Wanneer ’n seekoei in jou bed slaap

0
176
emma_die_seekoei.jpg

eMMa is ’n baba van 40 kg! Sy is ’n seekoei wat doodgelukkig by haar aanneemma, Petronel Nieuwoudt, bly.

In die hoek van die erf staan ’n vaal figuurtjie. Meegevoer deur waarna sy ook al staar. Skielik besef sy sy is alleen en draai vinnig om. Aaaa. Daar sien sy haar ma. ’n Blink, pofferlyfie draf op stomp bene huis toe. So tussendeur maak sy ’n snorkgeluid totdat sy weer die liefdevolle hande tussen haar oortjies voel krap.

Desember verlede jaar het Petronel ’n oproep gekry. Sien sy kans om ’n klein seekoei groot te maak? Natuurlik sien sy kans! Iemand wat renosters, kameelperde, leeus en sommer enige ander dier wat hulp nodig het, grootmaak, skrik nie vir ’n seekoei nie. “’n Baba is ’n baba,” verduidelik Petronel. “Of dit nou ’n katjie, seekoei of renoster is.” Maar moenie vir een oomblik dink dat Petronel een of ander vreemde vrou is met ’n klomp diere nie. Sy is hoogs opgelei en het baie jare se ervaring. In die wildbedryf is sy ’n bekende naam – om al die regte redes.

Petronel se loopbaan het begin by die Bedreigdespesieseenheid van die SAPD. Sy was reeds ’n kaptein toe sy vyftien jaar gelede die polisiediens verlaat het om ’n wildvangskool te begin. Dit was die eerste omvattende skool in Suid-Afrika wat kursusse oor alle tipes wildvang en -sorg aangebied het. Tien jaar later het sy CARE for WILD Africa in die prentjiemooi Laeveld gestig. En dis hier waar weesdiertjies hulle nuwe lewe begin. Petronel spesialiseer in die sorg van wees of beseerde renosters. Dis juis daarom dat sy die perfekte pleegma vir eMMa sou wees! Sy is gewoond aan groooot babas.

Niemand is presies seker hoe eMMa in die waterput beland het of hoe lank sy daar was nie. Enigiets tussen een en drie dae. Sy is op ’n rooster van ’n meter by ’n meter gevind, omring deur baie diep water. As sy sou afval, sou sy beslis verdrink. Maar sy het nie. eMMa is gered en het sommer baie gou baie tuis in haar nuwe huis geword. So asof sy gedink het: Oe, lekker. Hier bly ek nou. Sy was geensins getraumatiseer deur wat met haar gebeur het nie.

Sy het aanvanklik in Petronel se huis gebly. Binne-in. Toe sy nog baie klein was, het sy sommer langs Petronel op ’n matras geslaap. “Soms het sy in die nag wakker geword as haar kombersie afgeval het. Maar sy wou nie net toegemaak word nie, sy wou hê ek moes ’n bietjie by haar lê,” lag Petronel. “Sy het dan gewoonlik die grootste deel van die kussing gesteel en haar styf teen my ingewurm. eMMa hou van lepellê. eMMa is ’n besonderse diertjie. Ek dink die Liewe Vader het gesien dat ons elke dag met soveel seer en vernielde diere werk, en dat Hy vir ons ’n bietjie troos wou stuur. Toe blaas Hy vir eMMa op (sy lyk regtig vir my asof sy opgeblaas is!) en stuur haar vir ons.”

Deesdae het eMMa haar eie kamer wat Petronel spesiaal vir haar laat bou het. Dis groot genoeg en spesiaal ingerig vir, wel… ’n seekoei!

