Wanneer jou selfoon “gesteel” word

0
377
liewe.jpg

Dis ’n enorme frustrasie om sonder jou selfoon te wees. ’n Goeie fee het my gesteelde foon opgepas.

Liewe Selfoon-fee

Ek is spyt ek het jou nooit ontmoet nie. Dalk lees jy hier en kan ek jou eendag in die oë kyk en dankie sê. Ek is nogtans seker jy weet presies hoe baie ek jou mooi gebaar waardeer het.

’n Luilekker naweek het voorgelê. Vir drie salige dae sou ek en my vriendin die stad se gewoel agterlaat en ’n bietjie op die grasvlaktes van die Vrystaat gaan uitspan. Ons het uiteindelik tyd gekry om op hulle familieplaas te gaan kuier, iets waarna ek al baie lank uitgesien het. En ek dink sy ook.

Ons werk albei skiktyd, maar jy weet mos wat dit beteken. Jy moet altyd beskikbaar wees, nie net weeksdae van 8 tot 5 nie. Moet glad nie dink ek kla nie! Ek is mal oor my werk as eiendomsagent, want ek kan heeldag huise kyk en nuwe mense ontmoet. Maar soms kry selfs ’n besige bytjie soos ek lus vir stilte.

Kort voor middagete het ek my vriendin gebel om te sê ek is gereed, sy kan my maar kom oplaai. Asof ons nie in elk geval amper elke dag met mekaar praat het nie, het ons land en sand gesels. Oor kinders, die ekonomie, ’n pragtige eiendom wat ek pas gelys het, haar oorsese konferensie wat wag, ons drome, ideale… En elke nou en dan het ons kliphard gelag. Die kilometers het verbygevlieg. Stadig maar seker het die stad se spanning uit my lyf gevloei en kon ek die vars plaaslug proe al was ons nog op die N1.

Daar was nog oorgenoeg diesel in die tenk, maar ons het besluit om soos regte vakansiegangers gou by die vulstasie langs die pad te stop vir koffie en ietsie soets. My agtermekaar vriendin het haar handsak oor haar skouer gegooi, en ek het oudergewoonte alles in my hande vasgeklou. Ek kon nog nooit die gewoonte aanleer om ’n handsak te gebruik nie. Maar, oortuig ek myself altyd, dis net ’n beursie en ’n selfoon.

Omdat my vriendin nie wou hê dat ek tot die reiskoste moes bydra nie, het ek aangebied om vir die koffie te betaal. Met twee stomende koffies (oukei, en twee sjokoladestafies) is ons terug motor toe vir die laaste skof. Kort na die vulstasie het ons van die hoofweg afgedraai in die rigting van die plaas.

Toe ons deur die laaste klein dorpie ry, het my vriendin gesê ons is amper op die plaas en die opvangs daar is nie altyd watwonders nie. Dalk moet ek gou my kinders bel om nag te sê… Eers toe besef ek my selfoon – wat gewoonlik heeltyd biep en lui – is besonder stil. My selfoon! Waar is hy?

Sy het afgetrek en ons het oral gesoek. Op die sitplek, onder die sitplek. Langs alles, in alles. Nêrens. Dit was net nêrens nie. Sy het my nommer geskakel en … die foon was af. Dit is mos ’n teken daarvan dat die foon gesteel is. Simkaart uit, nuwe een in, verkoop op die swartmark of wat ook al daarna daarmee gebeur. Nee! Ek kon dit nie glo nie. Ons wegbreeknaweek was op die randjie van vieslik bederf word … Ek ken nie een enkele nommer uit my kop nie.

Terwyl ons nog staan en wonder, lui my vriendin se selfoon. Dit was ’n vreemde nommer en sy was nie juis lus om te antwoord nie.

“Hallo?” het sy met ’n frons gesê-vra. “Hoekom?” wou sy weet. Sy het ’n rukkie lank geluister voor ’n glimlag haar gesig verhelder. “Dis die beste nuus ooit! Baie, baie dankie. Ons staan nou juis hier langs die pad en soek daarna. Ons het gedink dis gesteel. Ja? Ag, natuurlik! Ja, sy’t dit seker daar neergesit toe sy betaal het. Hou net gou aan…” Sy het haar selfoon effens kant toe gehou en gegil: “Heidi! Sy’t jou foon gekry!” Toe het sy weer met die goeie fee gepraat terwyl ek soos ’n tiener die allervreeslike danspassies daar langs die pad uitvoer. En heeltyd JIPPPIEEEE! JIPPIEEEE!!! gil.

Pas nadat ek vir die koffie betaal het, het jy my selfoon op die toonbank sien lê. Ek het dit neergesit om te betaal en nooit weer gevat nie. Dit was so slim van jou om die laaste nommer wat ek gebel het neer te skryf voor jy dit by die bestuur gaan ingee het om toe te sluit. Gelukkig was dit my vriendin se nommer … En gelukkig was dit jy wat eerste my selfoon gesien het!

Twee dae later, op pad terug, het ons my selfoon gaan haal. Ek moet sê, dit was heerlik om vir ’n paar dae sonder hom te wees, maar dit was nog lekkerder om hom terug te kry. Ek hoop iemand doen eendag dieselfde vir jou!

Liefde
Heidi