Wanneer kanker aan jou voordeur klop – Tiana van Blerk (deel 1)

Ek moet iets met die lesers deel, maar dit was nie ‘n eenvoudige taak of enigsins ‘n blog wat se woorde maklik was om saam te voeg nie.

Wanneer iemand na jou toe kom en iets kosbaar in jou hande plaas en jou vra om iets besonders daarmee te maak, is mens onmiddellik bang. Veral omdat dít wat aan jou persoonlik toevertrou is so delikaat is dat jy bang is jy breek dit. Jy, as nuwe eienaar van hierdie kosbare geskenk moet baie seker wees dat die manier waarop jy dit hanteer en dit behandel, gestalte gee aan hoe spesiaal dit is en dat dit korrek weergegee word.  Ek het so ‘n geskenk ontvang vanaf die ouers van klein Tia van Blerk, André en Cerina en ek gaan my bes doen om hul verhaal met jul te deel, op ‘n eerlike en opregte manier.  Sedert Fase 4 Neoblastoom kanker by tweejarige Tia gediagnoseer is, het God baie lewens aangeraak en sy is onder andere een van die hoofredes hoekom ek skryf en ook hoekom jy nou hier lees. Ek het van die begin af geweet dat ek haar verhaal moet deel, maar nie heeltemal gesien hoe die pad uitspeel nie.  Ek het egter geweet God se tyd en inspirasie sal die pad aanwys en Hy het weereens presies bewys dat Sy tydsberaming perfek is.

Ek ontvang ‘n baie moeilike oproep:

Ek is in my kantoor, vroeg Januarie 2019 op ‘n tipiese warm Upington somersmiddag wanneer ek ‘n oproep vanaf klein Tia se mamma kry en net daar kry ek die antwoord op my vraag. André en Cerina wil hul storie deel, hulle het ‘n behoefte om hul stryd met kanker en die impak wat dit op ‘n mens maak te dokumenteer en met ander mense te deel. Nou hoekom op aarde sal jy vra wil mense so iets persoonlik wou deel? Wel my liewe leser, dit is nodig vir wanneer kanker die dag aan jou voordeur klop, wanneer iets oor jou pad kom wat jy nie sien kom het nie en ook nie vir jou grootste vyand toegewens het nie en wanneer jy graag wil hê iemand moet vir jou in gebed help dra. Vir my is dit nodig om hul verhaal te deel, want saam in gebed en ondersteuning is ons sterker as wat ons alleen staan teen die aanslae van die lewe. Mattheus 18: 19-20 sê nie verniet dat waar twee op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, die Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in Sy Naam saam is, daar is Hy by hulle nie. Ons is in ‘n gebroke wêreld en ons het mekaar nodig om die lewe daagliks te kan hanteer, in die goeie en die slegte tye.

‘n Dagboek van die afgelope 3 maande:

Cerina het ‘n intieme dagboek gehou van hul ervaring, hul dae en die effek wat die diagnose van kanker op mense het. Hierdie blog is Deel 1 en is reeds aan my toevertrou om te herskep tot iets wat in ‘n blog-vorm werkbaar is. Ek het meeste van Cerina se woorde net so gehou en net in meer konteks geplaas soos die gebeure ontvou het en ek vra dat jy as leser dit in daardie lig sal sien en hanteer.

Die volgende gedeeltes is haar direkte woorde in ‘n verkorte vorm:

Die eerste klop aan die deur, September tot Oktober 2018 – die onaardige gevoel van dat iets fout is met my kind:

