Wanneer die ooievaar nooit by jou huis stop nie

Die jongman sit op die hoek van sy bed in die hoofslaapkamer in sy huis, hy is kaal bolyf met net sy swembroek aan en die deur agter hom is toegemaak.

Dit is mid-somer, Desember 2008 en die huis is vol jolige Desember-kuiergaste, die musiek speel vrolik en vul die hele huis, sy pragtige vrou is besig om iets ongeloofliks op te tower in die oond en die reuk vul elke hoekie van die huis.  Die swembad is vol baljaar en die reuk van sonbrandroom en chloor, van familie wat elke oomblik van die somervakansie ten volle geniet, hang rondom die huis. Alles lyk perfek en op die oog-af lyk dit of hierdie jongman die wêreld aan sy voete het – gesond, voorspoedig, 8 jaar getroud met die liefde van sy lewe, sy droomvrou, pas in ‘n nuwe huis ingetrek, vragte werklike opregte en goeie vriende, dierbare familie, iemand wat al die ‘tick-boksies’ van die lewe gekry het. As jy die man van nader bekyk, sien jy egter dat die trane oor sy wange stroom, sy skouers hang, hy sit soos iemand wat moeg is vir die lewe……hy het pas nuus gekry, in der waarheid baie goeie nuus, maar nuus wat hom vandag gebreek het. Sy dierbare Universiteitskamermaat het hom pas laat weet dat hulle ‘n tweeling verwag……dis absolute skitterende nuus, dis ‘n wonderlike geskenk vanaf God, maar daar het te veel hiervan die afgelope tyd gebeur, te veel sulke boodskappe, te veel genade vir ander, maar nie vir hom en sy vrou nie.

Drie jaar is verby waarin die fasade vandag gebreek het, ‘n fasade wat hy nie langer kan ophou nie en ook nie weet hoe om te hanteer nie. Sy geloof is besig om te wankel, sy manwees is gekrenk, sy persoonlikheid is aangeraak, sy selfvertroue stap saam met sy geloof die verkeerde pad, sy huwelik ervaar wrywing en hy sien hoe sy vrou elke maand verder en verder wegsak in die diepte van depressie. Hy weet hy gaan nou uit hierdie tydelike wegkruipplek moet uitstap, sy trane afvee, die huis vol mense in die gesig kyk en dan hierdie nuus op die een of ander manier met sy liefde van sy lewe moet deel. Hy weet baie goed dat hierdie brokkie nuus net nog ‘n stukkie van haar sal afbreek en haar vrouwees nog verder negatief gaan beïnvloed.

Die man in bovermelde verhaal is ekself en hierdie het werklik gebeur in my eie lewe. Dit is deel van die legkaart van wie en wat ek is en dit is tyd om dit met ander te deel. Die rede hoekom ek nou my stilte breek is vreemd en weereens onverwags.  Op ‘n vrolike Vrydagoggend stuur Corrie Burger vir my ‘n whatsapp aan wat my laat steier en terugsit in my stoel.  Aanvanklik wil ek nie haar boodskap lees nie, maar ek lees dit tog en dit raak my diep aan, ja dit dryf my tot trane en raak ‘n diep weggesteekte aspek aan wat min mense ooit besef of beleef het. Dit is ‘n gedeelte wat geskryf is om mense bewus te maak van paartjies wat ‘sukkel’, ja kom ons verwoord dit reg: paartjies wat nie normaal swanger kan raak nie.

Die realiteit waarmee paartjies stoei wat sukkel om kinders op hul eie te verwek, is nie normale Saterdagaand-om-die-braaivleisvuur gesprekke nie. Dit is iets wat met stilte en soms ongelooflike onsensitiwiteit hanteer word. Vir die tweede keer in my lewe inspireer Corrie my om iets te skryf en ‘n stem te wees vir mense wat dalk tans deur so ‘n stryd gaan en self nog nie sterk genoeg is om te praat of uit te reik na familie en vriende nie. Sulke paartjies raak stil, vir redes van selfbeskerming in ‘n wêreld wat nie besef wat gebeur met sulke twee mense op ‘n daaglikse basis nie. Ek en my vrou weet, ons is hierdeur en niks kan jou voorberei op hierdie donker pad waarop sommige genoodsaak word om te wandel nie.

