Wanneer die dokter skoknuus gee …

0
86
Feb'13--My-storie-Lily-se-s.jpg

Lily Geerdts en haar man, die SuperSport-aanbieder Arnold Geerdts, het baie mense na aan hulle deur kanker verloor. Toe kry sy die skoknuus: Daar is ’n gewas in haar buik …

Ek stap by die dokter se spreekkamer in. Vandag is D-dag. Langer kan ek nie uitstel nie. ’n Mens speel nie met ’n gewas in jou buik nie. Dis te gevaarlik – lewensgevaarlik. Ek is bang. Nee, nie bang nie, vreesbevange. Kanker kan so verwoestend wees; hoeveel keer het ek dit immers nie al gesien nie? Soveel lewens om my is deur hierdie genadelose siekte geëis. En die stryd is fel.

Ons gesin is die afgelope jaar alreeds so swaar getref. Twee familielede, een kollega en ses vriende is deur kanker geraak. Sommige moes ons hartroerend groet. Dit was nie maklik nie, dit was ’n jaar van rou. Soms voel dit vir my of ek nie meer kán huil nie, of daar net nie meer rou-trane in my oor is nie.

En nou is dit skynbaar mý beurt, nou is dit ék wat in my weerloosheid op die ondersoekbed lê en wag om te hoor of die gewas gegroei het. Eintlik moes ek hierdie prosedure al vroeër laat doen het, maar ek is op vreemde maniere verhinder om dit te doen.

“Kom eers na my spreekkamer toe,” het die dokter gevra toe ek uiteindelik die afspraak maak. “Dan doen ons ’n skandering om te sien of die gewas nie gegroei het nie.” My oë is vasgenael op die monitor langs die bed. Dan sien ek dit! Ag, hemel tog! Selfs ék kan dit sien! Wat ons gevrees het, het gebeur. Die gewas hét gegroei! Dit is duidelik heelwat groter as die dag toe dit ontdek is. Maar dis die uitdrukking op die dokter se gesig wat my nóg meer ontstel – die intensiteit waarmee hy stip na die monitor tuur, die konsentrasie waarmee hy na die beeld kyk, die manier waarop sy oë rek oor dit wat hy in my lyf sien. Hoe erg ís dit dan? wonder ek beangs. Ek probeer sterk wees, maar ek is glad nie gereed om te hoor wat hy vir my te sê het nie …

Die vorige besoek is nog vars in my geheue. Dis die laaste strooi! het ek toe gedink. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. ’n Gewas! Ek het ’n gewas in my maag! Van al die terugslae wat ons die afgelope ruk getref het, was dít die ergste. Ek is daardie dag heeltemal moedeloos huis toe, terneergedruk en baie bekommerd.

My man was nie eens by toe ek die nuus gehoor het nie. Hy het gewerk. Dit was immers nie nodig dat hy saamgaan nie. Dit was veronderstel om bloot ’n jaarlikse roetine-ondersoek by die ginekoloog te wees. Ons en dokter Peter-hulle is huisvriende en ons gesels gemaklik. Ek vertel hom van die steekpyne wat ek in my maag kry.

“Kom ons doen ’n skandering,” stel hy toe voor. Ek stem in sonder om te weet wat op my wag, sonder dat ek ooit kon raai wat ek by hom sou hoor. Iets vreemds wys op die skermpie – blykbaar ’n gewas waaraan ons aandag moet gee.

Daar heers groot onsekerheid oor die gewas. “Ons sal verdere ondersoek moet instel,” beveel dokter Peter aan. Hy verduidelik die prosedure wat gevolg gaan word. Hulle sal met ’n kamera in my buik kyk en ’n biopsie doen sodat ’n stukkie van die gewas vir verdere ontleding gestuur kan word.

[pagebreak]

My hart klop daardie dag baie benoud in my keel, maar ek besef dit moet gedoen word. Ek kan nie my oë en verstand vir die werklikheid sluit nie. Die volgende dag gaan kry ek die nodige vorms en goedkeuring by die mediese fonds om die prosedure die volgende week te laat doen.

Maar twee dae later tref nog ’n ongeluk ons. Arnold, wat hard aan die oefen was vir die Comrades-maraton en ’n wedloop van onder sewe uur, skeur sy regterknie se kraakbeen. Dit is so erg dat hy die naweek voor my voorgenome prosedure sy kraakbeen moet laat heg. Hy kan skaars loop!

