Wanneer jy verkeerde keuses maak

560
verkeerde keuses

Soms doen ons simpel dinge. Agterna is ons spyt oor daardie besluit, maar dit is te laat om die horlosie terug te draai.

ngelukkig het hierdie dom dinge dikwels ernstige, dramatiese gevolge. Ons kan nie net altyd wegstap en dink: Ag, dis nou verby en vergete nie.

Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word (Prediker 12:13).

Die prediker het ook ’n paar dom goed gedoen. Hy was mos op soek na die wysheid in die lewe. Daarom het hy alles uitgetoets. En dan, heel aan die einde, kom hy tot die slotsom: “Dien God.”

Die woord in Hebreeus vir “dien” kan hier ook gebruik word vir “vrees”. Dit is nie ’n negatiewe vrees of bang wees nie. Dit beteken bloot dat jy besef: Die Een wat ek dien, is ongelooflik groot en heilig.

Die Woord gee ’n klomp riglyne oor hoe ons die lewe moet aanpak. Ons moet wysheid in die Bybel gaan soek en begin leef volgens daardie riglyne. Dan kan ons die dom foute uitskakel.

Baiekeer voel ’n mens jy kan nie bid nie. Dan kom jy agter dit is omdat daar skuldgevoelens iewers in jou is. Iewers het jy drooggemaak en jy kruip weg.

Toe sê die seun vir hom: “Pa, ek het teen Pa en teen God gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie” (Lukas 15:2).

Hierdie rowwe seun het al sy geld jonk-jonk gevat en geblaas, want hy wou L-E-W-E. Hy beland uiteindelik op ’n varkplaas, waar hy darem ’n werkie kry.

In die Joodse kultuur was ’n vark ’n onrein dier. Jy mag nie eens aan ’n vark gevat het nie, want dan was jy self ook onrein. Daarom, die varke in die verhaal beklemtoon juis hoe ver van die pad af hierdie seun werklik was.

Die seun skraap toe genoeg moed bymekaar en gaan terug huis toe. En wat het sy pa gedoen? Hom weggejaag. Nee, hy hardloop hom tegemoet en gee vir sy diensknegte opdrag om ’n kalf te slag sodat hulle kan feesvier. Die verlore kind is terug.

Hierdie storie maak die Vader se hart vir ons duidelik. Hy verwerp niemand nie, maar staan met oop arms en nooi: Kom na My toe. Maak nie saak wie jy is, hoe vuil jy is, hoeveel jy al aangejaag het nie.

Moenie wegkruip nie. Hy sal jou help om weer jou lewe reg te maak.

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1-2).

Soms sien ons ’n ander prentjie. Die mense wat hulle nie aan die Bybel steur nie, is die ouens met wie dit goed gaan en wat ver in die lewe kom.

Tog, dit maak nie heeltemal sin dat gelowiges nooit aan die kortste ent mag trek nie. Dink maar aan Dawid. Hy het Goliat verslaan en koning geword. Toe staan hy en kyk hoe ’n vrou bad, en hy doen ongelooflike sonde. Hy laat haar man vermoor deur hom in die voorste linie van die geveg in te stuur.

Paulus het ’n doring in die vlees gehad en God wou dit nie genees nie. Ons almal het maar partykeer dinge wat krap. Die verskil is dit: Kinders van die Here maak die wedloop van die lewe klaar. Ons is nie verloorders nie, omdat Jesus gewen het. En daarom is ons deel van ’n wenspan.

Moenie toelaat dat jou foute van die verlede jou verhoed om Sy liefde en genade te ervaar nie. Juis wanneer ons swak is, is Sy krag sterk in ons.