonel Sanders nog een keer probeer het nadat sy braaihoenderresep 1009 keer afgekeur is nie, het ons nie vandag heerlik aan KFC-hoender gesmul nie. Net een “ja” was nodig om sy droom waar te laat word.

Ons almal weet dat Oprah Winfrey afgedank is omdat sy nie “geskik” was vir televisie nie. Toe begin sy haar eie kletsprogram – en word ’n miljoenêr. Daar is baie mense wat ’n droom gehad het, maar eers ’n hele paar keer misluk het voor hulle sukses behaal het. As jy dus nog altyd gedink het dis nie so maklik om jou droom waar te maak nie, is jy heeltemal reg!

Dit moet jou egter nie keer om vlerke daaraan te gee nie. Dit maak nie saak watter hindernisse in jou pad staan nie. Dit maak nie saak of mense jou al afgeraai het om jou eie kop te volg nie. Baie ander voor jou het dieselfde ondervind, maar vasgebyt en aangehou – en bo uitgekom.

Jy vra miskien: Hoe is ek veronderstel om my drome waar te maak as ek kniediep in die skuld is? Of: Waar sal ek die geld, tyd of vaardighede kry? Dis menslik om aan jou eie vermoëns te twyfel. Dis glad nie lekker om te misluk nie, veral nie as ander sien hoe jy in die stof byt nie. Tog is mislukking deel van die lewe – dit is baiekeer ’n springplank om verder te kom.

Om te droom is nie net ’n formule wat ’n mens oor en oor herhaal sonder om iets te doen nie. Dis ’n manier van leef. Die oomblik dat jy iets kan visualiseer, kan jy dit najaag met alles in jou. Dan kan jy enigiets bereik. Moenie bang wees om hoog te mik nie. Moenie dit glo as iemand vir jou sê dit kan nie gedoen word nie. Moet nooit toegee aan die vrese wat jou wil lamlê en daardeur toelaat dat jou drome jou bly ontwyk nie.

Dit gaan nie altyd maanskyn en rose wees nie. En dit gaan opofferings van jou vra. Gelukkig word dit mettertyd makliker. So, dink gou, as jy dit kon waag om te droom, wat sou jy wou doen? Ek wed jou jy ken die antwoord. Droom groot en jy sal begin blom. Sodra jy daardie besluit geneem het en aan jou doelwit begin werk, sal dinge regkom.

Leer om jou emosies reg te hanteer

Lynette Beer

Die meeste van ons bestee baie tyd en energie daaraan om ons emosies te ontken, te onderdruk of op ’n verkeerde manier uiting te gee daaraan. Dit kan jou uitput en frustreer en jou verhoudings benadeel. Jy moet leer hoe om die onbewustelike patrone wat jou saboteer, te herken, sodat jy dit kan verander of laat vaar.

Die emosionele deel van die brein reageer ongeveer 80 000 keer vinniger as die logiese deel. Dis daardie veg-of-vlug-reaksie wat in ons is van die dae dat ons oergrootjies se lewens deur allerhande gevare bedreig is. Emosies soos woede en vrees, wat op bedreiging gebaseer is, is ontwerp om vinnig opgewek te word en om selfs ander, positiewe emosies te onderdruk. Gestel jy het ’n argument met ’n vriendin of jou man. In die hitte van die oomblik vergeet jy die goeie kant van daardie persoon en hamer net op die negatiewe dinge.

Met ander woorde, as ’n mens heeltyd aan moontlike bedreigings dink, sal die kans groter wees dat angstige gedagtes by jou sal opkom. Negatiewe emosies soos haat, bitterheid, jaloesie, onvergewensgesindheid en nydigheid is jou vyande omdat dit vernietigend werk. Dit het letterlik die mag om jou weg te dryf van God se plan vir jou lewe. Dit kan enige goeie bedoelings wat jy ooit vir jou lewe en toekoms gehad het, vernietig. Jy moet vandag ’n besluit neem om hierdie dinge te laat gaan. Just let it go!

Ons laat te maklik toe dat een gebeurtenis ons hele lewe definieer. Kan jy dink wat sou met Josef gebeur het as hy vasgehaak het by die feit dat hy deur sy broers as slaaf verkoop is? Die Bybel se geskiedenis sou baie anders gelyk het, en Josef sou nooit sy drome verwesenlik het nie.

’n Harvard-sielkundige, Jerome Bruner, het gesê: “Dit is meer waarskynlik dat aksie jou ’n gevoel sal gee as dat ’n gevoel jou in aksie sal kry. Tree op. Doen die dinge wat jy weet jy moet doen.”

Wil jy graag leer hoe om jou gevoelens beter te hanteer? Dan moet jy bereid wees om gehelp te word op God se manier en nie joune nie. Gee jouself volkome oor aan Hom en vertrou Hom. Hy weet die beste. As jy op die regte pad bly en jou oortollige bagasie agterlaat, sal jy sommer gou daardie vrede, blydskap en vervulling vind wat nog altyd buite bereik was.

