Wanneer ‘n seën aan jou ruit klop

seën

Dit is tyd vir die laaste inkopies voor Kersfees en die winkels is dol besig. Ek loop vinnig deur die rakke om alles in my trollie te pak wat nog nodig is.

Die rye staan bankvas en die mense wag hul beurt af langs die kassiertoonbank tot tussen die kosrakke. Almal skarrel hul laaste rondtes voor Kersfees. Seker maar soos ek ook, om vir oulaas die eetgoed reg te he vir Oukersaand.

My inkopielys is nie lank nie, maar die trollies voor my lyk soos maandelikse kruideniersware opgestapel. Ek sien hoe stap daar ‘n getroude paartjie verby. Die man se gesig is bloedrooi en jy kan sommer op sy hele ligaamshouding sien, hier kom moeilikheid. Hy moet seker betaal en hy is nie lus vir die lang rye en gewag nie.

Sy vrou is lank en slank en sy stoot die trollie soos iemand wat agter die wiele aan dans. Daar is niks op aarde wat die man meer irriteer as haar parmantige loop nie, en dit met die tyd van die wereld pak sy net nog ekstra goed in haar trollie.

Hy brom iets na haar kant toe, maar sy maak asof hy nie bestaan nie. Hul verdwyn om die draai en my ry beweeg voorentoe. Ek is dankbaar vir die seen van vrede, ek soek niks anders nie. 

Ek herken ‘n bekende vrou wat voor my staan en ons gesels so lekker dat die tyd gouer verbygaan. Sy betaal haar inkopies en anderkant die toonbank wag daar reeds’ n lang, sterk geboude man.

Ek wonder eers wat maak hy daar, tot sy omdraai na my en in Engels hom voorstel: “This is George, he is the angel that always helps me carry my bags, when he sees me he always run to help me”. George blom behoorlik en ek kan sien sy oe word sag en hy voel trots. Ons vriendinne groet mekaar en daar stap Rene en George die deur uit na Kersfees.

Ek betaal my goed in ‘n japtrap en soos ek die trollie uit die gebou uitstoot in die parkeerarea stap daar ook’ n man na my kant toe. Hy lyk al oud, sy gesig is maer en sy plooie sit soos ‘n bree glimlag op sy wange vas. Al laat sak hy sy glimlag, sit die diep plooie steeds op sy wange agter. Sy voortande is uit en sy oe straal van vriendelikheid. Dit was opmerksaam die mooi manier wat hy vra om my te help.

Soms kry mens sulke arrogante helpers wat jou laat voel jy moet betaal, maar nie die man nie. Hy was nederig. Ek stap met my trollie oor die pad na my kar en hy wil oorvat om my te help. Ek se ook vriendelik vir hom: “Nee dankie, dit is min goedjies”. Hy stap agter my aan en se “Dis reg mevrou, ek moet in elk geval die trollie terugneem”.

Hy begin spontaan my goed oorpak in die kattebak en met daardie einste glimlag se hy vir my: “Mevrou dit gaan nie altyd oor die geld nie, dit gaan daaroor om mense ook te kan seen” Sy hart het getuig van welwillenheid en dit was asof ek vir die eerste keer nie meer sy uit tande, diep plooie en ou klere gesien het nie, maar die hart daaragter.

Dit is altyd die stories wat die meeste onverwags inpak maak op my wanneer iemand genade wys of iets doen sonder om iets terug te verwag. Dit is mos prakties liefhê, of hoe? 

Die ding is, hierdie keer het ek nie my beursie by my gehad nie, net my bankkaart en geen kontant om hierdie bedagsame man te vergoed nie. Ek verduidelik hom dat ek geen kontant het nie en steeds met dieselfde entoesiasties behulpsaamheid gaan hy voort om my pakkies in te laai.
Ek groet toe die vriendelike vreemdeling en wens hom ‘n Geseënde Kerstyd toe terwyl ek in my motor inklim.

Ek sit my motor in trurat en met die dat ek oor my skouer loer om agteruit te stoot, klop hy weer aan my ruit. Ek was effens verbaas om hom weer te sien terwyl ek my ruit afskuif. “Mevrou, ek kom net terug om iets vir mevrou te sê.” Sy glimlag sonder tande, kom reguit uit sy hart. “Kyk Mevrou, kyk hoe is ek nou geseën”.

Hy wys vir my ‘n twintig rand noot. Ek was netso bly en vra hom nou die eerste keer wat sy naam is. Hy antwoord sommer so trots, “my Naam is Koos, mevrou”. Ek steek my hand uit na hom en stel myself ook voor. Ek se vir hom terwyl ek sy hand skud.

“Weet jy Koos, net soos ons in geloof die regte dinge doen, gehoorsaam is aan God se wil, mekaar help sonder verwagting, kom die Here en help ons meer as wat ons ooit kon dink of gee. Hy sorg vir ons harte.”

Koos sit sy ander hand nou bo-op myne en se “Ja Mevrou, mag die Here u en my so seën die jaar wat kom”. Koos het vandag my herhinner aan saai en werk van die môre tot die aand, want jy weet nie watter seën op jou wag en wat sal opkom nie.

Meer as dit plant goeie saad en laat dit groei, op die regte tyd kom jou seëninge onverwags en klop aan jou ruit met ‘n glimlag sonder tande om jou te herhinner om dankbaar te wees vir die klein dingetjies soos R20, maar ook die onkoopbare waarde om ander te seën en ook geseën te word deur ander. Mag 2020 so’ n seënjaar wees vir jou ook. 

Vorige artikelKan ek regtig toe-oë glo?
Volgende artikelLeef jy of oorleef jy?
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.