Waarom ’n basislaag?

765

Jy wend jou grimering foutloos aan, maar jou vel lyk steeds allesbehalwe stralend. ’n Voorbereidingslaag kan die verskil maak.

Nie alle vroue het al die waarde van ’n voorbereidings- of basislaag (primer) ontdek nie. Dit is ’n grimeerproduk wat gebruik word om jou vel voor te berei voordat jy verbloemer en onderlaag aanwend. Die voorbereidingslaag maak die aanwending van jou onderlaag makliker en laat jou grimering langer hou. As jy eers die verskil gesien het, sal jy nie weer daarsonder kan klaarkom nie.

In die somermaande skei die meeste velle meer olie oftewel sebum af. Dit veroorsaak dat jou grimering deur die loop van die dag “afgly”. ’n Voorbereidingslaag dien as basis wat verseker dat jou onderlaag egalig vertoon. Dit vul al die fyn plooitjies en laat jou vel en vergrote porieë glad vertoon. Jy gebruik minder onderlaag en boonop bevogtig dit jou vel. Presies wat jy nodig het! ’n Voorbereidingslaag kan selfs alleen bo-oor jou bevogtiger en sonskerm gedra word.

Wend die basislaag aan nadat jy jou gesig gewas, verfris en bevogtig het. Vir egaligheid, gebruik jou onderlaagborsel of ’n stippelborsel. So het jy altyd primer en onderlaag aan jou borsel indien jy jou grimering deur die dag wil verfris.

Daar is verskeidenheid basislae beskikbaar. Kies die geskikte een vir jou vel se spesifieke behoeftes om ’n pragtige, foutlose gelaat te kry.

’n Glanslose, olievrye basislaag word aanbeveel vir ’n olierige of kombinasievel. Vir ’n sensitiewe of droë vel het jy ’n romerige of silikoonbasisproduk nodig.

Indien jy ’n gloeiende effek verkies, kan jy ’n verhelderende voorbereidingslagie (illuminating primer) gebruik om glans aan jou vel te verleen. Vir diegene wat sukkel met rooiheid, is daar groen skakerings, wat rooiheid teenwerk.


 

Jolanda en Tanya, JB Makeup

Kliek hier vir meer videos en artikels deur JB Makeup.