Wanneer my persoonlikheid wil oorneem

Somtyds wonder ek of ek my beroep gekies het, of het my beroep my gekies.

Ek het altyd gevoel ek wil ‘n joernalis of omroeper word, ek het ‘n talent vir skryf en kan soms lekker baie praat en dit is mos al wat dit verg? Min het ek geweet dat juis daardie beroepe (en ook Kommunikasie, waarin ek tans is) is ‘n baie op-die-nippertjie beroep, dinge kan in ‘n oogwink verander en dan moet jy vinnig inspring en plan maak om ‘n oplossing te vind.

Alhoewel ek op kort kennisgewing vinnig kan optree, oplossings vind en dinge laat gebeur, hou ek nie noodwendig daarvan nie. Ek hou daarvan om genoeg tyd te hê en mooi te beplan, sommer so paar dae net eers met die idee in my kop rondloop totdat dit goed lyf kry voordat ek dit begin uitvoer.

Maar o wee, in enige media- of kommunikasieberoep werk dit eenvoudig nie so nie.

Dit is daarom dat ek wonder of my beroep my nie dalk gekies het nie, eerder as ek wat my beroep gekies het.

Die Here het goed geweet waartoe ek in staat is, en het my al van my kleintyd af voorberei vir my beroep. Wanneer my persoonlikheid wil oorneem en ek oorweldig voel deur dinge wat op kort kennisgewing moet gebeur, raak ek eenvoudig stil by Hom en vra dat Hy vir my rustigheid, ‘n oop kop en insig sal gee om die situasie te hanteer. Nog nie eenkeer het ek teleurgesteld weggestap nie, nog elke keer het Hy my deurgedra.

Die Here ken ons baie beter as wat ons onsself ooit sal ken, laat Hom toe om jou te plaas waar Hy jou kan gebruik en deur jou ‘n groot verskil sal maak.

Seënwense,

Stephanie