Wanneer jy oor jou geloof twyfel

0
442
twyfel_in_geloof.jpg

Mense kry swaar… onbeantwoorde gebede … dinge wat jou oor geloof laat twyfel. Hoe kry jy weer hoop?

Dis nie dat jy ’n ateïs is nie. Jy het net so stil-stil opgehou bid. Jy maak nie meer tyd vir kerkdinge nie. Jy wonder hoe mense dit regkry om tevrede te wees met hulle geloof. Vir jou maak dit nie meer sin nie.

Jy wens ’n engel wil voor jou kom staan en sê: “Moenie bang wees nie. Moenie twyfel nie. Ek bring goeie nuus…” Die goeie nuus is dat jy nie alleen is nie. Daar ís maniere om jou gees te versterk. Jy kan nuwe moed skep uit die verhale van ander gelowiges wat presies weet hoe jy voel.

Tog weet jy diep in jou hart dat God volledig in beheer is van jou lewe. Dit is wonderlike nuus wanneer jy kyk na die chaos om jou. Maar as dinge in jou eie wêreld skeefloop, maak dit dan nog sin? Hoe moet ’n swanger vrou wie se man haar verlaat het, voel wanneer jy dít vir haar sê? Jou vriendin se seun gaan weer ’n keer rehab toe. Gaan dit haar troos om te weet Wie in beheer is?

Dis ’n normale reaksie om jouself of jou omstandighede vir swaarkry te blameer. Baie mense slinger ook verwyte na die Hemel. Die Een in beheer is mos ook verantwoordelik vir die dinge wat verkeerd loop. Dit maak jou woedend en lus om op te hou glo.

So kan jy jou geloof versterk wanneer jy swaarkry

As mens sien jy nou net een gedeelte van jou lewe. Probeer om aan jou lewe in totaliteit te dink. Die plan vir jou lewe hier op aarde sál goed afloop. Hierop kan jy vertrou, al kan jy dit nou nie sien nie. Jy sál vrede en vreugde ervaar. Jou huidige pyn en probleme is net ’n tydelike fase van twyfel en mismoedigheid.

Wees in hierdie fase eerlik oor alles wat jy voel. Jy hoef nie toneel te speel wanneer jy bid nie. God hoor jou pyn en woede en Hy verstaan dit. Hy veroordeel jou nie vir jou emosies nie. Dalk is dit juis goed dat jy desperaat na Hom roep. As alles in jou lewe maanskyn en rose was, sou jy dan nog geglo het?

Vertrou dat jy deel is van ’n proses wat op die ou end goed sal afloop. Die proses maak dalk nie nou vir jou sin nie, maar byt vas. Eendag sal jy ook kan terugkyk en sien dat dinge tog sin maak. Meer nog: dat die groot verhaal van jou lewe God se Naam groot maak.

Wat as die Bybel nie sin maak nie?

Wees eerlik: nie elke woord wat jy in jou stiltetyd lees, is maklik om te glo nie. Dink byvoorbeeld aan Hanna. Sy wou so graag ’n kind hê, maar 1 Samuel 1 vers 5 sê: “…die Here het haar kinderloos laat bly”.

Dis die eina verduideliking hoekom sy soveel pyn en vernedering ervaar. Dalk praat jy ook so: “Die Here het my man siek laat word” of: “Die Here het die deur vir my toegemaak”. Dis mos woorde wat seermaak! Dis mos genoeg rede om op te hou glo.

Hou moed, lees verder en lees meer in diepte. As jy aanhou lees in 1 Samuel 1, sal jy hierdie trooswoorde ontdek: “…die Here het aan haar gedink” (v.19). Dis in die middel van Hanna se verhaal, nog voor haar wonderwerk. Dis waar vir jou ook. In die middel van jou seer onthou Hy jou.

