Wanneer is dit oukei om te jok?

0
264
jok.jpg

Dis moeilik om te besluit of ʼn wit leuentjie die beste opsie is. Al voel dit reg, is dit nie noodwendig só nie.

“Is die waarheid regtig so belangrik of is ek heeltemal gek om 100% eerlik te wees?” ”Is ek besig om myself te verraai wanneer ek ʼn witleuentjie vertel?” Dit is een van daardie dilemmas wat elkeen van ons in die gesig staar. Die antwoord hierop is: The truth almost always sets us free. Maar nie alle situasies vereis dieselfde vlak van openlikheid nie.

Die teiken van die reine waarheid

Veronderstel jy is in die middelpunt van ’n sfeer – ’n soort drie-dimensionele teiken. Jy is die kolskoot, jou naaste verhouding is die volgende ring, gevolg deur vriende, kennisse, vreemdelinge en psigotiese diktators. In ’n gebied naaste aan jou, wil jy suiwer, gesonde, eerlike lug hê. Hoe verder die ringe van die middelpunt is, hoe minder raak die belang van waarheid. Die volgende reëls bepaal of die waarheid die moeite werd is of nie.

Reël 1: Wees altyd eerlik met jouself

Die mees intieme band in jou lewe is die een wat jy met jouself het. Oneerlikheid in hierdie verhouding is op sy beste onproduktief en op die ergste katastrofies. Vertel jouself die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid nie.

Natuurlik kan dit moeilik wees. Soos wat daar in Engels gesê word: “Denial ain’t just a river in Egypt.” Ons raak almal vasgevang daarin, al is dit net soms. Soms lieg ons vir onsself sonder dat ons dit besef. Gelukkig kan ons altyd ons eie onwaarhede vind. Om leuens te glo maak ons net ongelukkig. Dit is hoekom effektiewe berading, van terapie tot ʼn gesprek met jou geliefde op vertroue fokus.

Jy kan vir jouself sê dat vrolike gedagtes altyd geluk skep, maar eintlik jok jy net vir jouself. Hoe meer ons in kontak kom met ons diepste waarhede, hoe duideliker en gelukkiger kan ons innerlike lewens word.

Terapeute kan wel ʼn goeie opsie wees, maar leer liewer om vir jouself raad te gee – deur om agter te kom wanneer jy sleg voel oor iets en wanneer jy negatiewe gevoelens het. Vra en beantwoord die onderstaande vrae. Wees rustig en vat jou tyd met elke vraag, ʼn antwoord sal wel vorendag kom. Skryf dan die antwoord neer. Die vrae is herhalend, omdat verskillende woorde verskillende antwoorde ontlok.

Vrae vir jou wat oogklappe dra
1. Wat is ek bang om te weet?
2. Wat steek ek weg?
3. Wat weet ek sover?
4. Watter kennis vermy ek?

Waarskuwing: Die waarheid wat hierdie oefening ontlok veroorsaak ook oorweldigende emosies. Onthou net, as jy aanhou lieg, straf jy jouself met eindelose ellende. Sit en asem die waarheid vir ’n rukkie in. Dis soos ʼn berg van ʼn mens se skouers af.

Reël 2: Vertel geliefdes soveel waarheid as moontlik

Wanneer jy nie die waarheid praat nie, selfs al is dit net om iemand tevrede te stel, beteken dit dat jy niemand die kans gee om jou werklik te leer ken nie. Hoe kan hulle jou dan verstaan en lief wees vir die persoon wie jy regtig is? Maak nie saak hoeveel ons ʼn persoon bewonder nie, as hy of sy lieg is daardie liefde net ʼn fiksie. Sonder eerlikheid, voel ’n mens leeg en uitgesluit.

Indien enige van jou verhoudings voel of dit onder druk geplaas word, moet jy besluit of ʼn groter deel van die waarheid die antwoord sal wees op jou probleme. Miskien sê jy vir almal dat dit goed gaan wanneer dit glad nie so is nie. As jy aanhou om reël 1 te volg, sal jy weet om die waarheid te vertel is jou enigste uitweg, daarna moet jy so eerlik as moontlik wees.

As jou geliefdes net so baie waarheid met jou deel sal julle nader aan mekaar groei. As hulle aanhou om te lieg, sal jy moet aanvaar dat die afstand tussen julle groter sal word. Die goeie nuus is dat as jy nooit vir jouself lieg nie, sal jy kan herstel van gebroke verhoudings en nuwe verhoudings met meer eerlike mense vorm.

Reël 3: Net genoeg waarheid om optimale verhoudinge te handhaaf

Soms is jou lewe vol geprop met belangrike mense, en om meer mense in jou lewe te hê kan te veel raak. Aan die ander kant is dit dalk ʼn begeerte om nog vriende te hê. Onthou net ʼn sterk verhouding kom van eerlikheid en vertroue. Deel minder om mense weg hou en meer om hulle nader te trek.

Sê byvoorbeeld, jy kom uit 'n rowwe vergadering met jou aaklige baas, en 'n kollega vra: “So, hoe het dit gegaan?” As jy nie ʼn goeie verhouding met hierdie persoon wil skep nie, sê: “Dit was okei.” Maar as jy wel ʼn goeie verhouding wil hê, vertel dan die waarheid: ”Ek het al beter dae gehad.” Nou is dit jou kollega se beurt om te besluit of sy ʼn vriendskap wil bou. As sy nie wil hê jy moet haar beter leer ken nie, sal sy vriendelik lieg: “Jammer om te hoor – O, my foon lui.” As sy die vriendskap wil aanmoedig sal sy openlik antwoord: “Ek het ook al sulke dae gehad, maar ʼn koppie koffie help altyd”

Die sleutel van openlikheid is om net ’n bietjie van die waarheid op ʼn slag te deel. Daar is geen rede om jou hele lewensstorie uit te blaker aan almal wat groet nie, of om elke persoon wie jy skaars ken te omhels nie. Vertel ’n bietjie van die waarheid, evalueer die reaksie, vertel ’n bietjie meer – of nie. Dis vir jou om te besluit. Met elke geleidelike benadering kan jy jou verhoudings aan pas sonder onnodige drama.

Reël 4: Om ontslae te raak van ʼn vriendskap, vertel ʼn leuen

Net in verhoudings wat alreeds iets verskrikliks is, jok ’n ideale kommunikasie tegniek. Raak dadelik ontslae van die verkeerde vriendskappe, maar as jy dink ʼn liegstorie sal ʼn persoon beskerm waarvoor jy lief is dan moet jy weer by reël 1 begin. Jou eie hart sal vir jou sê dat ʼn leuen altyd ʼn verhouding vergiftig.

Sodra jy ʼn besluit gemaak het oor waar jy jou vriendskappe wil plaas, kan jy jou moue oprol en die situasie aanpak.