Wanneer woede jou onderkry

Liesel Krause-Wiid
Liesel Krause-Wiid

Om kwaad te word is normaal en partykeer selfs die dryfveer in jou lewe. Dink maar net aan woede oor onreg in die wêreld.

Tog, as woede selfsugtig is, broei, ander seermaak en jou menswees negatief aantas, kan dit soos ’n vernietigende vuur wees.

Om nie jou emosies te kan beheer nie, benadeel verhoudings en jou gesondheid. Boonop sit jy met hope skuldgevoelens na ’n woedeuitbarsting. Dit steel jou vreugde, en jy gaan sukkel om ’n gelukkige lewe te lei as jy gedurig kwaad word.

[Mentorklas VIDEO] Beheer jou woede

Jy kan jou aggressie en geïrriteerdheid ontlont

Dink terug aan vorige kere toe jy jou humeur verloor het. Probeer verstaan waarom dit gebeur het. Kenners meen dat die meeste mense woede beleef omdat hulle voel hulle word nie erken, na geluister, gerespekteer en gewaardeer nie.

Dit kan ook te doen hê met seerkry en frustrasie wat nie opgelos is nie. ’n Oorvol program en geweldige druk in jou lewe kan ook lei tot woedeuitbarstings, geïrriteerdheid en aggressie.

Weet jy dat jy iets kan doen om jou woede te ontlont? Aanvaar verantwoordelikheid vir jou optrede! Almal sukkel met woede, party mense word net kwater as ander. As jy voel jy kry nie erkenning nie, of jou mense luister nie na jou nie, pak die probleem aan. Vra die Here om vir jou die regte tyd en woorde te gee wanneer jy met jou geliefdes hieroor gesels.

’n Oorvol program en min slaap is die sondaars

Een van die beste maniere om woede te beheer is om dit te verhoed. Te veel hooi op jou vurk is meestal die oorsaak. Ons kinders en huweliksmaats loop gewoonlik eerste deur as ons druk by die werk ervaar én ’n huishouding moet bestuur. Ons skree en baklei aansienlik minder as ons met vakansie is.

Neem die besluit om jou en jou kinders se dagboeke beter te beplan. Vra jou gereeld af hoe belangrik hierdie afspraak, aktiwiteit of laataandprojek in die groter prentjie is. Leef gebalanseerd en prioritiseer. Eet gesond en slaap genoeg. Ons is beslis korter van draad as ons moeg is.

Maak tyd in jou besige program om elke dag by God te rus. Vra Hom om jou kalmte, insig en wysheid te gee. Hoe besiger jy is, hoe moeiliker is dit om die ware oorsaak van jou woede te hanteer.

Lag gereeld vir jouself en laat sekere dinge net gaan

Dink gereeld oor jou lewe en hoe jy onthou wil word. Natuurlik verskil ons nou en dan met ander, maar besin oor die uitkoms van die gestry waarmee jy besig is. Wanneer jy konflik reg hanteer, kan dit jou en die ander persoon selfs nader aan mekaar bring.

Dalk het jy jou vandag bloedig vir iemand vererg. Dink terug oor wat presies gebeur het. Wat kan jy in die toekoms doen wanneer jy met hierdie persoon te doen kry? Dink aan maniere om in die toekoms in ’n soortgelyke situasie anders op te tree.

Kyk na die groter prentjie. Moenie jouself en die lewe te ernstig opneem nie. Lag vir jouself. Sommige dinge moet jy net laat gaan.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.

Nou is die tyd Gebruik die afslagkode LIESEL om die boek NÓÚ IS DIE TYD te koop op voelgoedboeke.co.za.
R104 R149