Wanneer werk belangrik is as jou huweliks verhouding

0
13
werk.jpg

Jy en jou man het albei professionele beroepe. Dit hou julle baie besig. So besig dat julle mekaar nooit sien nie.

Moet nooit toelaat dat jou werk aan jou huweliksgeluk karring nie. Maak tyd vir mekaar!

Jare terug het almal in die korporatiewe bedryf sekere werksure gehad – iets wat geëindig het as jy die kantoordeur agter jou toegmaak het. The good old days! Maar danksy dinge soos selfone en skootrekenaars is dit die maklikste ding onder die son om jou werk saam met jou huis toe te vat. Alles wat jy nie kon afhandel by die werk nie, gaan onder die arm op of die rekenaar saam na jou privaat plekkie toe – dis nou die privaat ruimte waar kinders graag tyd met jou wil spandeer, of waar jou maat graag ’n bietjie wil kuier, sommer net gesels of lekker vroeg bed toe wil gaan om in jou arms te kan lê.

Maar nou ja, as die werk altyd belangriker, dringender en noodsaakliker is as hierdie dinge, is dit seker geregverdig, of hoe? Miskien regverdig jy jou werksure omdat jou gesin van jou inkomste afhanklik is? Hoor dan weer – God sal nie jou inkomste seën ten koste van jou gesin en huwelik nie. Die instandhouding van jou inkomste of bevordering kom dan veel eerder van Mammon af. Ons spot seker nie verniet dat die duiwel vir sy kinders sorg nie. Hierdie sorg is ongelukkig nie met die oog op uiteindelike geluk nie, maar eerder op toekomstige vernietiging.

Miskien kom jy nie noodwendig laat van die werk af nie, maar sit by die huis met stapels werk – slaggereed met lysies verskonings hoekom dit juis dáárdie aand belangrik is, en die aand daarna … en die aand daarna. Ek hoor dikwels mense wat hierdie gewoonte verdedig omdat hulle kwansuis nie werk terwyl die ander mense in die huis nog wakker is nie. O néé, hulle gewerk by die huis ontneem niks van hulle gesin nie, want hulle is mos júis daarop bedag om eers aan te gaan met hulle werk as almal reeds slaap.

Ai, die konsidererende siele! Jou laat werkery put jou uit en maak van jou ’n wandelende tydbom as jy lank genoeg daarmee aanhou. As gevolg van oorwerktheid en oormoegheid raak jy soveel makliker geïrriteerd en ontplof vinniger vir geringe goedjies. Al die stres en fisieke uitputting beïnvloed verder ook jou libido, wat jou hele intieme verhouding in sy kanon stuur. Dink ’n bietjie aan hierdie ironie. Jy glo dalk dat harder werk jou meer suksesvol sal maak en vat daarom sonder om twee keer te dink werk saam met jou huis toe of werk sonder om te skroom na ure by die kantoor. Die waarheid is dat jou sukses by die werk in ’n groot mate afhang van jou geluk by die huis. Moet dus nie toelaat dat jou werk aan jou huweliksgeluk karring nie – dit bring jou sukses in jou beroep in die weegskaal.

Jou sukses by die werk hang in ’n groot mate af van jou geluk by die huis. Moet dus nie toelaat dat jou werk aan jou huweliksgeluk karring nie – dit bring jou sukses in jou beroep in die weegskaal.

Sit eerder vir jouself een weeksaand opsy om ekstra werk af te handel. Reël dit vooraf met jou maat en kinders, en hóú dan daarby. En as dit ’n tydelike ding is dat jy ekstra tyd moet insit vir ’n bepaalde projek of deadline, moet jy versigtig wees om nie in die gewoonte te verval en met die ekstra werk aan te hou nadat die projek voltooi is of die deadline gehaal is nie.

As jou werk altyd voorkeur geniet in jou lewe, moet jy nie verbaas wees as jou maat later met wrewel dink aan jou beroep en sukkel om jou enigsins daarin te ondersteun nie. Wees eerder eerlik met jouself oor die rede waarom jy dikwels in jou persoonlike en privaat tyd werk. Daar is immers baie uiteenlopende redes:

  • Jy werk nie gefokus tydens kantoorure nie en is daarom dikwels agter met alles.
  • Jy weet nie regtig hoe om te ontspan nie.
  • Jy glo dat sit en niks doen ’n teken van luiheid is, ’n teken van ’n swak karakter.
  • Jy hoop dat dit jou werksdag van môre rustiger gaan maak.
  • Jy gebruik dit as ontvlugting van kosmaak of huistakies rondom die kinders.
  • Jy spandeer eerder tyd met werk as in ’n stormagtige verhouding met jou maat.
  • Oscar Wilde het gesê: Work is the refuge of people who have nothing better to do. Is dit waar van jou eie lewe?