Waag ’n kans! Maak foute! Dis oukei!

0
19
geloof_2.jpg

Dis vir my baie moeilik om besluite te neem. Ek is altyd bang ek maak die verkeerde keuse. Wat as ek ’n fout maak en almal sien dit raak en lag vir my?

Dis vir my baie moeilik om besluite te neem. Ek is altyd bang ek maak die verkeerde keuse. Wat as ek ’n fout maak en almal sien dit raak en lag vir my?

’n Vrees vir mislukking is een van die algemeenste dinge waarmee vroue worstel. Dis een van die moeilikste hekkies om oor te kom.

Volgens navorsing kan dit wees omdat meisies van kleins af geleer word om gehoorsaam te wees en die reëls na te kom. Hulle word nie eintlik aangemoedig om risiko’s te neem nie.

Sherry Surratt, skrywer en geestelike leier, het dit self beleef toe sy ’n nuwe leierskapsposisie aanvaar het. Sy moes skielik belangrike besluite neem en het ook meer verantwoordelikhede gehad. Omdat sy nie so vinnig kon reageer nie, het sy aan haarself begin twyfel.

En toe gebeur dit: Sherry stel iets nuuts voor, wat nie volgens verwagtings uitwerk nie. Die span het haar gekritiseer en sy het begin angstig raak. Sy het gewonder hoe sy die fout kon regstel en wat mense van haar sou dink. Sy het die mislukking aan haarself toegeskryf.

Hierdie insident het later alles in haar lewe oorheers. In plaas van om die mislukking te gebruik om te groei en beter te word, het sy toegelaat dat haar fout haar kleiner en swakker maak.

Gelukkig het haar beste vriendin vir haar hierdie wyse raad gegee.

Doen elke dag minstens een nuwe ding

As jy elke dag dieselfde dinge doen, raak jou liggaam en siel later afgestomp. Het jy in ’n groef verval om elke dag dieselfde paadjie werk toe te ry, dieselfde soort brood te koop en na dieselfde radiostasie te luister? Probeer ’n slag iets nuuts!

Koop ’n ander soort brood, soos saadbrood, rogbrood of vrugtebrood. Of doop ’n croissant net so in jou koffie. As koffie jou ’n hupstoot gee vir die dag, hoekom nie ’n nuwe soort probeer nie? Of wat van vanielje- of sjokolademelk daarin?

Daar is niks wat jou soveel woema gee as om daardie breinselle met ’n wow-ervaring ’n bietjie wakker te skud nie.

Sê vir jouself: Ek is avontuurlustig, ek het goeie instink, ek kan nuwe dinge hanteer. Dit sal jou oortuig dat jy genoeg selfvertroue het. Voor jy jou kom kry, sal jy ook so optree en minder bang wees om te waag.

Probeer elke keer iets uit jou mislukkings leer

Wees realisties oor mislukking. Dis jou kans om te leer! Dis eintlik goed vir jou as jy nie altyd alles van die begin af regkry nie, trouens, niemand kan dit doen nie. Gaan Google gerus ’n paar bekende mense se name en kyk hoeveel van hulle het al mislukkings beleef.

Jerry Seinfeld is vroeg in sy loopbaan tydens ’n vertoning op die verhoog uitgejou. Teen dié tyd weet jy al dat Oprah afgedank is ná een van haar vroeë televisieoptredes. Die ergste is: Hierdie mense het nie net gefaal nie, hulle het voor almal gefaal.

Ons eie Susan Coetzer se huwelik het misluk, maar sy het nie daar vasgehaak nie. Met God se genade en ’n bekwame terapeut se hulp het sy opgestaan en aan ’n nuwe prentjie begin bou.

Almal het agterna erken dat dit nie lekker was om te misluk nie, maar hulle het nie toegelaat dat hulle mislukkings hulle definieer nie. Hulle het dit gebruik om bo uit te kom.

Wat van Moses, Dawid en Petrus? Almal het drooggemaak, maar nie een het tou opgegooi nie. Hulle het net met groter vasberadenheid teruggeveg – en dís wat die verskil gemaak het.

God het hierdie mense se foute as vertrekpunt gebruik om groot dinge te doen. Hy gee ook nie op met jou nie, hoekom sal jy jouself dan so maklik afskryf?

Moenie net op jou foute konsentreer nie

Hier is die goeie nuus: Jou tekortkominge en mislukkings lyk vir jou baie groter as vir enigiemand anders! Ander mense sien dalk jou foute raak, maar hulle dink beslis nie heeltyd daaraan nie. Hulle is te besig met hulle eie lewens en probleme.

Moet dus nie jou foute groter opblaas as wat dit eintlik is nie. Ontspan! Doen net jou bes en glo dat dit genoeg is. Vra God om jou te wys hoe jy jouself moet sien en om jou die vrou te maak wat Hy reeds beplan het jy gaan wees.

Dis hoog tyd dat jy anders begin dink oor mislukking. En oor wat God van jou dink. Elke vrou het daardie vrees, maar dis wat jy daarmee doen wat tel.

Vertaal en verwerk uit Reframing Failure (Sherry Surratt).

 

 

DEEL
Vorige artikelGroeipyne e-boek
Volgende artikelKry 24/7 energie!
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.