Waar begin ek as ek grimeer?

1711

Met die groot verskeidenheid grimeerprodukte op die mark kan dit moeilik wees om te weet watter produk om eerste aan te wend.

Begin altyd by die oë

Oogskadu is geneig om onder die oë te val as jy dit aansit. Dit los ook soms ’n skaduwee wat soos donker kringe kan lyk. As jy by die oë begin grimeer, smeer jou hande ook nog baie teen jou gesig. Grimeer dus eerste die oë klaar en wend dan jou onderlaag aan.

Bekyk jou vel goed

Ken jou veltipe. As jy ’n olierige vel het, probeer eerder ’n onderlaag wat nie jou gesig verder gaan laat blink nie, verkieslik met ’n mat afwerking. As jy ’n droë vel het, is ’n waterbasis ’n goeie opsie, omdat dit die vel voed en dit ’n natuurlike, stralende voorkoms gee.

’n Groot fout wat vroue maak, is om ’n strepie aan die binnekant van die oog te trek. Ons is mos geleer om ons oë te beklemtoon, maar eintlik laat dit jou oë net kleiner vertoon. Gebruik ’n ligbruin oogskadu en wend dit aan waar jy gewoonlik die oogpotlood sou aansit. Dit sal jou oë groter laat vertoon.

Bepaal jou gesigvorm

Dis belangrik om die vorm van jou gesig te ken, want dan sal jy weet watter areas om te beklemtoon. As jy nie prominente wangbene het nie, sal jy weet om meer op die wangbene te fokus deur kontoerlyne met jou grimering aan te bring.

As jy jou gesigvorm ken, gaan dit reeds ’n groot verskil maak en sal jou grimering baie meer dramaties vertoon.

Lisa Brown, grimeerkenner