Wees geestelik taai en dink soos ’n wenner

Jannie Putter

Mense glo om hulle drome te bewaarheid sal maklik en pynloos wees. Jy het dalk al na jou vriendinne gekyk en gedink hulle is heel oukei, al leef hulle nie hulle drome nie. Maar gaan dit regtig so goed met hulle?

Geestelike taaiheid begin by die vraag: Wie is ek? Soos jy jouself sien, so sal jy wees. Wat jy oor jouself glo, word gevorm van voor geboorte af. Wat mense oor jou sê en wat jou ouers van jou gesê het, het ’n spasie geskep waarbinne jy leef. Wanneer ons jonk is, is hierdie spasie redelik rekbaar en veranderlik, maar later word dit minder rekbaar.

Ware kampioene het waardes soos integriteit, dissipline, betroubaarheid, nederigheid, passie, wysheid. Hierdie eienskappe kan aangekweek word – dit is nooit te laat nie! Is jy tevrede met wie jy vandag is? Of is daar iets omtrent jouself wat moet verander? Miskien dink jy ander mense of jou omstandighede moet eers verander. Nee, dit werk nie so nie!

Om bereid te wees om op te offer vir jou droom, moet jy begin met die eindpunt in gedagte. As ’n mens ’n duidelike prentjie het van waar jy oor vyf of tien jaar wil wees, is dit makliker om elke dag klein opofferings te maak.

Nou moet jy aan hierdie prentjie begin bou. Begin praat in die rigting waarheen jy op pad is en nie waarvandaan jy kom nie. Praat van dinge waarop jy hoop asof dit reeds so is en jy sal binnekort die vrugte daarvan geniet!

Sê byvoorbeeld: Ek is getroud met die wonderlikste man en ek is die beste vrou vir hom. Of: Ons is die beste ouers vir ons kinders en ons maak hulle groot met wysheid. Of: My Skepper beplan net die beste vir my. Dit help natuurlik nie om net te praat, maar niks te doen nie. Sorg dat jy die beste word in dit wat jy goed kan doen. Leer by ander wat ook daarin uitblink, maar behou jou uniekheid. Vertrou jouself om jou eie manier te vind om die beginsels toe te pas.

Jou lewe het ’n ritme. Sommige dae is jy beter en sterker as ander dae. Moenie teen die ritme veg nie, maar leer om daarvolgens te dans. Aanvaar waar jy vandag is en maak die beste daarvan. Dis nie die feite wat tel nie. Wat jy glo kan gebeur, is wat tel!

Wees kreatief en kry ’n buitengewone lewe

Kobus Neethling

Elke mens streef daarna om haarself te verbeter en droom oor amper onbereikbare doelwitte. Ongelukkig word baie min mense se drome ooit waar. Dit hoef nie so te wees nie! Jy kan jou doodgewone lewe verruil vir ’n buitengewone een deur net anders te begin dink.

Beweeg weg van “Ek kan nie” na “Ek kan!” Hiervoor is kreatiwiteit nodig. Dit beteken natuurlik glad nie jy hoef mooi te kan teken of te kan hekel of klere maak nie. Navorsing het bevind dat 98% van drie- tot vyfjariges besonder kreatief is. Teen die ouderdom van tien jaar daal die syfer tot 32%, en teen vyftien het slegs sowat 10% van tieners dieselfde vlak van kreatiwiteit. Slegs 2% van volwassenes is nog besonder kreatief.

Tog kan jy weer jou kreatiewe vlammetjie aan die brand steek. Jy moet oplossings sien en nie net altyd teen die probleem vaskyk nie. Vra vrae soos: Wat anders sal werk? Watter ander moontlikhede is daar nog? Hoe meer opsies jy oorweeg, hoe groter is jou kans op sukses.

Die sukses van jou maatskappy, jou verhoudings, jou gesin of jou huwelik hang af van hoeveel idees jy het en of jy bereid is om te soek na oplossings. Kyk ’n slag uit ’n ander hoek na jou situasie. ’n Goeie idee kan jou op die snaaksste tye te binne skiet. Hou ’n notaboekie byderhand of maak ’n idees-dokument oop op jou rekenaar en teken dit dadelik aan.

Vergeet daarvan om in te pas. Jy moet kan uitstaan as jy iewers wil kom. Natuurlik sal dit moed verg, want jy kan gekritiseer word en teenstand kry. Moet jou egter nie steur aan wat ander sê nie. Goed, jy het ’n oulike idee, maar dit gaan baie werk kos om dit tot uitvoer te bring. Dan moet jy dit eerder los, reg? Dit is presies hoekom daar so min van ons goeie idees kom. Ons moet bereid wees om die werk te doen.

Vra die vrae: Hoekom? Wie? Wanneer? Wat? Beplan dan die aksiestappe om by jou einddoel uit te kom en begin net! Jy het passie nodig om hiermee vol te hou. Jy moet aan een idee kan werk tot dit wérk. Onthou, daar is nooit net een antwoord nie. Daar is gewoonlik meer as een manier om na jou situasie te kyk. Selfs jou foute kan ’n deurbraak wees en jou op die regte pad na sukses plaas.

