Wanneer alles nie okay is nie…

Dit is soms moeilik om met die dinge van die lewe te worstel, veral as jy in die publieke oog is. Die druk om altyd die een te wees met die regte antwoord…

Dit is Vrydag middag en ewe skielik verloor ek myself in my trane wat onbeheers oor my wange stroom. Die waarheid is dat ons almal ons dae het wanneer alles nie okay is nie.

Ek voel soos Prediker van ouds, “alles kom tot niks”, maar die waarheid wil mos nie gesê word nie. Die waarheid is dat ons soms bietjie vir bietjie begin moed opgee. Ons sê nog al die regte dinge, maar self glo ons dit nie meer heeltemal in ons hart nie.

Dan ruk dit my tot stilstand. Alta, glo jy nog in die krag van gebed? Of bid jy maar net uit gewoonte? Vertrou jy werklik met totale oorgawe in die Here of probeer jy berge op jou eie versit?

Ek val op my knieë, met ’n hart so seer dat ek bykans nie kan asemhaal nie. Dit is die seerste seer wanneer jy probeer bid, maar die regte woorde kom net nie. Wanneer dit voel asof jy stukkie vir stukkie doodgaan in die binnekant, wil skree, maar niemand sien jou raak nie.

Dan stadig kom die woorde.. Here, ek is jammer, uit my hart uit en sonder enige verskonings jammer. Ek weet dat U my nie vergeet het nie. Ek weet dat U my nooit ophou lief het nie. Vergewe my vir elke keer wat ek die krag van gebed ligtelik opgeneem het. Vergewe my vir wlke keer wat ek nie met my hele hart en alles in my geglo het nie. Here, vergewe my vir elke plan wat ek sommer so op my eie probeer maak het. Ek het U lief Here en ek het U nodig. Ek wil so naby aan U stap dat ek U asem kan voel op my wang. Ek begeer niks meer as om U wil, plan en doel vir my lewe uit te leef nie. Here, help my om weer soos ’n kind te glo. Here, help my om weer soos ’n kind te droom. Leer my Here, en vat my hand, vloed my siel met U liefde, wysheid, kreatiwiteit en vaardigheid. Gee aan my die bonatuurlike strategie en geloof om dit met presisie uit te voer. Want U is my heel EERSTE LIEFDE, laat my lewe U naam verheerlik in elke dimensie daarvan. In U wonderbare en almagtige naam. Amen

En soos die son se strale deur die venster op my gesig val, kan ek voel hoe ek weer begin asemhaal…