Waaroor droom mans régtig?

0
24
droom.png

Gee vir jou man R50 000 en sê hy moet iets vir die huis koop. Jou oë sal rek as jy sien waarop hy besluit …

Stem jy saam met dié bevinding: Volgens ’n navorsingstudie van CNNMoney-Tydskrif, waaraan 1 000 eggenote (500 mans en 500 vroue) deelgeneem het, baklei meer paartjie oor geld as oor seks. Daar is gevind dat ongeveer 84% van respondente erken dat geld ’n mate spanning in die huwelik veroorsaak.

Jeanne Sahadi stem daarmee saam in haar artikel Will your money fights lead to divorce? Volgens Sahadi gaan selfs die mees suksesvolle huwelike deur tye wat daar oor geld baklei word. “Die belangrikste,” skryf sy “is dat paartjies reeds vroeg in hulle huwelikslewe ’n ooreenkoms bereik oor wie vir wat verantwoordelik is as dit by finansies kom.”

Die navorsingstudie het verder bevind dat mans en vroue duidelik verskillende idees het oor hoe die gesin se geldsake hanteer moet word. Hoewel die meeste paartjies aandui dat hulle steeds tradisionele rolle volg (waar die vrou die daaglikse uitgawes en begroting hanteer en die man verantwoordelik is vir langtermynbeleggings en sekuriteit), is daar bevind dat mans onderskat hoe belangrik dit vir vroue is om te weet wat met hulle geldsake aangaan.

“Maar hierdie geldsakekonflik is nie noodwendig negatief vir ’n huwelik nie,” sê sielkundige John Gottman. In sy boek Why marriages succeed or fail skryf hy dat ’n minimale mate van negatiwiteit die huwelik eintlik kan laat floreer. “Wat sommige paartjies nie besef nie, is dat die ‘opmaak-gedeelte’ na die stryery hulle nader aan mekaar kan bring – mits dit reg hanteer word. Iets soos geldsake wat gereeld wrywing in huwelike veroorsaak, kan reg aangewend word om die huwelik sterker te bou.”

Lynnae stem saam in haar artikel 7 Things women wished men knew about money wat op www.ggrugal.net verskyn. Sy noem dat konflik oor geldsake heelwat kan verminder as mans verstaan hoe vroue oor geld dink. Een van die sewe dinge wat Lynnae aanspreek, is dat dit vir vroue belangriker is dat hulle mans by die huis is vir die kinders, as dat hulle bloot hard werk om meer geld in te bring. Ook dat mans glad nie geïntimideer moet voel as hulle vroue dalk beter met geld kan werk nie.

Hier is wat vier mans sou doen as ons hulle R50 000 in die hand gestop word en winkels toe stuur word om iets vir die huis te koop.

Gerardt Viljoen, 32
Ek ken my vroutjie, Linda, se antwoord baie goed. Met R50 000 sal sy eindelik daardie stoepstel (waarvoor sy al vir amper ses maande aan my karring) wil koop. Vir my is ’n huis se vooraansig die heel belangrikste. My vroutjie se pragtige outydse fiets skep ’n heerlike rustige rustic atmosfeer. Maar as ek R50 000 kon kry om aan die huis te spandeer sou ek die fietsie so bietjie upgrade – miskien na iets soos ’n moderne motorfiets. As mens dan ’n brood of melk of die pos nodig het, kan jy dit sommer met die motorfiets gaan haal. Dit is dus funksioneel ook! Nie dat my vrou enigsins haar toestemming hiervoor sal gee nie … maar ’n man mag mos droom …

Hendrik Lategan, 50
Gedurende ’n donker en uitdagende tyd in my lewe, het ek baie gedroom oor als wat ek nog wou gehad het. Dit was ’n baie moeilike tyd vir my en my vrou. Tog, na vyf jaar, het die Here kom ingryp en alles omgedraai. Vandag lyk die prentjie heeltemal anders. En hoewel ek nou al die “goeters” het waaroor ek gedroom het, het my begeerte daarteenoor verander. Watter ewigheidswaarde het dit werklik? Dus, sou ek vandag R50 000 kry om iets vir die huis te doen sou ek seker vir my vrou die trapreling in ons 20 jaar oue huis vervang – dis nogal afskuwelik! Maar diep binne fluister ’n stemmetjie: “Gaan loer in by julle huishulp … sy mag dalk iets meer nodig hê …”

Walter Weidemann, 44
Met R50 000 sal ek ’n baie groot TV-skerm met ’n surround sound-klankstelsel en ’n PVR-dekodeerder koop. En dan ook ’n mooi muureenheid waarin alles kan pas. Jy sien, na 12 jaar se gewag is ons eersteling, Eckhart, gebore. Op die oomblik is hierdie tweejarige se groot vreugde om daagliks vir ’n uur lank sy kinder-DVD’s oor en oor te kyk. Aangesien omtrent alles in ons huishouding tans om hom draai, reken ek hy kan maar die beste kry! My vroutjie, Mart-Marié, sal dalk met opgetrekte wenkbroue my motief bevraagteken … en sê dat dit dalk iets te doen het met my liefde vir die jaarlikse Tour de France-fietswedren wat ek kranig volg. Nietemin, die klankstelsel sal goed werk vir ons almal – selfs vir haar.

Koos van Niekerk, 49
As ek R50 000 kry, sou ek dit gebruik om my destydse belofte aan die Here na te kom. Kom ek verduidelik: Een aand na my egskeiding ’n hele paar jaar gelede het ek ’n diep gesprek met die Here gehad oor wat ek volgende moes doen. Toe die idee by my opkom om met ’n universiteitsmaat te gaan gesels, het ek nooit gedink dat ek my vrou (sy suster) sou ontmoet nie. Ons is 11 jaar gelede getroud en tot vandag toe nog kan ek die Here nie genoeg vir haar bedank nie. Ek het beloof om ’n dankbaarheidsteken teenoor die Here op te rig. En of dit nou ’n waterfontein of ’n kruis is – die R50 000 sal hier handig te pas kom.