Ek en Tia lê by ouma Laurentia in haar kamer op die bed en ek merk dat Tia se linkerogie vreemd lyk. Ek wys vir ouma Laurentia en sy sê dat dit sal regkom (Tia het twee weke vantevore met haar linkerogie teen die kot se poot in ons kamer geval). Ek word gepak deur ‘n vreemde gevoel en instink van kommer wat net ‘n ouer kan verwoord. Iets voel nie pluis nie en ek besluit om dit dop te hou. Einde September doen ons ‘n “road trip” Namibië toe en ons kuier oral by familie en vriende. Kleine Tia (toe nog nie twee nie) tree snaaks op, sy is moeilik om die minste te sê. Sy slaap sleg en is die hele tyd huilerig en met absoluut niks tevrede nie. Mamma weet nie waar om haar kop in te steek nie en ons almal skryf dit toe aan “tande sny”. Tyd verloop en dit gaan bietjie beter, maar Tiatjie slaap sleg en mamma voel elke oggend of sy almal wat die vorige aand goed gepartytjie het se nagevolge vir hulle dra. Einde Oktober besoek ons ‘n Optometris en hy ondersoek die ogie en verwoord dat die een oog bo-oor die ander oog kyk en dat dit voorkom of sy skeel is.  Hy stel voor dat ons ‘n afspraak maak met die Oftalmoloog wat binne twee weke Upington besoek, om uitklaring hieroor te kry.  Ons maak die afspraak en dit is op Tia se tweede verjaardagdatum, 14 November 2018.

Die klop aan die deur raak harder, November 2018 – Angs en bekommernis

Dit is die 1ste November 2018.  Ek, Tiatjie en ouma Laurentia gaan De Kelders toe en ons eerste aand oornag ons in die Paarl by ‘n gastehuis. Tia slaap hierdie nag baie sleg en sy is sommer net moeilik om die absolute minste te sê, maar ons skryf dit toe aan die lang pad wat ons gery het. In De Kelders bly ons by oom Niel Stemmet se pragtige De Kelders Private Villa saam met Fara (katkonining van die huis). Tia geniet haar terdeë, maar is steeds huilerig en slaap steeds baie sleg, sy wil skielik ook nie meer bad nie en dit was altyd haar gunsteling tyd.  As sy huil en ek vra waar is die eina: dan sê sy “my wang is seer”. Ons gee dus stroop, want sy sny mos tande en ons regverdig en stel onsself gerus, alhoewel my ongemak met die situasie net nie wil wyk nie .

Hoor nét ek die geklop aan die deur? Is ek besig om mal te word? Wanneer alles in jou skree daar is fout, Dinsdag 6 November 2018:

Ons gaan Hermanus toe vir die dag en ek sê se vir ouma ek wil bel en hoor of daar nie ‘n Oftalmoloog is wat ons kan sien nie. Ek is ongemaklik met die ogie wat erger raak en ek weet nie of ons nog ‘n week moet wag vir ons afspraak in Upington nie. Deur die genade kry ons wel ‘n afspraak en die Dokter se tydelike diagnose is dat hy vermoed dit is ‘n ooginfeksie, maar dat hy nie ‘n Pediatriese Oftalmoloog is nie.  Hy verwys ons dus na die Spesialis wat ons in Upington die volgende week gaan sien. My eie sintuie en ongemak raak onverklaarbaar hoog en alles in my skree van bekommernis en angs. Ons gaan kry die voorskrif salf, maar ek weet in my binneste dat iets erger fout is. Wanneer ‘n ouer op so ‘n punt kom dat jy absoluut weet jou sintuie vertel vir jou iets meer is verkeerd, moet jy daarop reageer en antwoorde soek tot jy dit kry.

Die antwoorde bly ontwyk ons – Dinsdag 13 November 2018:

Ons is terug in Upington en ek noem aan André dat ons haar na ons huisdokter toe moet neem net om seker te maak dit is wel haar tande wat pla.  Teen die tyd wil sy omtrent glad nie meer eet nie, net mammamelk drink en haar persoonlikheid het stelselmatig ook meer verander. Sy het amper daagliks ‘n koors van 38 en die nagte raak al langer …badtyd is ‘n absolute nagmerrie. Ons huisdokter ondersoek haar en bevestig dat sy wel tande sny. Hy beveel aan dat ek 2 x per dag vir haar pyn- en koorsstroop gee om haar lyding ter verminder en die koors onder bedwang te hou.

