Wanneer vroue roep

Vanoggend is ek net lus vir skryf, ek wil sommer net deel en gedagtes gee vir almal om te lees.

Nes Antjie Krog sou sê: “Sonder fêncy leestekens, net ‘n kaalvoet gedig”. Ek wil dit skryf veral aan elke vrou, ma, dogter en vriendin. Die laaste tyd is ons almal so bewus van geweld teen vroue en die weerlose hande wat opgaan en roep vir lewe. Niemand roep sommer net nie, almal het ‘n rede. Vandag roep ek vir die rede van “vrouwees sonder vrese”.

Daar waar ek ry in my motor, deure oop en toe sluit by my huis, wag voor hekke wat moet oopgaan en staan by rooi ligte en wag, met die bewustheid dat ek moet rondom my kyk vir enige gevaar wat dreig.

My gedagtes neem my terug na 8 jaar oud waar ek ure lank modder koekies gebak het in ons tuin, tuinblomme gepluk het en verkoop het vir R2 op ons besige straathoek. Daar waar ek en die hele straat se kinders by Albert se huis oorkant die pad gespeel het tot net na skemer en op my fiets Bellville middestad toe gery het om ‘n “Strawberry Milkshake” en slaptjips met tamatiesous te gaan eet.

Ons sou by die riviertjie speel en kaalvoet in die voortjie afloop, sonder enige gedagte van vrees of gevaar rondom ons. Vandag sal niemand dit waag om Toktokkie te speel nie, Dan word ek hartseer om te weet dat ons kinders nie hierdie vryheid kan geniet nie, en hoeveel van ons moet ons vryheid verruil vir vrese.

Hierdie vrese is soms onbewustelik, veral nadat jy telke male in ‘n week die whatsapp kry dat daar is weer ingebreek in ons area, of iemand is vermoor of honde is vergiftig. My vrese steek kop uit as ek gaste afsien en ek bang voel om die hek te gaan oopmaak en terug hardloop in my huis, uitasem, sodat ek agter hek en grendel veilig kan voel.

Net om die aand weer te bid: “Here, beskerm ons asseblief Here”. My hart gaan uit na elkeen wat dit voel en beleef, en ek het nie werklik die oplossings vir die emosies nie, want ons kan nie die misdadigers daarbuite beheer wat ons weerloses wil skade aandoen nie, al wat ek vandag wil sê met ‘n hart van misnoeë, maar nie sonder hoop nie, is ten midde van dreigende gevare is vrede steeds ‘n keuse.

Vandag kies ek (en elke dag wanneer die vrees my wil klim van weerloos vrouwees) vrede omrede ek weet wie my Vredegewer is: Johannes 14:27: “Vrede laat Ek (Jesus) vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Dis nie net ‘n kopskuif nie, dit is ‘n oorgee in geloof. Kom ons wees vandag die vrou wat ander moed inpraat, wat vrese omdraai na vrede in die hart van vrouwees.

Vorige artikelSkitterwit glimlag met I love my smile
Volgende artikelTyd, my goeie vriend
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.