Wanneer jy nie weet wat om te bid nie

Ek hoor onlangs die pragtige, maar ook hartseer, verhaal van ‘n jongman wat in die kerk gaan sit het en die alfabet begin opsê het.

Die pastoor kom nader en hoor dat die jongman net letters mompel, hy gaan sit toe langs hom en vra: ‘Hoe nou dat jy hier sit en net die alfabet opsê?’ Die jongman antwoord hom: ‘Vandag is my gemoed so swaar dat die Here maar self sinne uit my letters moet maak.’

Somtyds voel ons ook so, nie waar nie? Ons weet eenvoudig somtyds net nie wat om te bid nie, ons kry net nie die woorde om te verduidelik hoe ons voel nie. Maar weet jy, God weet presies wat jy vir Hom wil sê!

Matteus 6:7-8 kan ons ook troos:

“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra…”

Dit is okay om nie te weet wat om te sê of te vra nie. God ken jou hart en Hy weet lankal wat in jou gedagtes aangaan. Somtyds het ons nodig om net stil en by Hom te wees. Deur net ‘n paar minute in Sy teenwoordigheid te spandeer bring baie rustigheid en soos ek ervaar, bring dit ook antwoorde.

Mag jy vandag stil word by God. Haal diep asem en wees net by Hom. Hy ken jou hart en weet wat jy nodig het, nog voordat jy dit vra.

Seënwense,

Stephanie