Waar begin jy as daar so baie is om te sê?

0
529

Wat kan waardevol wees aan kanker? Musikant en akteur Bouwer Bosch woeker met sy talente, maar die lewe het hom al tot stilstand geruk. Sy pa se siekte en dood het hom gewond én kosbare lesse geleer.

Dit was aand. Ek was op pad huis toe, maar het eers gou gaan inloer by my pa, Pierre, wat teen dié tyd al platgetrek was deur kanker. Hy was op sy laaste skof, al wou ek dit nie glo nie.

Met die intrapslag kon ek aanvoel die atmosfeer is anders. Asof daar ’n verskuiwing gekom het. Asof die tyd min was.

In die vorige paar maande langs Pa se bed het ek en hy lekker gesels en ou herinneringe opgeroep. Sy siektetyd het in vele opsigte ’n geseënde tyd geword. Kosbare ure waarin pa en seun diep dinge kon praat en mekaar op ’n nuwe vlak ontdek.

Ek het oudergewoonte langs hom gaan sit en sy hand gevat.

“Hallo, Pa. Hoe gaan dit?”

Hy het met ’n moeë glimlag gegroet en gewag dat ek verder praat. Hy was ’n sagte reus. ’n Man van min woorde, maar baie dade.

Waar begin ’n mens as daar nog so baie is om te sê?

“Pa,” maak ek keel skoon en kyk hom in die oë.

Hoe ouer jy word, hoe wyser word jy. Gelukkig. In my wyser word het ek besef wat ’n arrogante jong mannetjie ek eens op ’n tyd was. Ek was kwaad vir die lewe. Nukkerig, opstandig en rebels. Hierdie ou in ’n cool band wat gedink het hy kan enigiets sê en hy hoef vir niemand te luister nie.

Ek het baie gepraat en net so baie verwyte rondgeslinger. Die chaos in my lewe was altyd iemand anders se skuld.

Daar langs my pa se bed moes ek my afvra: “Het ek regtig al alles gesê wat gesê móét word?”

Nee. Daar was nog ’n paar belangrike goed op my hart. Dit moes uit. En hy moes dit hoor.

“Pa, ek is jammer.”

Ek wou hê my pa moes verstaan hoe spyt ek was oor my jonger jare van opstand en beterweterigheid. My fase van woede. Jammer oor al die goed wat ek kwytgeraak en gedoen het wat hom kon seermaak. Op ’n stadium ook die gemors in my lewe waarvoor ek almal wou blameer behalwe myself.

Met elke bekentenis het ’n traan gerol. En nog een, en nog een. Oor ons albei se wange. Naderhand het ons onsself stukkend gehuil.

“Ek is regtig jammer, Pa. Vergewe my, asseblief.”

Die verligting wat in daardie paar woorde opgesluit lê het, was onbeskryflik. Dit het gevoel asof kilogramme se skuldlas van my skouers afrol.

My pa was deel van die ouer, stiller generasie. Hy was goed in voeling met sy emosies, maar nie ’n man wat sommer daaroor sou praat nie. Tog kon ek in sy oë sien my woorde het ’n impak. Hy het dit gehoor. Dit het ingesink.

Hierna het alles vinnig gebeur. Binne ’n minuut het my pa sy laaste asem uitgeblaas. Hy is letterlik in my arms dood. Stil, rustig, vredevol.

Nogtans het dit my geruk. Dit was ’n hartseer ding om sy laaste oomblikke saam met hom te beleef, maar ook ’n groot voorreg.

Hy was ’n amazing man.

“God is goed, altyd.” Dit was sy sêding. In die laaste fase van sy lewe het my pa dit wat hy al die jare glo het, met die wonderlikste gesindheid uitgeleef.

Vir ons wat moes toekyk hoe die kolonkanker hom jaar na jaar al hoe meer aftakel, was ’n geloofsgetuienis soos hierdie ’n moeilike saak om te verwerk. Vir hom was dit, ondanks sy toestand, ’n vanselfsprekende ding om te glo. Die Here is onveranderd goed, maak nie saak wat met jou gebeur nie.