‘n Hartseer tweede verjaarsdag – Woensdag 14 November 2018:

Tia word twee, maar die dag is alles behalwe ‘n viering en glad nie ‘n lekker verjaarsdag nie. Ons afspraak by die Oftalmoloog is ‘n effense nagmerrie en Tia skree dat die dak van die spreekkamers wil lig. Die Oftalmoloog vermoed ‘n ooglidinfeksie en skryf vir ons druppels voor. Teen hierdie tyd het ek en André net eenvoudig glad nie meer enige iemand geglo nie en het ons ongemak die hoogte in geskiet.  Ons familie kry daardie dag skitterende nuus met Johan en Soné se swangerskap en ons huil sommer almal saam weens opgewondenheid en dankbaarheid.

Die klop aan die deur raak ‘n gehamer – Donderdag 15 November 2018:

Ons nagmerrie begin in alle erns en om presies 20:15 merk André op dat Tia se regterbuik geswel is. Dit is skielik duidelik soos daglig dat haar buik heelwat geswel is en ek stuur foto’s aan ons huisdokter en ‘n tannie van my in Namibië. My tannie reageer eerste en stel voor dat ons haar ongevalle toe neem, sy is bang dit kan dalk klierkoors wees. Ons huisdokter reageer sekondes later en stel ook voor dat ons haar ongevalle toe moet bring. Hy ondersoek haar en kan nie iets spesifieks fout kry, behalwe dat sy vir hom baie bleek is nie. Hy vra wat pla my en my antwoord is natuurlik die ogie en die feit dat sy nie eet nie, sleg slaap, nie wil bad nie en amper konstant huil. Hy vra ons moet die volgende oggend om 09:00 terug wees vir bloedtoetse en ons besluit om haar tweede verjaarsdagpartytjie, wat die Saterdag sou plaasvind, te kanselleer. Mamma het spesiaal vir haar ‘n Baby Shark tema koek gebak en ons sou ‘n klompie vriende en familie onthaal het vir die spesiale dag.

Meld aan vir jou nuwe lewe – Vrydag 16 November 2018:

Sonder om te weet, het ons daardie dag aangemeld vir ‘n pad wat ons nie kon voorsien of beplan nie, maar ons het opgedaag. Terwyl die bloed getrek word merk die Patoloog op dat haar bloed anemies is. Ek en André snak na ons asems en ons weet dat dit die eerste teken is dat daar fout is.  Hul doen ‘n gewone x-straal van haar skedel om te kyk of sy nie inwendig seergekry het met die val teen die kot se poot nie.  Ons word ingelig dat mamma en Tia oornagklere moet pak, hoe sou ek weet op daardie tydstip wat vir ons voorlê? Ek dink dit is goed dat ons mense nie vooruit kan sien nie, want die pad wat hiervanaf aangebreek het, kan ons nie weer stap nie en dis net God se genade wat ons elke dag gedra het tot waar ons vandag is.  Dr Mark Atkins, een van ons dorp se Pediaters, deel ons daarna mee dat Tia onmiddellik ‘n bloedoortapping moet ontvang en sy word in die hoë-sorgeenheid oorgeplaas. Dinge verander vinnig en beide ek en André is in skok en alles in ons begin skree: Nee, nie my kind nie!

Hy ondersoek haar en sê dat hy hoop dit is klierkoors en nie iets meer aggressief nie.  Ek weet natuurlik dadelik waarna hy verwys met laasgenoemde maar ek weier om in daardie rigting te dink. Die dag begin in fases, ons beweeg in ‘n dwaal en om 15:45 is dit ‘n CT skandering (mamma moet saamgaan tot die stropie, wat haar onder ‘n ligte sedering sal plaas, sy ding doen). Die emosies begin my oorneem en in die wagkamer neem die druk, die angs, die vrae oor en die trane begin net stroom oor my wange.  Teen hierdie tyd weet ek en André iets is ernstig fout met ons kind en ons instink was reg tot hier gewees. Aan die een kant is ‘n mens verlig vir die hulp en dat dinge vorder, maar aan die anderkant pak ‘n angs en bekommernis jou wat jy vir niemand op aarde kan beskryf nie.