Daardie 3 jaar in bovermelde skets, het op die einde baie meer jare geword en vervaag in ‘n warboel van dae en maande en hoop wat net eenvoudig opgehou het.  In die tydperk van 2012 tot 2013 het ons ‘n besluit geneem waarvoor ons verantwoording moet doen en waarmee ons moet saamleef tot die dag van ons dood. Ons besluit om enige verdere behandeling te staak is deur sommige veroordeel en aanmoediging om aan te hou of ‘n kind aan te neem, het herhaaldelik op ons pad gekom. Dit is en bly maklik vir mense om te verwoord dat dit ons keuse was om op te hou en nie verder aan te gaan nie, want sê nou net………. Dit is daardie oomblik wat jy dit wil uitskree: moet nie oordeel oor ‘n situasie waarin jy nog nooit was nie en niemand kan daardie paartjie se pad en emosionele mallemeule verstaan of begryp nie.

Ek skryf nie vir my eie of my vrou se onthalwe hierdie blog nie en vir seker nie om vandag simpatie te ontlok nie, ek skryf sodat jy as leser sal weet dat daar buite tans ‘n paartjie is wat deur so iets gaan. Iewers onder jou neus is ‘n pragtige, verliefde paartjie wat nie meer weet hoe om by braaie, funksies en kuiers op te tree nie, mense wat in hul 30’s begin onttrek van sosiale byeenkomste omdat hul seer en pyn te ondraaglik geword het om weg te steek. Mense wat by funksies die vraag van ‘so wanneer kom julle kinders’ of ‘hoe oud is jou kinders’ vrees met alles wat in hulle is. Mense wat soms fasades ophou wat onnodig is, maar oor tyd opgebou en vasgemessel word tot iets wat jare vat om weer af te breek.

