Wanneer is dit die Gees en wanneer is dit ’n engel?

0
35
engel

Prof. Hennie Stander (teoloog) verduidelik dat engele nooit die plek van God of die Heilige Gees kan inneem nie.

Prof. Hennie Stander (teoloog) verduidelik dat engele nooit die plek van God of die Heilige Gees kan inneem nie.

Alhoewel engele deur die eeue heen redelik populêr was, was daar ook ’n tyd dat ’n mens hulle omtrent net op Kerskaartjies teëgekom het. Vandag is engele egter hoogmode, en hulle gewildheid kan ook toegeskryf word aan die aandag wat hulle in die New Age-beweging kry. Jy kry vandag engele in flieks en boeke, en in geskenkwinkels is engelbeeldjies te koop.

Die meeste goed wat mense oor engele glo, het egter geen Bybelse grond nie. In sommige mense se denkwêreld lyk dit byna of engele ons moet help omrede God te besig is om dit te doen. In die Bybel sien ons egter dat dit in 99% van die gevalle God self is wat ons beskerm. Nêrens in die Bybel kry ons ook ’n bewys dat ons tot engele moet bid of die engele moet vra om ons te beskerm nie. God kan natuurlik sy engele gebruik om ons te beskerm as Hy wil, maar ek rig my gebede tot God en nie tot engele nie. Ons word beslis ook nie engele wanneer ons doodgaan nie. Jesus sê ook nie in Matteus 22:30 dat ons eendag engele gaan word nie. Hy sê ons gaan “soos” engele word deurdat ons in ’n geestelike bestaansruimte gaan wees. 1 Korintiërs 15 sê duidelik dat ons ’n “nuwe geestelike liggaam” gaan kry.

Baie van die dinge wat ek lees oor wat mense oor engele glo, sou ek reken lê eerder op die vlak van die Heilige Gees. Die Gees wil al daardie wonderlike dinge vir ons doen, nie die engele nie! Dit lyk eintlik of Jesus en die Heilige Gees ’n bietjie eenkant toe gestoot word, en of die engele van die Heilige Gees se “rolle” of “werkinge” in die lewe van sekere gelowiges begin oorneem.

Die Bybel vertel ons eintlik min van engele. Ons weet dat hulle God se dienaars is, en God kan natuurlik engele aanwend soos Hy wil. Wat ek wel weet, is dat ek my kan verbly oor die feit dat God na die wêreld gekom het. Dit gaan oor “Immanuel”, wat beteken “God by ons”. Dit is in die eerste plek nie engele wat by my is nie, maar God. Jesus het ook nie beloof dat Hy engele sal stuur om ons te help nie. Hy het gesê dat Hy die Heilige Gees sal stuur om ons te vertroos. So, my troos lê by God en nie by engele nie.