Ons maak die deur oop en dis KANKER:

Ons sit by Tia en Dr Atkins kom na ons met ‘n erns en ‘n doelgerigtheid wat spreek van slegte nuus en moeilikheid. Die woorde uit sy mond val hard en duidelik en daar is geen manier om dit anders te stel nie: Tia het ‘n massa agter haar linkeroog, by haar linkerbuik en op verskeie plekke op haar rugmurg. Ons tweejarige kind het KANKER.

Die hele wêreld stort in duie met daardie woorde en ek val teen die bed neer en huil hartverskeurend. André en die twee oumas ruk langs my en saam probeer ons sin maak van wat sopas verwoord is. Tyd en emosies raak hier deurmekaar en ek deel met André: “Skapie, Tia gaan gesond word, die HERE gaan haar gesond  maak”.

Eerste Bloedoortapping:

Tiana is O-negatief, die bloed kom uit Kimberley die aand teen 23:30 by die hospitaal aan en die eerste bloedoortapping begin. Ons arme, arme kind, sy is twee jaar oud en moet sien hoe hierdie rooi bloed in haar lyfie ingaan. Sy weet nie eens hoe lyk bloed nie, om die waarheid te sê weet sy nie eens wat dit is nie.

Diagnose en die onwerklikheid daarvan, 17 November 2018:

Dr Atkins kom deel ons mee dat hul ‘n sterk vermoede het dat Tia Neuroblastoom het. Die gewas uit haar bynier is tans 8 x 9cm groot en ons is totaal verstom, nee verpletter is die beter woord. Hoeveel pyn het hierdie kleine lyfie nie die afgelope paar maande verduur nie? Ek voel soos ‘n absolute mislukking van ‘n ma, hoe het ek dit nie vroeër gesien nie? Wat het dit veroorsaak, is dit dalk my melk? Wat het ek verkeerd gedoen dat my kind kanker het? “Jul kan huistoe gaan om jul goed te gaan regkry. Jul moet Maandagoggend 10:00 by Dr. Anabel Andrade, ‘n Pediatriese Onkoloog, wees by Rondebosch Mediese sentrum.”

Vlug Kaapstad toe, Sondag 18 November 2018:

Ons word wakker met ‘n dogtertjie wat baie vinnig asemhaal, baie moeilik loop en ogies wat lyk of hul wil uitpeul. Ons kontak vir Dr. Mark Atkins en vra of ons haar asseblief kan inbring ongevalle toe, ons wil net seker maak alles is nog reg. Daar gekom het hul ‘n vingerprik gedoen, haar bloedtelling is reg. Al wat moet gebeur is pappa en mamma moet net kalm raak. Tia se maatjie, Nina en haar niggie en nefies kom oor sodat Tiana haar verjaardag koek se kersies kan blaas. Ons moet oor en oor ‘Happy birthday to you’ sing sodat sy die kersies elke keer kan doodblaas, sy is so trots op haarself elke keer. Thys salf haar en ons bid almal saam dat ons ‘baby shark’ volkome sal genees.

16:45: Ons is by die lughawe. Gert, Pamela, klein Francois en die oumas is daar om ons af te sien. Dis ‘n moeilike totsiens-sê en die emosies is te veel om te hanteer. Elke liewe een van ons wens dit was nie waar nie en dat hierdie net ‘n droom is!

17:45: Ons styg op na Kaapstad. Gedurende die vlug sit Tia met haar pienk Unicorn wat oom Han en tannie Ne vir haar gegee het (haar peetouers). Ek kyk na haar en skielik wens ek die vliegtuig kan sommer net val, dan is ons almal se pyn en lyding verby. Ek besef wat ek sopas gedink het: hoe kan jy so selfsugtig wees, ons is nie die enigste op die vliegtuig nie en dit is vir seker nie God se plan of wil nie.