Petronel lei ’n besondere lewe. Sy lewe haar passie. Geen dag is dieselfde nie, want elke dag is ’n belewenis. “Vanoggend het ek byvoorbeeld wakker geword en gou die duiker gaan voer voordat eMMa haar melk gekry het. Toe ek kort daarna die seuns gaan wakker maak het, was die nuwe blouapie baie vies en het heen en weer tussen die kinders gespring. Later toe ek gaan koffie maak, bel iemand wat laat weet nog ’n renostermamma is geskiet en ons moet die wees renostertjie gaan haal… So, die dag het presies begin soos enige normale dag in my lewe!” vertel Petronel. “Elke oggend wanneer ek broodjies maak vir skool, loop my beker oor van goedheid en guns.”

[pagebreak] Liewe eMMa se dae is net so uniek soos Petronel sʼn. Sy kry elke oggend halfses haar eerste bottel melk waarna hulle dam toe stap sodat sy kan gaan piepie. “Daarna bly sy gewoonlik in die water. Sy is baie lief vir haar dam en lê graag tussen die riete dat jy net haar neusie en oortjies kan sien. Laatmiddag kom sy self huis toe om geselskap te soek. Slaaptyd is gewoonlik so teen seweuur, wanneer ek haar na haar kamer toe vat. Sy drink nie meer in die nag nie (dankie tog!) maar kry bedags elke vier uur kos. Daar is ook kos in haar kamer as sy in die nag honger word. Siestog, sy probeer wei, maar haar tandjies is nog te kort…”

eMMa se beste maatjie is Goofy, die Weimaraner-hond. Die twee gaan swem gereeld saam. Dan moet jy liefs wegbly, of nat word, want die swemsessies gee ’n groot gespat af. Die water spat in alle rigtings soos die twee agter paddas aan spring, duik en plons. Agterna, wanneer elkeen se energie effens uitgeput is, lê hulle langs mekaar in die son en bak om droog te word. Wat ’n lewe!

Petronel is duidelik versot op eMMa. “Ek leer so baie by haar. Die geskenk van geluk behoort aan dié wat dit oopmaak. En eMMa maak elke dag haar geskenk oop. Sy is wat sy is en sy doen wat seekoeie doen – en sy is gelukkig daarmee. Sy gee nie om hoe sy lyk nie en hou van almal. Enigiemand wat in die omtrek is, word gegroet en sy laat almal welkom voel. Dis so lekker om te sien hoe eMMa oral rondloop en deelneem aan al die aksie op die plaas.

“Ek het ook nooit geweet seekoeie is so slim nie. Dalk is dit net eMMa, maar haar intelligensie verstom my. Sy reageer op haar naam en weet goed wanneer sy stout is! Sy mag byvoorbeeld nie meer in die huis kom nie, maar sy wil tog so graag. So, as sy die kans kry, glip sy in en voel baie skuldig as sy betrap word. Dan draf sy vinnig uit en probeer op pad buitentoe gou ’n lemoen gryp.

Maar eMMa gaan nie altyd ’n baba bly nie. Gelukkig het Petronel reeds ’n kamp om ’n dam op die plaas laat span waar eMMa kan gaan bly – en later ander seekoeie ook. Petronel waarsku egter dat nie enigeen sommer ’n wilde dier moet probeer grootmaak nie. Jy het jare se ondervinding en kennis nodig om dit reg te doen. Voeding is baie belangrik en jy moet ook goeie kennis van die dier se natuurlike gedrag en omgewing hê. Wilde diere is nie troeteldiere nie en beslis ook nie huisdiere nie. “Toe eMMa baie klein was, het sy ’n ma nodig gehad. Soos enige klein diertjie of ’n kind. Daarom was ek toe vir haar ’n ma. Sy moes gevoer en versorg word, sy was te klein om hierdie dinge vir haarself te doen. Maar nes ’n mensbaba, word diere groot. Ek probeer hulle só help dat hulle die dier kan word as wie hulle gebore is. En in ’n natuurlike omgewing kan oorleef wat eie aan hulle natuur is – en dit is nie ’n huis nie!

“Ons moet holisties dink. Die volle sirkel van die lewe is belangrik. Daarom is dit nodig dat ’n dier teruggaan natuur toe om sy rol daar te kan speel.”