Wanneer vriendskap jou duur kos…

0
353
vriendskap.png

Die pyn en afwesigheid van ’n vriendin wat jy verloor het, word moeilik beter. Só maak jy die alleenheid stil.

“My vriendin het onwaar stories oor my versprei. Ek het ons vriendskap beëindig, maar ek mis ons lekker geselsies en saamwees. Dalk was ek oorhaastig. Hoe kon ek die situasie beter hanteer het?” Petro Coetzee

Dis baie maklik om sommer ’n klomp “vriende” te hê. Ek wed jou jy het ’n hele paar op Facebook. Of jy noem jou kollegas of iemand met wie jy net ’n paar keer gesels het, ook jou vriende. Is hulle regtig jou hartsvriendinne?

Daar het eintlik al baie van die Bybelse betekenis van ware vriendskap verlore gegaan. Dit omvat baie meer as ’n stuk koek, ’n skuimkoffie en ’n lekker geselsie.

Ware vriendskap beteken jy gee sonder om terug te verwag. En jy gee baie – tyd, geduld, liefde, aanvaarding. Dit beteken jy bly lief vir iemand, in goeie én slegte tye. Nie oor wat jy kan kry nie, maar oor wat jy kan gee.

Om te weet of jy regtig vir ware vriendskap kans sien, moet jy dalk eers ’n paar sommetjies maak. Kyk gou wat dit jou alles kan kos.

Ware vriendskap kan partykeer baie ongerieflik wees

Om saam winkels toe te gaan en middagete te eet is eintlik maar ’n klein deeltjie van vriendskap. Die eintlike toets kom eers wanneer jy sekere opofferings moet maak – dan is dit nie meer soveel pret nie.

Jou vriendin wil moontlik iets doen wat jou nie pas nie of het skielik ’n krisis waarmee jy moet help. Sy gaan miskien deur ’n moeilike tyd en sy wil elfuur die aand hê jy moet by haar kom sit en net luister. Of haar motor het gebreek en jy moet haar kinders by die skool gaan oplaai – aan die ander kant van die dorp.

As sy kwaad is, sê sy dalk iets wat jou baie seermaak, al het sy dit nie so bedoel nie. Jou eerste reaksie sal wees om gekrenk te voel en haar summier af te skryf. Maar dis die maklike uitweg – jy mag nooit net jou rug draai en van haar vergeet nie.

Om ’n verhouding met iemand te bou neem tyd

Mense is kuddediere. God het self gesê dis nie goed vir ’n mens om alleen te wees nie. Kameraadskap verg egter tyd. Jy kan nie ’n behoorlike vriendskap met iemand hê as jy nie genoeg tyd vir haar inruim nie.

Om by mekaar se harte uit te kom beteken julle moet mekaar rustig leer ken. Selfs al woon julle dalk nou ver van mekaar af, het julle mekaar tog op ’n stadium baie gesien. Dit moet vir julle belangrik wees om gereeld by mekaar te kom sodat julle in voeling met mekaar kan bly.

Wees bereid om jou hart wyd oop te maak

Wat het jou in die eerste plek na jou vriendin toe aangetrek? Was dit haar humorsin of haar kreatiwiteit? Of dalk haar goeie smaak?

Jy sien altyd ’n persoon se goeie eienskappe eerste raak, maar as jy haar nog altyd net op haar beste gesien het, het julle vriendskap gestagneer en nie werklik verdiep nie.

Julle moet mekaar se foute ook leer ken. Elke mens het ’n donker kant en worstel soms met sonde. God se bedoeling met vriendskap is juis dat ons mekaar hiermee moet help.

Al manier om dit reg te kry is om mekaar se diepste geheime en vrese te leer ken. Intimiteit is daarom ’n belangrike vereiste vir ’n hartsvriendskap.

Wees lief vir mekaar en bid vir mekaar

Hoe meer tyd jy saam met iemand deurbring, hoe meer van haar foute sal jy raaksien. Dit sal nie altyd maanskyn en rose wees nie.

As sy die dag nie lekker voel nie, sal sy dalk kortaf met jou wees. Sy sal soms selfsugtig wees. Jy sal natuurlik óók nie altyd jou beste voetjie voor sit nie; daarom móét jy haar kan vergewe.

Dit maak nie saak watter negatiewe dinge jy omtrent jou vriendin ontdek nie, God verwag dat jy haar moet liefhê. Ten spyte van hoe jy voel.

En natuurlik moet jy vir haar bid. Juis omdat jy jou vriendin se hart so goed verstaan, sal jy mos presies weet waarvoor om te vra.

Dink dus mooi voordat jy ’n nuwe vriendin in jou lewe innooi. Jy aanvaar eintlik ’n groot verantwoordelikheid as jy dit doen, want jy kan iemand anders se geluk help bepaal.

Maar as jy die slag gekies het, bly dan lojaal – maak nie saak wat dit vra nie!

Ja, jy sal moet opoffer. Ja, jy gaan dalk seerkry. Vriendskap is duur, maar dis deur en deur die moeite werd.

Vertaal en verwerk uit Costs of Real Friendships van Jen Thorn.