Wanneer die liefde flop

Ek is seker ons harte is gemaak van glas. Ons bou mure om ons harte om seker te maak niemand het toegang tot ons kwesbaarheid nie.

Maar ons is dalk van iets anders ook aanmekaar geweef. Of is liefde sterk genoeg om ons mure af te breek?

Liefde… soms gee dit jou vlerke.

Soms lê dit soos lood in jou gemoed.

Soms spoel dit oor al jou grense soos ‘n golf wat jou onverwags tref.

Liefde breek maar kan ook bou. Liefde is daardie stukkie van iets waaraan ‘n hart wil vashou.

Ek wonder soms… Hoe beskryf jy die liefde? God is liefde, ja, maar daar moet ‘n begrip van liefde wees wat selfs ongelowige mense kan verstaan. Liefde is iets waaraan elke mens so ‘n groot behoefde het. Ons wil hoor ons is okei en dat ons goed genoeg is. Dit is asof daar ‘n huisie in elke mens is waar die liefde graag wil woon.

Jy nooi romanse in. Jy versier jou hart se huis met rose. Jy drink wyn en skryf gedigte. Jy word dronk van die liefde…want jy wil ‘n maatjie hê. Jy wil iemand hê met wie jy jou dag kan deel. Soos gesê in die fliek Shall We Dance: We want a witness to our lives.

Maar daar is min wat die hart so seermaak soos wanneer die liefde flop. Jy besef dan weer opnuut dat daar ‘n hart van glas binne jou woon. Genadeloos breek dit jou. Jy wens jou mure was sterker en jou liefde minder. Ek is oortuig dat die hart nie gemaak is om die pyn van verlore liefde te huisves nie.

Maar die hart laat hom nie voorsê nie. Jy moet sy golwe oor jou laat spoel en die sout van sy trane proe…

En dan weer die moed vind om jou huis mooi te maak.