Wanhoop = Hoop

“Jy is goed genoeg.” Makliker gesê as gedaan.

“Skryf dan iets.” Maak ‘n verskil. “Ek kan nie.”

Die duiwel kry soms ñ gerieflike plek op my skouer waar ek twyfel, vrees, seer en gemaksug toelaat om woorde van wanhoop in my oor te fluister.

Waar ek soveel het om voor dankbaar te wees en is, maar ‘n totale anti-klimaks in sekere areas van my bestaan ervaar. Ek wil my pen optel en stories skryf wat inspireer, maar hoe kan ek as wanhoop aan die binnedeur klop. As my mense op die ashoop rondgesaai lê… ‘n diensbare, omgee-mens wat haar lieflingskind aan die dood afstaan, ‘n jarelange hartsvriendin wat haar lewensmaat skielik verloor, ‘n ander maat wie se vriend vermoor is, ‘n geliefde se seer en so raak die lysie van mismoedigheid net al hoe langer.

Die onmin-saaier op my skouer glimlag al hoe breër soos ek verdrink in my eie vrees en twyfel.

Die lewe is nie regverdig nie. Dis nie maklik nie. Die lewe volg nie altyd ons aanwysings nie. Hoe kan ek wil kom praat oor seisoene as daar soveel rou seer is, as ons land soveel in negatiewe dade gedompel is, as ek self nie weet of daar ‘n môre gaan wees nie? As probleme langtermyn om ons rondslinger.

Dit het my gekeer om te skryf, want wat sê ek? Wie sal luister? Wie is ek om dit te wil probeer beter maak met praat, mooi versies te wil neerpen, as dit nie gaan help nie? Hoe kan ek wil skryf oor liefde of geluk of selfs genesing? Iemand het gesê tyd sal genees, maar wie sê ons het tyd? Dis die een aardse bate waaroor ons absoluut geen beheer het nie.

Toe klap ek die onmin-gedoende van sy troon af, met volle Jesus krag. Hier gaan jy nie langer sit nie. Ek sal nou my pen optel, want al het ek nie pleisters vir die seer nie, het ek ‘n getuienis.

“I’m no longer a slave to fear, I am a child of God.” ~ Bethel Music.

Sien, een belangrike ding het ek wel geleer, by elke afvlerk, gebreekte medemens kry ek die een antwoord, dieselfde antwoord, wanneer alles net hopeloos te hopeloos raak. Dit was ook my antwoord toe tye vir my hopeloos en donker geraak het. Dit is ook my antwoord as angs my vasdruk en ek nie kan beweeg nie: Een dag op ‘n slag. Dag tot dag. Tree vir tree. Sekonde vir sekonde.

Dit is wat ware Hoop is.

Wanneer jy geen meer rede het tot hoop nie, maar jy hoop tog, jy hou tog vas, jy bly beweeg, van asemteug tot asemteug. Een voet voor die ander. Een tree op ‘n slag.

Die merke is daar. Dit word deel van jou.

Maar, een oggend word jy wakker. Dankbaar, vol vrede, jy het dit gemaak. Jy is vry. Jy kan weer asemhaal. Dis jou tweeede kans.

Opgedra aan elkeen wat seer het.

“Just like there’s always time for pain, there’s always time for healing.” ~Jennifer Brown

 

Vorige artikelOor binnetoe kyk
Volgende artikelAs kind het ons oulike liedjies in die Sondagskool gesing
Blogger - Tersia Gouws
Tersia Gouws is ’n getroude ma van twee wat voltyds werk as klientediens konsultant. Haar liefde vir kommunikasie het verseker dat sy haar vlerke kon sprei as fotograaf, skrywer, dromer en waaghals! Haar passie vir mense het daartoe gelei dat sy by verskillende welsynsorganisasies werksaam was in kommunikasie, openbare betrekkinge, bemarking en fondsinsameling. Sy gebruik steeds haar vrye tyd om betrokke te wees as ñ vrywilliger. Sy beskryf haar grootste uitdaging nóg as vrou-wees en ma-wees. Haar liefde vir lees en skryf het sy by haar pa, Joos Bothma, geëerf wat in 2016 oorlede is. Sy skielike afsterwe het haar geroep om te begin skryf met die doel om ander te inspireer en te herinner dat die lewe kort is. Volg gerus haar persoonlike blog by www.elkesekondetel.blogspot.com