Wanneer jy sleggesê word

0
13
Guy-Scott.png

Guy Scott, die vise-president van Zambië, het ‘n paar neerhalende opmerkings oor President Zuma en die mense van Suid-Afrika gemaak. Hy het blykbaar onder andere gesê dat Zuma baie soos De Klerk is in sy optrede, en verder ook dat Suid-Afrikaners baie “backward” is. Clayson Monyela, die woordvoerder van Internasionale Betrekkinge, sê dat hulle die Hoë Kommissaris van Zambië gaan ontbied om hierdie uitsprake te verduidelik.

Dit gebeur dikwels dat ‘n mens sleggesê word. Gewoonlik kom die storie uit en dan bereik dit ook jou ore. Wat staan jou dan te doen? Baie redeneer dat ‘n mens inderdaad die persoon wat slegte stories oor jou verkondig het, moet gaan konfronteer. ‘n Mens kan seker nie ‘n reël gee van hoe ‘n mens sulke agteraf gepraat oor jouself moet hanteer nie. Die omstandighede waarin dit gebeur, verskil so dat daar waarskynlik nie net een regte antwoord is nie. My oortuiging was nog altyd om eerder jou kritiek dood te leef. Leef op so ‘n manier dat die ander mense nie die stories oor jou sal glo nie!

Die psalmdigter sê in Psalm 118:13-14 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp. Die Here is my krag en my beskerming.

Ons kan inderdaad, soos die psalmdigter ook sê, op die Here vertrou dat Hy die stryd namens ons sal stry. Dus: Moenie dat kritiek en slegte stories jou ontstel nie. Vertrou op die Here en verder leef jy jou kritiek dood!