Wanneer is dit tyd vir ’n selfoon?

491

Voordat ons vir ons kinders ’n karsleutel gee, maak ons seker dat hulle die padreëls ken en weet hoe om te bestuur.

“Mamma, wanneer kry ek ook ’n foon?” Die woorde van jou sesjarige wil jou laat weghardloop, want wat staan jou nou te doen.

Hoe maak jy as ouer die regte besluit?

Groepsdruk en gesprekke met ander ouers laat jou wonder wanneer die regte tyd sal wees om vir jou kind sy eerste selfoon te gee. En gee jy ’n foon, moet dit ’n slimfoon wees of sal ’n beginnersfoon voldoende wees?

Neem jou gedagtes terug na die begin. Die internet en sosiale media is fantasties, dis soos ’n kuberhoofweg wat jou van punt A na punt B neem, maar wat ook vol afdraaie is waar jy nuwe mense kan ontmoet, nuwe plekke kan sien en nuwe kennis kan verwerf.

Op die hoofweg kry ons dronkbestuurders en mense sonder rybewyse. In die kuberwêreld is die dronkbestuurders die kriminele. Dit is die ouens wat jou data, inligting, jou geld en soms jou kinders wil steel.

Die mense sonder rybewyse is ons kinders. Hulle het nog nie geleer hoe om veilig op hierdie kuberhoofweg te ry nie en moet eers vir ’n paar lesse gaan.

Berei jouself voor en verskaf die nodige gereedskap

In die kuberwêreld moet ons voorbereid wees en die nodige kennis inwin om ons kinders verantwoordelikheid op die internet te leer. Watse vrae kan ’n mens vra om te bepaal wanneer die tyd reg is vir hulle eerste selfoon?

Elke gesin verskil, gebruik die volgende riglyne.

Ons moet daarop let dat ons besluit hulle sosiaal kan beïnvloed daarom moet ons hulle herinner dat hulle waarde nie bepaal word deur die tipe foon wat hulle gebruik of wat mense aanlyn sê nie.

Die beginpunt is jou verhouding met jou kind. Hulle moet besef jy is daar om vir hulle die nodige gereedskap te gee en hulle veilig in die kuberwêreld te hou.

Die doel van die foon – is dit nodig vir kommunikasie of wil hulle net speletjies speel en kan saam gesels? ’n Eenvoudiger foon sal goed werk vir kommunikasiedoeleindes, sodoende word hulle nie blootstel aan al die internet se inhoud nie.

Riglyne om uit die gevaarsone te bly

Maak seker dat jy te alle tye weet wat op jou kind se selfoon aangaan en leer hulle dat jy deel van hulle digitale reis wil wees.

Gebruik die ouderdomsbeperkings op apps om te besluit of dit van pas is om op hulle huidige ouderdom ’n sekere app te gebruik.

Oorweeg ’n digitale grondwet wat in julle gesin die reëls en regulasies neerlê, waarby almal kan teken. Almal kry ’n beurt om hulle insette te lewer en dan daarby te bly.

Dit sal goed wees om in te sluit dat foto’s wat iemand in die verleentheid gaan stel nie geplaas mag word nie en om ook nie sonder hulle toestemming iemand te tag nie.

As dit ’n geskeide gesin is, moet albei ouers weet wat van hulle kinders gedeel word. Leer van die begin af vir hulle dat ons tyd kosbaar is en dat ’n selfoon nie die belangrikste prioriteit is nie.

Om vir jou kind ’n selfoon te gee of nie, is ’n baie moeilike besluit, so sorg dat jy jouself met die nodige feite toerus om hulle veiligheid te verseker.

-RIANETTE LEIBOWITZ

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.