Waar kan jy die goedkoopste uiteet?

0
371
restuarant.jpg

Soms wil julle gesin graag gaan uiteet, al is dit nog ver van betaaldag af. Hoe kies jy die regte restaurant?

Hier vergelyk ons die pryse van sekere geregte sodat jy weet waar jy die goedkoopste kan regkom.

1. Hoe die pryse vir ontbyt met mekaar vergelyk

WIMPY: Die mees ekonomiese opsie is die Streaky Breakfast vir R23,00. Dit is twee gebakte eiers, spek en skyfies asook gebraaide tamatie en roosterbrood.
PANAROTTIS: Hulle het ’n goedkoop ontbyt vir R24,90. Dit is ’n ontbytpizza met roereier, kaas, spek en tamaties op. Jy kan ook ’n gewone ontbyt kry met twee gebakte eiers, spek, kaasworsies, ’n gebraaide tamatie en roosterbrood.
MUGG & BEAN: Hulle On the Go-ontbyt kos R29,90. Dit is twee gebakte eiers, spek, gebraaide tamatie en ’n sny roosterbrood. As jy ’n gesonde opsie wil hê, kan jy hulle Tropical Breakfast probeer. Dit ’n vars vrugteslaai met jogurt, muesli en heuning vir R51,90.

2. Waar om die goedkoopste steak te eet

SPUR: Die sirloin en rump steak gaan jou R89,90 kos. Jy kry uieringe by en kan kies tussen skyfies, gebakte aartappel of rys. Jy het natuurlik ook die opsie om dit eerder saam met ’n slaai te kry.
DROS: By Dros kos beide die rump en die sirloin R91,95. Weereens kry jy uieringe met ’n keuse tussen dieselfde styselopsies as by Spur.
CAPE TOWN FISH MARKET: As jy jou ooit in ’n seekosrestaurant bevind, maar eerder vleis wil hê, wees gerus. Die sirloin-steak hier gaan jou R112,00 kos. Dit word bedien met uieringe en ’n keuse uit ’n verskeidenheid disse, waaronder skyfies, geroomde spinasie, groente en jong aartappels.
SPESIALE AANBIEDINGE: Op Woensdae is daar ’n aanbod by Spur waar jy ’n steak met kaas en sampioensous bo-op vir R69,90 kan kry.

3. Die keuses vir die mees ekonomiese pizza

MIMMOS: Die medium grootte Margherita kos R34,90 en ’n medium Regina R46,90.
PANAROTTIS: Hulle pizzas word verdeel in Classic en Gourmet. Daar is verskeie opsies, maar ’n Margherita in die standaardgrootte gaan jou R48,90 kos. Die Regina-pizza (ham en sampioene) kos R62,90.
DROS: Daar is ’n groot verskeidenheid vir ’n restaurant wat meer op vleisbraai fokus. Hier gaan ’n Margherita jou R55,95 kos en ’n Regina R73,95.
SPESIALE AANBIEDINGE:

  • Panarottis het op Donderdae ’n all-you-can-eat-aanbod vir R64,90 en R39,90 vir kinders onder twaalf. Dit begin vyfuur in die middag. Kinders onder twaalf eet ook verniet op Sondae. Op Dinsdae kan jy vir elke Gourmet-pizza ’n klassieke een verniet kry.
  • Mimmos: Op ’n Maandag kan jy enige medium pizza vir R39,90 kry.

4. Watter restaurant se burger is die goedkoopste?

WIMPY: ’n Wimpy-burger kos R41,00, terwyl die kaas- en hoenderburger elk R48,00 kos.
DROS: Die gewone burger met skyfies en uieringe kos R54,90. Jy kan ook een van hulle combo-burgers probeer. Die Stellenbosch Combo Burger kos R68,95. Dit is ’n steak en hoenderborsie op ’n burger met kaassous en spekstukkies bo-op.
SPUR: Die gewone Spur-burger kom in bees of hoender vir R56,90 en jy kry uieringe en skyfies by. Jy kan ook die burger en Coke-combo kry vir R71,90.
MUGG & BEAN: Die BBQ-burger kos R62,90 en dit word met skyfies bedien. As jy dalk lus is vir iets anders, kan jy hulle Black and Blue Burger probeer. Dit kos R68,90 en die burger het spek en ’n bloukaassous bo-op.
SPESIALE AANBIEDINGE: Op ’n Maandag kry jy ’n gratis burger by Spur as jy een bestel. Hier het jy ’n keuse tussen hulle bees-, hoender-, rib- en soja-burger.

5. Die beste keuses vir vis, calamari en soesji

JIMMY’S KILLER PRAWNS: Vir vis en skyfies gaan jy hier R55 betaal, terwyl calamari R74 kos. Vir California Rolls kos dit van R34 af vir vier stukkies afhangende van watter tipe vis jy kies.
OCEAN BASKET: Die vis en skyfies kos R68. As jy eerder lus is vir calamari, kos dit jou R73. As jy soesji verkies, kan jy agt stukkies California Rolls kry vir R34.
JOHN DORY’S: Die Catch of the Day word met skyfies bedien en kos R95. Vir calamari gaan jy R89 betaal. Hulle agt stukkies soesji kos R69.
CAPE TOWN FISH MARKET: Die vis van die dag met skyfies by kos R100. Die stokvis en skyfies kos R70 en calamari kos R88. As dit by soesji kom, kry jy vier stukkies California Rolls vir R35.

Soos met alles moet jy self besluit watter restaurant jy verkies. Die waarde van sekere geregte kan aansienlik verskil, sodat dit dikwels onmoontlik is om dit presies te vergelyk. Onthou ook dat drankies die rekening op die ou einde baie kan opstoot.