‘n Nuwe lewe, Maandag 19 November 2018:

Ons ontmoet Dr. Anabel Andrade en my eerste indruk is: Jy lyk jonger as ek, hoe bevoeg is jy om my kind gesond te maak? Maar teen die tyd het meer as een persoon nou al vir my bevestig dat ons in die beste hande is. So bly jy nou maar eers kalm mamma, die vrou weet wat sy doen. As ons enigsins gedink het ons gaan goeie nuus kry was ons verkeerd. Haar vermoede is ook dat Tia Neuroblastoom het. Sy sê dat dit ‘n moeilike kanker is en dat ons hom met alles wat ons het gaan moet beveg. Ons kan ons wel voorberei dat ons nog vir ‘n hele paar maande in die Kaap gaan moet bly. Sy stel ons gerus dat daar altyd hoop is en sy werk saam met ‘n span Dokters en Professors vir die beste resultate. Ons besluit oppad huis toe om vir Tia na die akwarium te vat, daar kan sy al die ‘sharkies’ sien. Sy geniet dit vreeslik en sing voor die groot haai tenk vir “baby shark” tot ‘n klomp besoekers se vermaak.  Ek wonder hoe is dit moontlik dat ‘n lyfie wat so vol kanker is nog kan sing en dans? Dit maak my as grootmens skaam, want as dit ek was het ek al op ‘n hopie gelê en myself jammer gekry. Ons stop by ‘n babawinkel vir ‘n paar benodigdhede en in die winkel gaan sit Tia op die vloer, sy kan nie meer loop nie! My hart breek in stukke.

Rooikruis Kinderhospitaal, Dinsdag 20 November 2018:

Ons besoek die Rooikruis kinderhospitaal vir die skanderings (hul het ‘n fantastiese kerneenheid). Die personeel werk so mooi met haar, die Radioloog vryf haar kop terwyl ons haar moet vasdruk, sy mag nie beweeg nie. Ek en André kry swaar. Sy word vasgetrek op die bed met net haar koppie wat uitsteek, sy skreeu en vra: “Help my pappa, help my mamma” en ons staan net daar, magteloos. Terwyl die laaste skandering plaasvind verbeel ek my ek sien allerhande dinge op die skerm, die Dokter (dink dit is De Bruin) kom staan by my en ek vra haar: “Kyk ek reg”. Dit lyk of daar oral op haar lyf helder kolle opkom. Sy antwoord my: “Nee, jy kan nie regtig uitmaak, net ek kan op die skerm binne sien wat werklik daar is”. Maar ai die mamma se moederinstink en ek kan nie help om te vra nie: “Wat as die kanker in haar bene is?” waarop sy antwoord dat dit dan baie, baie sleg is…

Die toetse is klaar en ek vra haar of sy asseblief vir ons iets kan sê want ons senuwees gaan dit nie hou nie. Sy weier, ons moet wag vir Dr Andrade om ons te bel. Die minute sleep verby. Uiteindelik laat Dr Andrade weet ons moet haar kom sien. Sy deel ons mee dat die kanker ekstensief deur Tia se liggaampie versprei het. Dit is omtrent 80% in haar skelet asook beenmurg versprei. Ek hoor wat sy sê en ek wonder of ons nog enigsins meer slegte nuus kan kry. Hoeveel kan jy verdra? Wanneer gee jy in? Oppad huis toe raak Tia aan die slaap, totaal en al uitgemergel. Ek is lam, ek kan fisies nie staan nie en moet op die mat gaan lê. Hoe gaan ek hierdeur kom? André kom lê langs my: “Toemaar Skapie, ons sal hierdeur kom, Tia gaan ‘fine’ wees”.

Finaliteit en diagnose, Woensdag 21 November 2018:

Ons word opgeneem by die Vincent Pallotti hospitaal vir die insit van die poort asook ‘n biopsie  om vas te stel presies watter tipe kanker ons mee te doen het. Ons kan nie wag dat al die prosedures klaarkom sodat daar met chemo kan begin word nie. Ons sien daagliks hoe groei die gewas in haar buik en hoe gaan sy agteruit.