“Ons sal die prosedure moet uitstel tot Arnold weer op die been is,” verduidelik ek vir die dokter. En leef voort met die swaard wat bo my kop hang. Met my man buite aksie en twee kinders om te versorg, is dit amper nog moeiliker. Die onsekerheid vreet aan my; die gewone vrae wat in sulke tye by ’n mens opkom, teister my …

Waarom ek? Ek eet baie gesond, ek oefen gereeld – hoe kon dit met mý gebeur? Was dit dalk as gevolg van die spanning rondom die Wêreld-hip-hop- danskampioenskap waaraan ons in Oostenryk deelgeneem het en gewen het? Of die gewoel rondom die Mev. Verenigde Nasies-kompetisie waarin ek ’n naaswenner was? My lewe is so besig, ek is heeltyd aan die gang. Dan is daar ook nog die hartseer wat ons met elke kankerlyer gedeel het, die rou wat met elke afskeid gepaardgegaan het. Dit alles het ’n uitwerking op ’n mens se lyf.

Ek het hulp nodig en bel my ma in Bloemfontein. Sal sy met die kinders kan kom help sodat ek nie die prosedure onnodig lank hoef uit te stel nie? Maar dit is ’n besige tyd vir haar by die ouditeurspraktyk en sy kan nie.

Die weghol-gedagtes maal deur my kop. My kinders is nog so jonk. Kinah, Arnold se seun uit sy vorige huwelik wat ek as my eie aangeneem het, is twaalf jaar oud. En klein Lileah is net vier jaartjies. Vir ’n oomblik kan ek my indink hoe Kinah se ma moes gevoel het toe motorneuronsiekte by haar gediagnoseer is en hy maar ’n skrale vyf jaar oud was. Die kind moes reeds sy ma aan die dood afstaan. Hoe verskriklik sal dit vir hom wees om weer deur so ’n tragedie te gaan? En wat van klein Lileah?

[pagebreak]

Ek word intens bewus van die broosheid van die lewe en my eie verganklikheid. Jou lewe kan in ’n oogwink verander. Ek kan nie aan die toekoms dink nie. My kinders het my nodig. My man ook. Dit voel vir my asof ek hulle in die steek gaan laat. Waar gaan my kinders weer ’n ma kry wat so baie vir hulle omgee soos ek?

Die afgelope ruk ís daar so ’n ongekende moegheid in my. Ek bly bewus daarvan, maar skryf dit toe aan uitbranding na die vorige jaar se mallemeule van aktiwiteite. Of miskien is dit bloot my daaglikse verpligtinge teenoor my man en kinders wat sy tol begin eis. Ek neem meer vitamiene in en probeer meer slaap, maar ek kan nie van die moegheid ontslae raak nie.

Vier weke lank worstel ek met al die vrae terwyl Arnold se knie herstel en hy stelselmatig weer begin loop. Totdat ek weer aandag aan myself kan gee en gereed is daarvoor om met die prosedure voort te gaan. Of so gereed as wat ’n mens vir so iets kán wees …

Dokter Peter kyk van die monitor af na my. “Jou gewas,” sê hy, “het ’n hartklop. Is jy nie dalk swanger nie?”

Swanger? Ek? Swanger? Ek bars in trane uit. Hoe is dit moontlik?

Na Lileah het ek ’n swangerskap buite die baarmoeder gehad en my regterbuis in die proses verloor. ’n Jaar later het ek ’n miskraam gehad. Selfs met Lileah het ons gesukkel om swanger te raak. Die gedagte aan nog ’n baba het hoegenaamd nie bestaan nie. Net die vorige dag het ek en Arnold op die stoep vir Kinah en Lileah gesit en kyk waar hulle aan die speel was. Hoe geseënd is ek nie, het ek toe dankbaar gedink, ryklik geseënd met my twee pragtige kinders.

“Ons moet dadelik ’n bloedtoets laat doen,” stel die dokter voor. Nou is my gemoed eers deurmekaar! Ek wil-wil opgewonde raak, maar ek wil ook nie. Wat as ek hierdie baba ook verloor? Wat dan? Ek ís daardeur en dit was verskriklik. Die verlies los jou so … leeg!

[pagebreak]

Daardie aand lê ek lank met die Here en worstel. Ek wil antwoorde op my vrae hê. Teen drieuur die oggend kan ek nie meer so lê en rondrol nie. “Gee my ’n antwoord, asseblief, Here,” vra ek. Ek maak my Bybel oop by Psalm 127:3: “Behold, children are a heritage from the Lord, The fruit of the womb is a reward.” Ek het my antwoord gekry. Daar kom dadelik ’n kalmte oor my, ’n vrede wat by my bly. Wat God se plan hiermee ook al is, sál gebeur. Hy is in beheer en dis al wat van belang is.

