Wanneer Jerigo se mure nie val nie

Jerigo se mure

Die moedelose uitdrukking op sy gesiggie, het my ekstra nuuskierig gemaak oor die res van die storie.

Die outjie was besig om my iets te probeer vertel van sy nuwe pyl en boog en hulle huis wat nog staan.  Ek het sy ma later daaroor uitgevra omdat ek nie kop of stert daarvan kon uitmaak nie.  Haar sug en oë rol het my sommer laat reg skuif vir ʼn lekker storie.  Sy vertel toe hoedat die oudste boetie vir homself ʼn pyl en boog gemaak het, maar dat die pyl vinnig-vinnig bo-op die dak beland het.  Hy het sy jonger tweeling boeties aangehits om dit vir hom op die dak te gaan haal, maar Mamma het vinnig ʼn stokkie daarvoor gesteek.  Sy het die kinders daarna ʼn paar keer rondom die huis gesien, maar dinge was min of meer stil en rustig. 

Die volgende oomblik breek daar egter ʼn herrie los… kinders wat skree en potte en kastroldeksels wat teen mekaar geslaan word.  Toe sy buite kom en vra wat aangaan, verduidelik hulle dat hierdie die sewende keer is wat hulle om die huis stap en dat hulle nou, soos in Jerigo se tyd, moet skree en ʼn geraas maak sodat die huis se mure kan inval en hulle hul pyl kan terug kry.  Die knapie se frustrasie maak toe skielik sin en ek onthou dat hy iets genoem het van niks wou val nie.  Alhoewel ek saam met sy ma baie dankbaar was vir die feit dat hulle huis se mure nog staan, kon ek nie help om so bietjie jammer te voel vir hom nie.

Soms werk die lewe ook maar so.  Soms het ons ook ʼn Jerigo waarom ons moet stap.  Dinge in ons lewe waaroor ons ernstig bid dat die mure sal val. Soms is die stad egter bietjie groter as wat die Kinderbybel dit voorstel en val die mure nie altyd wanneer ons verwag dit moet nie.  In ons gesin se geval was Jerigo nie eers op die horison nie.  Toe ons weer sien, toe doem hierdie groot, hoë stadsmuur voor ons op.

Hier waar ek staan, sien ek net ʼn deel van die muur en soos wat ons besig is om rondom te stap, leer ons die res van die muur stuk-stuk ken.  Dit is ʼn misterieuse muur met vreemde inhamme en onverwagse hoeke en draaie.  Ek gaan nie doekies omdraai nie, dit is ʼn hoë muur, ʼn stewige muur, ʼn intimiderende muur. 

Om egter op Jerigo se muur te fokus, steel baie van my energie (iets wat ek nie kan bekostig om te vermors nie).  Ek kom agter dat ek my rondtes rondom Jerigo makliker stap wanneer ek eerder fokus op die Een wat saam met my stap.  Hy kry dit reg om my rustiger te laat voel terwyl ek blindelings vorentoe stap.  Hy is die een wat my pad met Ragab s’n laat kruis, mense wat (dikwels uit onverwagse oorde) kom hulp of ondersteuning aanbied.  Hy herinner my aan die wolkkolom en die vuurkolom waarmee Hy ons tot hier gelei het.  Hy herinner my aan die daaglikse manna en kwartels en Hy trek my nader aan sy bors sodat, wanneer my loflied tranerig word, ek dit teen sy bors kan sing.

Hoe nader ek aan Hom kom, hoe meer tyd ek saam met Hom spandeer, hoe meer besef ek een ding: Ons oorwinning lê nie oor omstandighede nie, ons oorwinning lê in ons verhouding met Hom wat saam met ons in die omstandighede is.  Ons word nie eers oorwinnaars wanneer die mure val nie, ons is besig om reeds as oorwinnaars rondom Jerigo te stap want Hy stap saam met ons.

So, as ek vir jou sterkte en seën toewens op die pad rondom jou Jerigo, doen ek dit as ʼn medereisiger wat weet van moeg raak, wat weet van smeek en wat weet van bid dat dit anders sal wees, maar wat ook weet van die vrede wat alle verstand te bowe gaan te midde van omstandighede.  Mag dit ook jou deel wees.