Waag meer en lééf meer!

1372

Jy smag na groei en uitdaging, maar jy ploeter elke dag op dieselfde manier aan. Konfronteer ’n slag jou vrese en voel goed oor jouself!

Die woord “gemaksone” klink lekker, nè? Dit laat ’n mens dink aan daardie gunstelingstoel waarin jy so ontspanne, kalm en sorgvry voel.

Ons het almal ons persoonlike gemaksone. Dit is daardie innerlike termostaat wat aandui met watter gedagtes, mense, aksies en plekke jy gemaklik is. Binne jou gemaksone is daar geen verrassings nie.

Die vraag is: Is dit regtig die beste plek om te wees? Hoë mure en ’n alarmstelsel laat jou veilig voel, maar as jy te bang is om buite hierdie gebied te beweeg, kan jou hawe ook jou tronk word.

Wees dapper en jy sal baie wen

Boervrou Anna-Marie Craven moes ter wille van oorlewing uit haar gemaksone beweeg. Met geen ondervinding nie het sy ’n tuisonderneming begin nadat ’n langdurige droogte haar man gedwing het om vir eers ander werk te gaan soek.

“Ek het ’n paar ganse gehad, ’n stuk donsdigte materiaal en ’n foto van ’n Duitse duvet. Na vele probeerslae is die duvet gemaak.”

Haar waagmoed het vrugte afgewerp. Sy het nie net ’n suksesvolle onderneming tot stand gebring nie, maar het ook persoonlike groei ervaar, tot haar eie en ander se voordeel. Die kennis wat sy opgedoen het, het ’n rykdom in haar lewe gebring wat sy met ander kan deel.

“Daar is ’n tyd vir alles. ’n Mens weet goed wanneer jy uit jou geriefsone moet stap, maar vrees verlam ons lam dikwels. Soms is ons so besig om te wag vir vuurwerke dat ons nie die vuurvliegie hier voor ons sien nie,” sê sy.

“Doen daardie opdrag D wat vir jou na niks lyk nie en beleef die ongelooflike lekkerte van: ‘Ek het iets gedoen!’ Jou poging is dalk nie die grootste, mooiste of beste nie en miskien merk niemand dit eers op nie, maar jý weet!”

Duidelike doelwitte keer dat jy in ’n groef beland

Kapenaar Ricky de Agrela het 64 000 km in ’n mikrovliegtuig afgelê. Hy sê jy moet ’n tydsbeperking stel en jou rustyd gebruik om nuwe ideale te vind. Vrees is nie altyd sleg nie; dit kan die dryfveer wees wat jou tot nuwe hoogtes uitdaag.

As jy binne jou gemaksone bly, groei jy nie as mens nie. Om uit hierdie veilige plek te beweeg beteken dat jy jou vrees en ongemak moet konfronteer. Dit vra waagmoed, maar die beloning is ’n vervullende en opwindende lewe.

As jy voel asof jy wil tou opgooi, visualiseer twee van jouself. Die een is die mens wat jy graag wil wees en die ander een is die persoon wat jy nié wil wees nie. Die uitkoms is in jou hande!

Begin klein en sê totsiens vir jou vrese

Maak ’n lysie van die dinge wat jy vrees. Groepeer die vrese van die kleinste na die grootste. Begin dan by een van jou klein vrese en besluit om dit te konfronteer. As jy bang is vir die onbekende, moenie daarteen baklei of dit ontken nie. Erken jou gevoelens en laat dit deur jou vloei.

Oorkom jou vrees deur positiewe verklarings oor jouself neer te skryf. Byvoorbeeld: “Ek is emosioneel sterk en kan goeie besluite neem” of: “My liggaam is sterk en gesond.” Herhaal hierdie sinne ten minste tien keer per dag, selfs al glo jy dit nie aanvanklik nie.

Visualiseer jou gemaksone as ’n sirkel waarbinne jy staan. Sien in jou gedagtes hoe jy buite hierdie sirkel tree. Ervaar hoe goed jy gaan voel oor jouself sodra jy daardie eerste tree gewaag het.

Begin klein veranderings aan jou lewe en roetine maak. Ry ’n ander pad werk toe of gesels met iemand wat jy nog altyd as “anders” beleef het. Hou jou oë en ore oop vir nuwe ervarings, al is dit net om soesji te eet as jy dit nog nie gedoen het nie!