Waar babas vandaan kom

Moeg, oud, selfs dalk ’n bietjie lendelam – ’n goeie beskrywing vir die drie vleuels van die munisipale woonstelblok wat trapsgewys staangemaak is teen ’n valleikant wat afsak na ’n sytak van die Apiesrivier wat net noord van Kerkstraat verbyvloei.

Wanneer jou motor se neus koers kies deur die geroeste palisade skuifhek om parkering te gaan soek iewers op die vuilerige sementblad, moet jy hier en daar koes vir stukke opgekapte sement – die gevolg van halfhartige pogings om ’n ou rioolpyp te vervang wat dalk een keer te veel sy inhoud op die sement-ryvlak uitgespoeg het.

Eenslaapkamer-woonstelle, waarskynlik baie jare gelede gebou vir enkellopende jonges wat die toekoms blinkoog binnegemars het by YSKOR of een van die ander nywerhede in die direkte omgewing. Intussen het dit lae-koste behuising geword – ’n heenkome vir vele gesinne wat as gevolg van verskillende redes nie groter ruimte kan bekostig nie. Ek wonder wat sou die mure van elkeen van hierdie wonings kon vertel as hulle sou kon praat? Dalk sou hulle vir ons tallose verhale van menslike intrige kon vertel. Verhale van enkelma’s wat, na ’n dag se harde werk, moeg voor die stoof vir hulle kinders skree om te gaan bad. Verhale van mense wat té gereeld baie diep in glasbottels loer. Verhale van tienermeisies wat droom van liefde wat hulle bly ontglip. En net miskien ook ’n verhaal van een baie bekkige vierjarige – ’n outjie wat jou presies kan vertel waar babas vandaan kom…

Hierdie outjie woon saam met ’n pappa, ’n mamma en twee tienersussies iewers op die boonste vloer. Op die oog af ’n gewone gesinnetjie – so nou en dan ’n skermutseling wat baie herinner aan ’n tornado met wilde weerligblitse, maar niks ernstigs nie. Ook maar die gewone ou storie wat sekerlik al oor die verloop van duisende jare lelike gate in miljoene huwelike gekou het: die aanvanklike soete liefdeswoordjies tydens die wittebrood wat uiteindelik in bytende kritiek ontaard (hulle sê mos dat daar baie meer waarheid in ‘n ‘grappie’ steek as wat meeste mense wil erken). Tussen al die storms binne hierdie enkele woonstel het dit uiteindelik gebeur dat daar nou ook ’n baie oulike vierjarige woon – saam met sy twee halfsussies en sy pa wat nie regtig bloedfamilie is nie.

En tog is dit so dat die aankoms van hierdie outjie nie bloot maar net die gevolg is van moeilike interpersoonlike verhoudinge en mense se sonde nie. Sy aankoms is verweef in ’n verhaal van ’n soewereine God wat in Sy genade bly moeite maak met mense en ’n besonderse gesinnetjie iewers in Pretoria-Wes in Sy genade bly toevou.

Dit het as volg gebeur: Mamma is ’n beeldskone vrou, hoewel redelik stewig gebou. Sy werk al vir ’n hele aantal jare as verkoopsassistent by ’n wegneem-ete kafee nie te ver van hulle huis af nie. Eendag het ’n droom van ’n man ’n ietsie by die kafee kom koop… en ’n ou komplimentjie of twee laat val. Baie onskuldig. Hy het weer op ’n ander dag by die kafee ’n ietsie gaan koop… nog ’n onskuldige ou komplimentjie… die komplimente het elke dan en wan ’n kuiertjie geword by Mnr Adonis huis. Toe mamma agterkom daar’s moeilikheid, het sy die telefoon warm gebel op soek na ’n geskikte aborsie-kliniek. Almal was 10 weke vooruit bespreek – 10 weke wat hierdie drastiese stap vir haar onwettig sou maak.

Uiteindelik  kon dit nie anders nie – mamma moes een aand in trane aan haar man en twee dogters verduidelik dat daar ’n lewetjie in haar verwek is… en dit was nie pappa nie.

‘Pak jou goed en stap uit my huis uit!’ Pappa het nog ander dinge ook gesê. Seer woorde. Bitter woorde. En haar dogters moes agterbly – sy het by die aantreklike man vol komplimente ingetrek. Haar dogters het elke middag na skool kom ‘Hallo’ sê by die werk, maar dit was nie dieselfde nie. Die verlange het begin knaag – haar een middag laat tuin toe gedryf, tot op haar knieë. Haar gebed was eenvoudig – ’n eerste in ’n lang tyd: ‘Here, ek is nie waardig om U kind genoem te word nie, want ek maak droog. Kom neem asseblief beheer oor my lewe. Ek vra dit nie, ek smeek dit ten hemele!’ Hy was die volgende oggend voor agtuur by haar werk – nie die aantreklike man met die baie komplimente nie – maar die man teenoor wie sy jare gelede lewenslange trou gesweer het. ‘Kom asseblief huis toe. Kom net huis toe! Ek sal daardie baba soos my eie grootmaak. Ek mis jou. Die girls mis jou. Kom net huis toe.’

Pappa het die outjie aangeneem. Pappa het hom lief soos sy eie seun. Nee, dis nog geensins sonder stampe en stote nie, want sonde is daar nog altyd hier op aarde. Maar die Here se genade is daar. En hierdie outjie se idee van die oorsprong van babas? ‘Eers moet jy in ’n kasteel bly in far far away (waar shrek bly). Dan moet jy op ’n boot gaan reis om ’n ander king te gaan haal. Jy moet ’n donkie en ’n kat hê wat skoene dra en as jy terug kom in die bos by die boom is die babas daar want die bos maak die babas.’