Hanna het uiteindelik ’n seuntjie gekry. Haar pyn is met vreugde vervang. Maar eers moes daar tyd verloop. Een Engelse vertaling van 1 Samuel 1 vers 20 verduidelik mooi hoe God werk: “…in due time”. Dink net, as jy jou Bybel toegeklap het na die seermaakwoorde, sou jy hierdie troos misgeloop het! Jy kan vertrou dat wat mettertyd met jou gaan gebeur, goed vir jou sal wees.

Is sommige dinge in die Woord vir jou moeilik om te glo? Lees dan die hele konteks. Lees ’n paar hoofstukke verder. Lees ’n paar hoofstukke terug. Probeer die hele verhaal, gedig of brief verstaan. Lees verskillende vertalings asook gidse deur teoloë wat jy vertrou. Bid oor sake wat jou pla, gesels met ander gelowiges daaroor. Jy sal verbaas wees oor hoe baie mense met die Woord worstel. Dis niks om oor skaam te wees nie. Dis van vrae vra dat jou geloof dieper en inniger sal word.

Dink só oor al die nee’s op jou versoeke

Mense hou baie van die gedagte dat God vir hulle seëninge en goeie dinge gee. Dis egter vir die meeste onaanvaarbaar dat Hy sal toelaat dat hulle moeilikheid gaan ondervind. Maar probleme en teenspoed is juis die dinge wat jou aan jou afhanklikheid herinner. Dit skud jou wakker om weer te besef waar jou hulp vandaan kom. Dit skerp jou op om weer gehoorsaam te leef. Dit spoor jou aan om gebed weer ’n prioriteit te maak.

Dan kan jy weer met ’n oop gemoed luister na verhale in die Bybel en mense se ervarings. Jy sal leer dat “nee” dikwels eintlik net “wag eers” beteken. Alles waarvoor jy vra, sal vir jou gegee word. As dit nie dadelik kom nie, is daar ’n rede voor.

Soms kom die seëninge waarvoor jy vra, in die vorm van verliese, frustrasies en teleurstellings. Dit voel hoegenaamd nie soos genade nie, eerder soos straf! Maar wag, dit is geskenke, gawes wat jou geestelik laat groei en gereedmaak vir groter, beter dinge. Soms is dit selfs nodig dat jou oë eers moet oopgaan om te sien watter seëning eintlik vir jou bedoel is.

Mense soos Hennie Stander, akademikus, prediker en skrywer, wat ’n lang pad met die Here gestap het, het almal dieselfde ervaring omtrent gebedsverhoring. Wat jy dink goed sal wees, verskil dikwels van wat regtig goed is vir jou en jou geloof. Dan sal jy dit ook nie ontvang nie.

Later sal jy anders voel oor die nee wat jou nou so teleurstel. Jy dink dalk nou God het gemaak dat jy nie ’n tweede kind kan kry nie, maar oor baie jare sal jy dalk getuig van jou wonderlike, suksesvolle loopbaan wat hieruit gebore is. Jy is dalk nou opstandig omdat jy nie die trouman gekry het vir wie jy gebid het nie. Maar wie weet, eendag sal jy bly wees hieroor. Dit maak miskien die deur oop vir ’n sprokiestroue net ’n bietjie later as wat jy beplan het.

Daar is redes waarom dinge met jou gebeur of nie gebeur nie. Dinge wat jou laat voel dat geloof sinneloos is, beteken juis dat seën om ’n ander hoek wag.

Geloof is oral. Soek daarna in die getuienisse van mense in boeke en TV-programme. Vertrou dat jou geloofstorie in wording is. Dis nie ’n eenmalige, opeens perfekte realiteit nie. Aanvaar dit as gegewe dat jy soms tye van twyfel sal moet deurwerk. Dis alles deel van ’n proses wat jy kan vertrou, want jy is nie alleen in beheer nie.

En as jy nou niks kan sien nie omdat jou oë te vol trane is… God sien jou en Hy gee om. Hy verwyt jou nooit vir die twyfel in jou gemoed nie. Sy genade is elke dag vir jou beskikbaar.

Vertaal en verwerk uit When God sees your tears deur Cindi McMenamin.