Hierdie blog skryf ek vir die man en vrou wat al hul vriende en familie se doopgeleenthede bywoon en tussen die gesange en gelukkige, kosbare foto’s hul eie trane in bedwang moet hou, mense wat ná die tyd dan nog hul skuldgevoelens oor hul negatiewe gemoed voor hul hemelse Vader moet belei.  Ek skryf vir die paartjie wat mekaar se hande so styf vasklou by kinderverjaarsdagpartytjies, juis omdat hul bang is om alleen enige vrae te antwoord, mense wat steeds alle wonderlike geleenthede van vriende en familie bywoon en saam die lewe vier met ‘n traan in die oog, vir die paartjie wat steeds opgewonde is oor almal rondom hulle se nuus oor swangerskap, dope, eerste verjaarsdae, eerste skooldae en die groot vrees, vaders- en moedersdae. Ek skryf vir daardie man wat om die braaivleisvuur staan en moet hoor vir die hoeveelste keer in sy lewe hoe maklik dit vir die ander mans was, vir daardie man wat die ‘raakskiet’ grappies moet aanhoor, die ‘maak ‘n bad vir jou vrou en bel my’ grappies. Vir die vrou wat al haar vriendinne se ooievaarspartytjies bywoon, saam foto’s neem, help organiseer en na die tyd die aand omhuil op die bank. Vir die vrou wat op baie sulke geleenthede haar so besig hou met foto’s neem, met koek en eetgoed aandra, net om tog nie die realiteit van die oomblik te aanskou nie. Ek skryf vir die paartjie wat onkant gevang word by ‘n vriende-en familiegeleentheid, waarby die wonderlike nuus van swangerskap bekend gemaak word van ‘n ander paartjie as hulle. Ek skryf vir daardie paartjie wat die res van daardie aand nie weet hoe om hul trane te keer nie, wat sukkel om hul jaloesie te beteuel en nie weet hoe om hul eie frustrasies te hanteer nie….frustrasies met God, met alles en almal en sommer net hul wil oorgee aan alles wat verkeerd is. Ek skryf vir die man wat voor ‘n dokter moet sit en hoor sy spermselle ‘swem’ nie, ‘is eintlik dood’ en daardie man wat moet hoor dat die kanse eintlik nul is dat hy ‘n pa gaan word. Ek skryf vir daardie vrou wat moet hoor haar baarmoeder is nie ontvangklik nie, wat uit ‘n hospitaal moet stap na die soveelste prosedure en hoop hierdie keer het dit gewerk. Ek skryf vir daardie man en vrou wat se sekslewe so gespanne geraak het dat die mooiheid daarvan weggeraak het. Ek skryf vir die vrou wat bloed vrees, vir die man wat in die bed lê en hoor hoe sy vrou in die badkamer huil net omdat sy begin bloei het. Ek skryf vir daardie paartjie wat so opgewonde raak vir die feit dat sy ‘laat’ is en die duisendste toets koop en weereens sien dis negatief. Ek skryf vir daardie paartjie wat vandag moedeloos is, kwaad is vir God, wat se huwelik wankel omdat die fokus begin draai het om hormoonbehandelings, tye van seks, tye van toetse by dokters en tye van weggesteekte teleurstelling. Ek skryf vir die paartjie wat elke oggend verby skole ry en wonder hoe dit sou wees om hul kind af te laai, wonder hoe sou hul kind gelyk het en hoe dit sou voel om hul eie ou lyfie vas te hou. Ek skryf vir die paartjie wat op troues en funksies tot die besef kom dat hul nooit hul eie kind sal weggee of sien 21 word nie.

Ek deel nog iets wat werklik gebeur het in ons lewe en ek besef dat ek iets deel wat baie min mense weet. Ek was by die kantoor rondom 2011, ‘n koue wintersoggend en ons was vas oortuig dat ons swanger was, ons het so hard gebid en so hard geglo. Die tekens was daar, Elmanda was ‘laat’ en ons het alles volgens die doktersvoorskrifte reggedoen…al eintlik vir ‘n baie lang tyd. Ek het gesit agter my lessenaar en my beeldskone vrou stap in en breek in trane uit, nee sy breek in stukkies van ‘n afgetakelde vrou wat nie meer dit kan doen nie. Dit was ‘n wintersoggend en sy het ‘n toets gaan koop en haar nuuskierigheid het haar genoop om alleen dit te doen. Haar oë was nie net hartseer daardie dag nie, hulle was dood en ek het iets gesien en beleef wat ek geweet het iewers sal moet stop. Saam het ons staan en huil en op daardie stadium het ons nie veel meer met mense, vriende en familie gedeel nie. Dit raak te seer en te moeilik en later verkies jy om net met mekaar daaroor te praat, jy vermy die vrae. Jy sit die masker op en pak die lewe aan met alles wat jy is en het. Hierdie keer was ons so oortuig dat ons ongelukkig meegevoer geraak het vir die verkeerde redes. Met al die behandelings en hormone het alles maar net eenvoudig so deurmekaar geraak dat haar liggaam en siel die prys begin betaal het, nee ons het beide die prys begin betaal en dit moes stop.

