Wanneer jou masker tyd koop…

Hello jy.

Mag ek met jou eerlik wees?  Ek voel vandag so kwesbaar.

Mense verwag dit gladnie van my nie want ek is mos “Vrolik” op Radiokansel.  Maar enigiemand wat ‘n positiewe borrelende persoonlikheid het sal vir jou vertel dat dit nie altyd waar is nie.  Wanneer jy daardie af dae kry, dan onttrek jy maar tot dit oor is en jy weer kan aangaan.  Nie noodwendig onttrek van mense nie, mens het nie altyd daardie luukse nie.  Maar jy lewe deur ‘n sif.  Maak dit sin?  Maskerdra is eintlik gladnie moeilik nie.  Ek dink baie meer van ons kan puik toneelspeel as wat ons onsself krediet gee.  Hoe gaan dit Janine?  Goed dankie en met jou?  En dis maklik want jy weet die een wat vra wil nie eintlik enige ander antwoord as dit hoor nie.  So daar gaan jy.  Maar binne-in voel dit soms rou en afgestomp.  Dis moeilik om regtig vir ander lief te wees wanneer jy so “grys” voel.  Jy kan woorde gee, aksies doen… maar die hart sleep eintlik maar agterna.

Maar ek het nou al male sonder tal ervaar hoe die Here jou daar gaan haal.  Jou masker flous Hom nie.  Dis asof Hy my elke keer eers tyd saam met myself gee, wroeg tyd, kla-tyd, moedeloos wees op my eie terme-tyd.  Maar dan kom Hy en Hy begin die watte pak.  Dis nie asof enigiets veel verander nie, maar dis asof die grysheid sy lem verloor.  Die snykant word stomper, die binne-kla word minder en dan kom Sy Woorde.  En ek besef Hy moet wag dat ek kan hoor.  Ek kan nie hoor terwyl ek nog veg nie.

Dis dalk daardie gebroke gees, né?  Die een wat Hy nooit sal verag nie.  Jou gees is nog nie gebroke solank jy nog kan stry, beterweet en verontreg kan voel nie.  Dis daardie gelatenheid wat kom saam met die wete dat daar alweer net een antwoord is, Jesus.

En dan gebeur dit.  Hy gebruik jou DAN!  Iemand laat jou weet wat ‘n woord vir hulle beteken het.  Of ‘n drukkie of wat ookal.  En jy is ontmasker vir jouself.  Jy het geen illusies dat jy enigiets gehad het om te gee nie.  Dit kon eenvoudig nie jy gewees het nie.  Dit is dan dat dinge wel sin maak, selfs terwyl niks opgelos is nie.  Daar is iets groters om voor te lewe as jou eie kleine klein wroeg-lewetjie.  En dit maak Sy lewe die moeite werd.

DEEL
Vorige artikelSwaar word soet
Volgende artikelVir ons en ander se dom keuses
Blogger - Janine van Niekerk
Janine van Niekerk is 'n media evangelis, getroud met Cecil van Niekerk en ma van Paul en die tweeling, Elmien en Leilah. Sy is 'n gospelmusiekkundige, bestuurder van Retief Burger, omroeper by Radiokansel 657AM, betrokke by verskeie eenheidsbewegings en baie aktief in media; wat verskeie radiostasies, TV, skryfwerk en sosiale platforms insluit. Aangename Kennis, Here is deur haar gepen en sy het ook 'n hoogs suksesvolle uitreik CD, die StuurwielStories, anoniem opgeneem, waar die Agies basiese radikale Christenskap ontdek.