Hy was reg. God is altyd goed en Sy genade is gróót.

My en my pa se kuiertye, die kans om om vergifnis te vra, het vir my diep genesing gebring. Ek glo vir hom ook.

As ek nou terugkyk, is dit nogal ironies om te dink dat ’n ongeneeslike siekte soveel herstel kon bring.

Die laaste paar maande saam het baie nuwe insigte vir my oopgemaak – dinge oor myself, verhoudings en die lewe.

Een daarvan was die besef dat ons soms baie lank sit met die gevoel dat ons ander moet vergewe, maar nooit dink aan die mense wat vir óns moet vergewe nie.

Vergifnis gaan nie oor my nie. Dis ’n proses wat vir elkeen op sy eie tyd gebeur, en vir almal is dit anders. Partymaal gebeur dit gou, en ander kere is dit iets wat oor en oor gedoen moet word totdat dit insink.

Behandel die wond, nie net die simptoom nie. Dit is dikwels nodig om dinge hardop te sê. Daar is niks daarmee verkeerd om vergifnis ’n leefstyl te maak nie – ’n uitvloeisel van jou gesindheid wat in jou gedrag wys. Dis wonderlik, maar soms moet ’n mens eerlik en reguit praat. Daar is nou maar eenmaal iets aan opregte woorde wat meer gewig dra as stilte.

Trots. Dis die ander ding wat my vir jare gepootjie het. Dit wat ek op daardie laaste dag teenoor my pa erken het – my foute, die blaam wat ek daarvoor dra – het ek nog nooit voorheen die moed gehad om te sê nie. Dit was ’n groot deurbraak om dit uiteindelik te kon doen. As man teenoor man.

Om hom in my arms te verloor was die ergste ding wat ek al moes deurmaak, maar om by daardie kamer uit te stap en terselfdertyd ligter te voel, was ’n groot stuk genade.

Dit het my weer tot die besef gebring: As mense kan ons baie vermag. Verstaan ons dit regtig? Jy het die vermoë om lewens te verwoes, maar ook om lewens te bou en te verander met die goeie in jou. Vergifnis is een van daardie goeie dinge.

Bygesê, mense is komplekse wesens. In my hart glo ek dat almal goeie goed wil doen, maar nie almal weet hoe nie.

Eenkeer na afloop van ’n skoolrugbywedstryd het ’n onderwyser my trompop geloop en geskel, nadat ons hulle span geklop het. Ek kan nie presies onthou wat hy gesê het nie, maar dit was ’n persoonlike aanval wat op my gemik was, op niemand anders nie. Dit was vir my vreemd dat ’n grootmens so met ’n kind kan praat.

Nou, terugskouend, besef ek daardie onderwyser het vanuit sy eie pyn en issues geskree. Dis hoe dit gebeur. Die seer goed wat mense in gesagsposisies, skoolmaats, kollegas of wie ook al vir jou sê sonder om twee keer te dink, is nie altyd eers sleg bedoel nie, maar dit dring deur jou mondering en rig baie skade aan.

Gelukkig, en ongelukkig, dra woorde vir my baie gewig. Dis die ding wat my die blyste, maar ook die seerste kan maak.

Al wat die pyn dan kan verlig, is vergifnis. Oor die jare het ek agtergekom dat om te vergewe nie noodwendig beteken jy gaan nou skielik van daardie persoon hou nie. Soms bly die letsels agter, maar dit bring darem ’n mate van vrede. ’n Verligtheid in jou menswees.

Vergifnis het ook ’n ander kant. Die kuns om jouself te kan vergewe vir jou ondeurdagte woorde en dade aan ander. Dis nogal belangrik, want jy is die een mens met wie jy elke dag moet saamleef.

Vir my was dit moeilik. Daar was al soveel verwyt in my oor die dinge wat ek in die verlede aangevang het. Dis goed waaroor ek nie wil praat nie, want dit krap net ou wonde oop, maar ek moes myself daarvoor vergewe.

