Wanneer jy moet ophou bid en dóén

0
329
bid.jpg

Gebed is belangrik, maar moenie tyd en energie mors nie – soms moet jy minder praat en meer dóén.

Wat God wil hê jy moet doen

Wees bewus van Sy stem. Daardie vae gedagte in jou agterkop is nie sommer toevallig daar nie.

Jy is miskien ongelukkig by die werk en jy bid elke aand oor jou situasie, maar jy ignoreer die stemmetjie wat jou aanpor om eerder te bedank en ’n tuisblymamma te wees.

Dit is nie altyd maklik om te weet wat God vir jou probeer sê nie. Dis waarom dit ’n goeie idee is om jou gesprekke met Hom, en nie die inhoud daarvan nie, ’n prioriteit te maak.

Moenie net bid as jy ’n probleem het nie. Praat met Hom soos met ’n vriendin. Vertel van jou vreugdes en hartseer. Sê dankie vir iets wat vir jou mooi of lekker was. Maak tyd om net stil te sit en te luister en Hom beter te leer ken.

So kry jy ’n meer intieme verhouding met Hom en sal jou vertroue in Hom toeneem.

Hoekom jy uitstel om iets te doen

Wees eerlik oor hoekom jy kies om passief te bly. Die grootste rede is gewoonlik dat jy nie glo dat God se planne regtig die beste is vir jou nie.

Jy stel dalk uit omdat jy onseker is en weer daaroor wil dink, want jy kan mos maar môre nog “ja” sê. Maar God se tydsberekening is perfek. Hy sal jou nie vra om iets te doen as dit nie nou die regte tyd is nie.

As jy ’n groot besluit moet neem, weet jy miskien nie hoe om die saak aan te pak nie. Moenie bekommerd wees nie, neem net die eerste tree en die res sal volg.

Jou vrees oor wat die mense gaan sê, is soms groter as die Stem in jou binneste. Jy weet mos dis belangriker om God tevrede te stel as vir mense. Erken dit en Hy sal jou antwoord met ’n gevoel van vrede.

As jy passief is, benadeel dit iemand anders

Hou in gedagte dat jou passiwiteit nie net jouself nie, maar ook ander beïnvloed. Jy moes dalk vir iemand ’n klip uit die pad gerol het, maar omdat jy daaroor bly tob het, het jy dit nooit gedoen nie en die kans is vir altyd verby.

Ons moet almal liefde uitdeel. Probeer om volgende keer nie net te sê jy sal vir iemand bid nie. Kom uit jou gemaksone en doen ook iets om die persoon se lewe beter te maak. As jy nie reageer op iets waarvoor jy spesiaal geroep is nie, word dit dalk nooit gedoen nie!

Moenie eendag spyt wees oor die dinge waarby jy nooit uitgekom het nie. Jy sal jammer wees oor die kosbare tyd wat jy verspil het deur net te bid en niks te doen nie. Jou voorbeeld kan ander vroue inspireer om van hulle knieë af op te staan en ’n verskil te maak.

Verwerk uit Wasted Prayer deur Greg Darley.