Die volgende oggend vroeg kry ek die telefoonoproep van dokter Peter. “Lily, jy is al agt weke swanger!” Ek bel dadelik vir Arnold. Hy is super-opgewonde om die nuus te hoor. Ek is so verlig en uit die veld geslaan. Daar lê nie meer ’n stryd teen kanker voor nie, maar opgewondenheid oor ’n baba. Prys die Here! Hy het my gekies om nog ’n siel in die wêreld te bring. Wat ’n wonderlike voorreg. Ek wil huil én ek wil lag! ’n Groot en wonderlike dankbaarheid vul my. Ek het nie ’n gewas nie, ek het nie kanker nie, ek gaan nie sterf nie. Daar groei ’n nuwe lewe in my! ’n Baba! ’n Kind wat uit die hemel vir my gestuur is. ’n Kindjie wat met ’n besondere doel op aarde gebore sou word.

Ek verstaan nog nie alles nie. Hoekom het ek nooit oggendnaarheid gehad nie? Toe ek Lileah verwag het, het ek erg daaraan gely. Die moegheid was ’n duidelike teken, maar die gedagte dat ek swanger kon wees, het nooit eens by my opgekom nie.

Dis ’n droomswangerskap. Ek ervaar baie min ongemak en die baba groei pragtig. “Wil julle weet watter geslag die baba is?” vra dokter Peter. Nee, besluit ons, ons hou dit vir ’n verrassing. Maar met die 20 weke-ondersoek wys dit baie duidelik op die skerm. Ons gaan ’n dogtertjie ryker word!

Geen ervaring wat ek tot dusver gehad het, kan hiermee vergelyk word nie. My intense vrees is vervang met ’n vooruitsig van nuwe lewe. Die res van my gesin deel hierdie ervaring met my. Die kinders word voorberei op die nuwe aankomeling en hulle gesels gereeld met die baba in my maag. Hier is soveel liefde om te gee. Die nuwe baba is welkom in ons huis.

Wat sal ons haar noem? wonder ek en Arnold. Hierdie kosbare kleinding wat binnekort haar verskyning gaan maak? Laveda? Elle? Wát? Haar naam moet ’n Christelike betekenis hê.

[pagebreak]

’n Paar keer lees Arnold die naam Shiloh in die Bybel. Vier weke voor haar geboorte duik die naam weer twee keer op. Toe hy verslag gaan doen oor die Visrivier-kanomaraton by Cradock, moet hy die geskiedenis van die dorp naslaan. Ook daarin vind hy ’n Shiloh. Die week daarna is daar ’n National Geographic-program oor ’n dorpie Shiloh.

Op 15 Oktober, tweeuur die oggend, gebeur dit – my water breek. My baba is gereed om gebore te word, op my verjaarsdag! Wat nou ook haar verjaarsdag gaan wees. Ook hierin sien ek ’n wonderwerk in die kleine, by die groter wonder dat daar uit my vrees soveel vreugde gebore kan word. ’n Pragtige geskenk na al die rou oor die mense van wie ons afskeid moes neem.

’n Skrale drie en ’n half uur later aanskou ons dogter, Shiloh, die eerste lewenslig tydens ’n pragtige en vreedsame watergeboorte. Toe die vroedvrou oomblikke daarna die gordyne ooptrek, stroom die goue gloed van die son by die kamer in. Ek en Arnold kyk na mekaar en glimlag. “Ons noem haar Shiloh,” besluit ons. Shiloh, waarvan die betekenis so gepas is – God se geskenk, en vrede! En dit is so waar – jy kan vir niks beters op jou verjaarsdag vra nie.

Ek hou haar in my arms en kyk met verwondering na haar. Daar is ontsaglike dankbaarheid dat sy veilig en sonder gebrek gebore is. Die verlammende gedagte dat ek haar moontlik kon verloor het as ons by die oorspronklike plan gebly het, laat my God se hand duidelik hierin sien. Sy wil. Sy bestiering en bewaring. Sy genade. Ons baba was nie vir die Vader verborge nie. Waar niemand haar kon sien nie, is sy op ’n wonderbaarlike wyse aanmekaargeweef.

Shiloh is my klein wonderwerkie, spesiaal vir my gestuur. Sy is volmaak. Wat ’n seën en voorreg! Weer huil ek van blydskap teenoor die Here wat ons met haar lewe geseën het! Minute later kom haar boetie en sussie haar bekyk … Dankie dat ons gekies is om haar ouers te wees, dat ons vertrou is met hierdie geskenk en dat ons so ryklik geseën is.

Die kleinding maak so ’n groot verskil aan ons lewens, wat nou selfs meer vreugde inhou. Nou eers is ons gesinnetjie voltallig, nou eers is die lewe soos dit voor die bestaan van die aarde al vir ons beplan is. Want Hy het hierdie dogtertjie geken toe sy nog vir ons versteek was. Hy hét haar op ’n wonderlike wyse geskep en beskerm. Wat Hy gedoen het, laat my in wonderwerke glo.