Dis ’n tipe vergifnis wat maar moeilik kom. En seker een van die redes hoekom die storie van Judas my so fassineer. Soos ek God se liefde verstaan, reken ek dat hy reeds vergewe was nog voor hy vir Jesus verraai het. Dit was sy onvermoë om homself te vergewe wat uiteindelik sy lewe verwoes het.

Dis nie ’n pad wat ek wil stap nie, so, ek werk maar eerder aan selfvergifnis.

Woorde het van jongs af vir my ’n uitkoms gebied, en vandag is dit my brood en botter.

Weereens moet ek dankie sê vir my pa. Was dit nie vir sy invloed in my lewe nie, het my paadjie dalk anders geloop.

Ons het betreklik arm grootgeword. Ons het ons huis en karre op ’n stadium verloor, maar Pa het skuld gemaak om vir sy wroegende seun ’n kitaar te koop en vir lesse te betaal – want hy het in my geglo. Nes die Here deur al my nukke steeds in my glo.

Dit is eintlik ’n groot voorreg. My ouers het my nooit in ’n konvensionele rigting gedwing nie. Hulle het nooit my liefde vir musiek of hunkering na ’n lewe in die kunste doodgedruk nie. Al was dit in daardie jare seker moeilik om te aanvaar as jou kind ’n aweregse pad wil inslaan, het hulle my bly ondersteun en aangemoedig om my drome te volg. Om myself te wees. Dis regtig spesiaal.

Dit beteken nie ek het al uitgepluis wie daardie ou presies is nie. Om my identiteit te vind bly vir my ’n aaneenlopende proses wat nog besig is om te ontvou.

Die ironie van die vermaakbedryf (en dalk enige loopbaan) is dat jy versigtig moet wees vir wie en waarvoor jy lief raak. Musiek was op ’n stadium alles wat ek was. My hele menswees was gebou op vertonings en om in ’n band te sing. Toe ons groep (Straatligkinders) besluit om ’n breek te vat, het ek hard aarde toe gekom en besef wie ek nié is nie. Skielik het dit gevoel asof ek niks meer het om te sê nie. Of daar geen musiek meer in my oor was nie.

Eintlik was my identiteit net op die verkeerde goed gebou. Daar was meer wat ontdek moes word.

Vandag kyk ek anders na myself. My menswees is eerder ’n verpakking van verskillende dinge. Ek vind my identiteit in God, maar nie net daar nie. My grootwordjare het my ook gevorm, en my Afrikanerskap, my talente, tekortkominge en deurbrake.

Ons is elkeen die somtotaal van baie dinge, en die kuns is om dit te aanvaar en selfs te vier.

In hierdie wêreld kry jy mense wat op die agtergrond is. En dan kry jy mense wat die hele agtergrond volstaan.

My pa was so ’n mens. ’n Introvert, soos wat ek ook is, maar iemand wat op ’n onsigbare manier noodsaaklike dinge laat gebeur het.

Hy was ’n dienaar. Nooit in die kollig nie, maar as hy nie op die agtergrond gedoen het wat hy doen nie, kon daar nie ’n kollig wees nie. Pa was die ou wat die stoele in die kerk sou uitpak voor ’n diens, of die gebreekte kabels sou regmaak sodat die voorsangers kon sing.

Diensbaarheid was sy ding. Handig, behulpsaam en prakties.

Ek sê altyd as musiek die wêreld kon verander, sou Jesus ’n musikant gewees het. Maar Hy was ’n meubelmaker. Iemand wat dinge met sy hande raakgevat het. Wat mense prakties gedien het.

My pa was ook so. Noudat hy nie meer daar is nie, kom ek agter hoe baie van sy dinge en maniere ook deel van my is. Van die kleinste maniertjies tot die groter goed wat lewens aanraak.

Dis elke keer vir my lekker om die ooreenkomste op te merk. Hy het ’n manier gehad om elke aand as almal gaan slaap het, na elke deur toe te loop en seker te maak dis gesluit. Dis iets wat ek vandag nog doen. Hy was ook ongelooflik geduldig. Niks sou hom frustreer nie, en ek moet sê ek het nogal baie van daardie geduld geërf.

