Waar jy loop

‘n Paar maande terug bevind ek myself in die mees ondekbare plekke moontlik. My blaas dwing my om dringend die badkamer te besoek. In my haas let ek nie mooi op na die manne- en vroue-borde teen die badkamer-deure nie…

Ek sluk ‘n groot sug van verligting voor ek my handsak gryp en die deur oopruk. My klas is gereed om te begin. Die hakke van my skoene klik-klak teen dieselfde spoed as motors op die autobahn in Duitsland. As ek gou maak kan ons die klas nog semi-betyds begin. Dis dan dat ek besef hier is groot fout. Die toerusting in ‘n mans-badkamer lyk effe anders as dié van die vrouens. Tot my groot onsteltenis is ek ook nie alleen in die badkamer nie. Die toerusting is volledig beman deur ‘n spesie van die ander geslag.

Vir ‘n split-sekonde oorweeg ek dit om terug te duik in die kajuit van die naaste toilet. Maar ek besef dit gaan nie juis help nie, my mooi skoene is vieslike verraaiers van my teenwoordigheid in ‘n ongewensde plek. Ek slaan my oë af na hierdie aaklige verklikkers en snou die man ‘n luide, Afrikaanse ‘Sorrie’ toe. Met bloedrooi wange en groot bravade storm ek nou die klas binne.

Wie van julle het jouself al in ‘n ongewensde plek bevind? Het jy al gewonder hoe op dees aarde jy hier beland het? Jy’t nooit gedink jy sal die een wees wat deur ‘n egskeiding gaan nie. Jy sou nooit kon raai dat jou kind aan depressie sou ly nie. Jy’t nooit beplan dat jy deur ‘n sekwestrasie sou gaan nie. Dis net té onverwags. Dis nie deel van jou beplanning nie.

Psalm 23:4 in die Message parafrase bied hierdie vertroosting: ‘Even when the way goes through Death Valley, I’m not afraid when You walk at my side. Your trusty shepherd’s crook makes me feel secure.’

Wanneer die ondenbare gebeur en jy voel of jy pens en pootjies in die aarde kan wegsak staan Jesus reg langs jou. Partykeer is daar geen ander uitweg behalwe om deur ‘n situasie te stap nie. Partykeer moet jy bereid wees om te sê ‘Sorrie’. Partykeer moet jy mooier oplet as Hy praat. Die goeie nuus is Hy is gereed om jou na veiligheid te begelei. Sal jy vandag jou hand in Syne sit?