Om sensitief te wees vir waardeur mense gaan is vandag al wat ek vra en mag hierdie blog jou aanraak om die diepe seer in mense se oë te sien wat hulle wegsteek. Wees sensitief met jou raad en jou woorde aan sulke paartjies, wees bedagsaam vir wat dalk met daardie twee mense gebeur het voor hul opgedaag het by jou kind se partytjie, ingestap het by ‘n vergadering of waar hulle in die kerk sit. Soms is al wat sulke mense nodig het, ‘n ekstra druk, ‘n boodskap op die regte oomblik en tyd en vir seker nie jou oordeel, raad of opinie nie. Dalk is hierdie te na aan my eie ervaring dat dit nie anders kan as om my aan te raak nie, maar mag ons Hemelse Vader vir jou as leser die regte woorde gee om met sulke mense te gesels en regtig om te gee. Ons het ongelooflike vriende en hoe later in ons lewens, hoe meer sensitief het hul geraak vir ons stryd. Sekerlik een van die gebare wat die mooiste was en wat steeds vassteek in my kop, is wanneer ons vriende eers alleen na ons gekom het om die nuus van ‘n swangerskap eers net met ons te deel. Ek wonder of hulle ooit sal weet hoe wonderlik dit is om sulke sensitiwiteit te beleef. Hierdie vriende het, voor hul hierdie wonderlike geskenk van God met die wêreld deel, eers na ons gekom en in die privaatheid van ons eie huis dit gedeel. Dit het so ‘n groot verskil gemaak en ons is diep en opreg dankbaar daarvoor tot vandag toe. Dit gee so ‘n paartjie die tyd en kans om dit te verwerk en dit bou vriendskap wat nooit gebreek kan word nie…….dit is dinge van die lewe wat altyd bly staan.

Vir jou wat hier lees wat tans in so ‘n stryd is, my dierbare mens, ek weet nie wat is God se plan vir jou lewe nie, ek weet nie hoekom vragte mense op aarde aborsies ondergaan terwyl jy smag met jou hele wese na ‘n kind van jou eie nie, ek het nie daardie antwoorde nie. Ek kan wel vir jou verwoord dat jy nooit moet twyfel aan God se pad wat Hy met jou gaan loop nie, moet nie Hom kwalik neem vir iets wat nou totaal geen sin maak nie en moet nie bitter raak vir almal se vreugde rondom jou nie. Moet julle as paartjie nooit aan jul liefde vir mekaar twyfel nie en moet nie dat hierdie ding julle huwelik opbreek nie….dit gebeur baie makliker as wat mense besef. Die duiwel wil jou steel met sy bitterheid, negatiwiteit en hy gaan jou nooit met rus laat op hierdie punt nie. Gee ook hierdie deel van jou lewe oor aan God en vertrou dat jy iewers sal verstaan hoekom jy hierdie pad moes loop in die lewe. Ek kan nie waarborg dat met volle oorgawe jou kleintjie sal kom nie, maar vertrou Hom onwrikbaar deur dit alles en doen wat jy moet doen om vrede te kry.

Vandag verstaan ek die stukke van my eie lewe se legkaart beter, alhoewel dit nie altyd sin maak nie. Ek dink nie ons sal ooit op aarde die Vader se weë heeltemal verstaan nie, maar Sy pad met ons lewe was anders uitgekap as wat ek op ons droomtroue in 2000 sien gebeur het. God bepaal ons lewe en ek het meer ontvang as wat ek verdien op aarde. Die dag as jy dit besef en dit mag lank neem, daardie dag sal jy rus vind, al loop die trane steeds soms oor jou wange, al raak jy steeds tranerig selfs by vreemdelinge se  kinders se doopgeleenthede, al vang jy jouself dat kinderverjaarsdagpartytjies ‘n seer wakker maak en al wonder jy: “Wie sal na my kyk as ek oud is?” Mag ons verhaal jou aanraak en vandag vir jou rus bring, wie jy ookal is en waar jy jouself ookal bevind.

Mag die vrede wat alle verstand te bowe gaan eerder vandag by jou huis aandoen, al het die ooievaar by almal gestop, behalwe by jou. Ek dra aan jou op Johannes 14: 27 “Ek laat vir julle vrede na: my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.”

Vorige artikelLiegstories
Volgende artikel[VIDEO] Glo opnuut in die krag van gebed
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.