Prof Millar wat die operasie gaan doen en die Narkotiseur, Dr Hanlie van Dyk, kom besoek ons. Prof Millar vra of ek die skandering van die groot gewas gesien het? Hy deel die foto met my. Ek is geskok, ek kan nie glo wat ek sien nie. Om dit in vergelyking te bring- dit is hoe ek sou lyk met die grootste waatlemoen wat jy aan kan dink in my buik. Dit is só groot haar nier is heeltemal uit sy vorm platgedruk asook haar ribbebene. Ai, hoe seer moet sy nie wees nie??? Ek het so baie vrae. Hoekom gebeur dit? Is daar hoop vir haar? Hy antwoord my: “Daar is geen mediese verklaring vir hoekom dit gebeur nie, dit is niks wat jy of jou man verkeerd gedoen het nie- en ja, daar is altyd hoop”. Ek is onmiddellik beïndruk met die omie met die sagte stem en reguit antwoorde. Ek weet ons kind is in goeie hande. Ek word toegelaat om saam met haar in die teater in te gaan totdat die narkose sy ding gedoen het. Dr Van Dyk belowe my dat Tia in goeie hande is, hul sal mooi na haar kyk, ek verlaat steeds die teater met ‘n swaar gemoed. Hoe moet ek die volgende paar ure omkry?

Intussen arriveer ouma Laurentia en oom Johan (Tia se peetpa). Ons sit voor die teater se deure en wag, Johan met die pienk unicorn om sy nek. Ons maak grappies om van die spanning ontslae te raak. Ek kry ‘n sms van Dr Van Dyk: “Ons is klaar met beenmurg en biopsie. Ons begin nou met die ‘port’. Alles verloop goed.” Ek antwoord: “Julle is ‘awesome’, 1000 dankies!” Ons wag voor die deur en 41 minute later kry ek weer ‘n sms: “Gaan goed hier. Die vriessnit het tyd bygevoeg, die dat ons bietjie langer neem. En die port is baie fyn werk.” Prof Millar werk baie mooi versigtig. Ek is verstom.  Nooit gedink dat mens ooit ‘n sms uit ‘n teater van ‘n Dokter sal kry om jou te laat weet van die vordering nie.  Hierdie mense is naby aan ‘n engel! Uiteindelik kom my bokkie uit die teater en hul sê mamma moet sommer by haar op die bed klim. Sy word in die hoësorg-eenheid geplaas en moet weer ‘n bloedoortapping deur die nag kry.

Chemo rondte nommer 1 – Donderdag 22 November 2018:

Ons word ontslaan by die Vincent Pallotti hospitaal. Ons het gevra dat hul die drup in haar handjie hou, ons kan net nie sien dat sy weer daardeur moet gaan nie. Teen die tyd het sy al ‘n drup op beide haar hande, in beide binne-arms en haar voete gehad.

Ons boek in by die kankersorg eenheid van die Rondebosch mediese sentrum. Dr Andrade bevestig dat dit Neuroblastoom is en dat ons dadelik kan begin met die chemo. Tia lyk nie goed nie. Haar magie lyk 3 keer sy normale grootte en haar ogies is so opgeswel dit lyk of dit wil uitspring. Ons weet nie wat om te verwag met die chemo nie. Die suster deel ons mee dat sy die drup wil nagaan want indien die chemo met Tia se vel in aanraking kom kan dit derdegraadse brandwonde veroorsaak. Uhm ok…en julle pomp dit nou in haar liggaam in? Maar ons probeer kalm bly want iets moet nou vir haar verligting bring. Johan sê:  “Ek het nooit gedink dat ek in my lewe sal opgewonde raak vir chemo nie”. Ja ek ook nie!

Die chemo begin inloop. Sover geen negatiewe reaksies nie! Tussendeur kom daar verskeie ouers in met kaalkop kinders vir chemo…en ek wonder of Tia ook so gaan lyk? Almal bemoedig ons: “Dit raak beter, julle sal sien, dit is moeilik om dit nou te sien maar dit kom.” Ons word oorgeskuif na die Pediatriese afdeling van die hospitaal. Ons kry weer ons eie kamer met ‘n verpleegster wat net na Tia omsien. Ons nag verloop goed, geen newe-effekte, ons is dankbaar…

Hiermee eindig ek eers ons eerste gedeelte en sal later die volgende komponent deel soos wat dit vorder.  Terwyl ek skryf is Tia opgeneem vir ‘n MR-skandering en biopsie die week en ons hoop op die wonderwerk wat ons almal glo hierdeur sal kom.

Vorige artikelKRUMMELS
Volgende artikelOm te skribbel of nie?
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.