Ontdek jou doel en skep jou eie welvaart

Wouter Snyman

Oor die algemeen kort mense die kennis en vaardighede om welvaart te bou. Daarom moet jy van voor af oor geld leer en jou houding teenoor finansies verander. Jy moet anders begin dink!

Jy kan jou finansiële gewoontes verander en jou geldsake verbeter – ongeag hoeveel kapitaal jy op die oomblik het. Om enige area van jou lewe te verbeter, is daar eers ’n paar belangrike dinge wat uitgeklaar moet word. Wat is dit wat jy wil hê? Die meeste mense kry nie wat hulle uit die lewe wil hê nie, bloot omdat hulle nie presies weet wat hulle wil hê nie.

Jy moet ook weet hoekom jy dit wil hê. Dit wys vir jou watter waardes vir jou belangrik is. Die “hoekom” is die emosie agter die “wat”. Dit gee die motivering en die energie om jou gewoontes te verander. Die vraag is: Hoekom het jy nog nie dit wat jy so begeer nie? Dis belangrik om by die ware rede uit te kom, want eers dan sal jy weet wat om van nou af anders te doen.

Nou moet jy beplan hoe om jou doelwit te bereik. Geen mens kan dieselfde dinge aanhou doen en ander resultate verwag nie. Dit help natuurlik nie jy beplan net en doen niks. Jy moet die aksiestappe volg wat nodig is om jou droom te bewaarheid.

Ons is so gewoond daaraan om van dag tot dag te oorleef en net-net genoeg geld te hê tot die einde van die maand. Ons vergeet van môre en dat ons daaglikse finansiële besluite ons toekoms raak. ’n Mens verval maklik in ’n groef – jy staan elke oggend dieselfde tyd op, eet dieselfde ontbyt, ry dieselfde pad werk toe. As jy tevrede is daarmee om met min geld klaar te kom, sal jy altyd min hê. Daarom moet jy jou ingesteldheid teenoor geld verander. Jy mag meer hê!

Begin deur anders oor jou finansiële posisie te praat. Moenie heeltyd sê hoe duur iets is of dat jy dit nie kan bekostig nie. Hoe meer jy oor jou gebrek aan finansies praat, hoe negatiewer is jou ingesteldheid. Verander jou houding teenoor geld en jy sal sien hoe jou lewe verander. Daar is krag in positiewe en opbouende woorde.

Jy is nie ’n passasier nie, maar die bestuurder van jou lewe. Jyself bepaal jou eindbestemming en niemand anders nie. Jy skep jou eie welvaart!

Saam met Hom kan jy berge versit!

Liesel Krause-Wiid

Ons lees dat God “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Ef. 3:20). Hy kan enigiets doen – baie meer as wat ons ons ooit sou kon voorstel. Hy doen dit dalk nie deur jou omstandighede te verander nie, maar deur in jou te werk en jóú te verander.

God het in elke mens ’n droom geplant. Dit is daardie idee, daardie visie vir jou lewe wat jy nie kan ignoreer nie. Dit sal altyd terugkom na jou toe, want dis deel van jou DNS. Hoe weet jy wat Sy wil en droom vir jou is? In die eerste plek moet jy bid en vra vir vrede oor jou besluit. Lees die Bybel. Dit bevat nie ’n wenresep vir sukses nie, maar jy kry tog duidelike riglyne daarin.

Gebruik jou verstand! Dis seker die moeilikste deel, want ons vertrou nie altyd ons eie keuses nie. Moenie vergeet dat daar mense is wat vir jou geestelike mentors kan wees nie. Dit kan ’n geestelike leier wees na wie jy opsien of selfs ’n vriendin of jou ma.

Jou droom moet jou ’n klein bietjie bangmaak en jou asem wegslaan. As jy voel dat dit te groot is om sonder God aan te pak, kan jy maar weet dit kom van Hom af! Hoe meer onmoontlik iets lyk, hoe moontliker is dit vir Hom. Vertrou net en doen elke dag wat jy moet.

My ma is ’n wonderlike sakevrou en haar lewensleuse is: Ora et labora. Dit beteken “bid en werk”. Doen jou bes en vertrou Hom dan vir die res. Mik hoog. Al bereik jy nie die hoogste sport nie, sal jy minstens beter doen as wanneer jy met die minste tevrede is.

Soms dwing finansies of omstandighede mense om ’n ander lewe te lei as wat hulle sou wou. Probeer dan om ’n paar uur per week jou droom uit te leef. Dalk is dit om siekes te besoek, of om mense moed in te praat of inspirerende boodskappe op Facebook te laai. Dink mooi watter klein treetjies jy kan neem om daarby uit te kom. Onthou, Hy het daardie saadjie in jou hart geplant. Moenie die passie weggooi wat jy lank terug gehad het nie. Jy het unieke gawes en talente gekry. Daarom sál Hy jou mos help om dit ’n realiteit te maak!

BOEK: Droom jy groot genoeg? Kliek hier om te koop.