Pa se mooiste eienskap was dat hy ’n hart vir stukkende mense gehad het. Ek was maar ’n klein laerskoollaaitie toe my ouers drie kinders van Hillbrow ingeneem het. Hulle het die twee ouer broers en jonger sussie by die kerk se uitreik-aksie ontmoet, en vir bykans ’n jaar na hulle omgesien.

Ek het nie toe verstaan waaroor dit gaan nie. Dit was net lekker om skielik nuwe maatjies in die huis te hê, maar nou besef ek dat hy eintlik ’n ongelooflike ding gedoen het, veral vir daardie tyd.

Daar was ook die keer wat hy ’n boemelaar ingeneem het. Die man het in ons huis kom bly, maar toe ons weggaan op vakansie het hy ongelukkig die kar gesteel!

Nogtans is ek dankbaar om te weet dat iets van sy diensbaarheid ook in my geplant is. Sy hart vir mense is ook deel van my. Dis een van my grootste passies – om mense op kreatiewe maniere te dien.

Ek wens ek het meer van sy stilte gehad. Veral op sosiale media raak ’n mens dinge kwyt waaroor jy eerder kon stilbly. Wat ander mense sê, ontstel my onnodig, al weet ek die realiteit is dat hulle persepsies nié die realiteit is nie. Daar is vir my niks so uitputtend soos negatiewe mense nie.

Deesdae probeer ek om minder op hierdie platforms rond te hang en meer teenwoordig te wees in my interaksie met mense – of dit nou die petroljoggie of die kelner is. Ek leef met ’n bewustheid om meer aandag te gee aan die persoon wat voor my staan. Minder te praat, en meer te luister en te verstaan.

Omdat sosiale media so ’n klomp geraas geword het, is individuele gesprekke deesdae my sielskos. Dis om ’n platform te skep waar mense hulle stories kan deel, dalk iemand se perspektief kan verander, en daardeur vergifnis en versoening kan bewerkstellig.

Dis belangrik, want seer mense maak ander seer. Dis iets wat ek nie mooi verstaan het in my jonger dae nie.

Toe was daar net woede wat in my gebroei het teenoor alles en almal. Sielsongelukkigheid oor my lelike vel. Seergemaak deur mense se woorde. Worstelend oor my eie onsekerhede, en gefrustreerd in my soeke om myself en die lewe te probeer uitpluis.

Om die Here te blameer het vir my toe al na die lui, maklike uitweg gevoel. Toe volg ek maar Job se pad. Die bladsye van my dagboek het my stoeikryt geword. Eintlik was ek nog nooit regtig kwaad vir God nie; Hy raak eerder kwaad vir my. Soos ’n pa wat kopskud oor sy seun wat al weer glo hy weet beter.

As ek nou deur die lirieke van my jonger dae lees, voel ek dankbaar vir die vordering wat gemaak is. Daar was ’n tyd toe Bouwer geglo het hy weet alles. Die wêreld skuld hom iets. Dis verby.

Ek moes deur ’n groot “afleer”-fase gaan. Anders leer dink en doen. Soms moet ek myself steeds daaraan herinner.

In my soeke na self het ek agtergekom dis moeilik om jouself lief te hê, maar selfs moeiliker om ander toe te laat om jou lief te hê.

Wat die kwaai “jonger ek” kortgekom het, was begrip.

Op ’n stadium het dit vir my gevoel asof ek die enigste ou was wat deur slegte goed gaan. Vandag, met ’n volwasse insig, weet ek dis nie waar nie. Dis deel van menswees, en die Here het ’n plan met ons elkeen se storie.

Al is my pa nie meer hier nie, besef ek dat jou ouers eintlik ook maar net groot kinders is. Hulle het nie al die antwoorde nie en is ook self op reis om sin te maak uit die lewe.

Onvoorwaardelike liefde in enige verhouding kos iets. Soms vra dit vergifnis, ander kere ’n groter verstaan. En partymaal net die wete dat dit beter is om ander gelukkig te maak as om heeltyd reg te probeer wees. Sluk jou trots en erken jou foute.

Dán kan groei en genesing plaasvind.