Waardering

Ek het vandag ‘n vreeslike hoofpyn en verkoue so ek weet nie of ek iets waardevol sal kan neerpen nie.

Ek gaan maar net probeer en sien wat vloei uit my pen. Om te skryf bring vir my genesing so dalk, net dalk, voel ek beter teen die tyd wat ek klaar is met hierdie stukkie.

Met die dat ek nie lekker voel nie, dink ek vandag aan waardering. Daar is altyd iets om te waardeer selfs al voel jy of jy net ‘n kombers oor jou kop wil trek en bly lê. Dit het ek geleer by ‘n vriendin van my wat haar lewe in ‘n rolstoel deurbring. Sy het ‘n hart vol omgee. Ek leer so baie by haar. Sy sien altyd die mooi kant van die lewe raak.

Ek is ook in ‘n rolstoel en ek moet bieg dat dit soms moeilik is. Maar waardering is iets wat my nooit los nie. My hart is vol waardering. Ek waardeer alles wat ek kan inneem deur my sintuie. Dit besef ek juis nou dat my neus toe is as gevolg van my verkoue.

Die reuk van ‘n blom maak soveel waardering in my wakker. Die geluid van die see bring soveel kalmte in my gemoed. Wanneer ek by die see is, voel ek die naaste aan vrede.

Ek is opnuut dankbaar vir alles wat ek kan inneem vanuit my rolstoel. Ek is dankbaar dat my hart geleer het hoe om te dans. Ek is dankbaar dat my lewensverhaal mense inspireer.

Soms gaan haal ek my geskrewe woorde uit ‘n donker gemoed.

Soms gaan haal my woorde uit die donker dieptes van die see.

Soms gaan haal ek my woorde uit my wonde.

Maar dit praat met ander en dit is al wat vir my belangrik is.

Mag jy vandag die lewe opnuut waardeer en mag alles wat jy inneem vir jou vreugde bring.

Ek voel sommer nou stukke beter.