Want sy wat vasbyt wen..

Ons familie kan ons so lekker lag oor die verlede. Ons het al in groot huise en in klein woonstelletjies gewoon.

Ons moes selfs vir ‘n tydperk by familie ingetrek het omdat ons letterlik amper al ons aardse besittings verloor het. Die nagevolge van bankrotskap het ‘n ontsaglike groot emosionele en fisiese uitwerking op ‘n familie.

Ek het twee waardevolle lesse daaruit geleer. Eerstens, dat die liefde en ondersteuning van familie en vriende van meer waarde is as al die geld in die wêreld en tweedens, dat geen situasie in hierdie lewe permanent is nie – nie eers ons lewe op aarde nie.

Ek is so dankbaar dat seisoene wel verander. Selfs grafieke moet een of ander tyd van rigting verander, dit kan nie altyd net afwaarts beweeg nie. Ja, huwelike beleef groeipyne. Ons werksomstandighede verander. Die goeie nuus is, dat jy sover 100% van al jou hartseerste en hulpelooste dae oorleef het.

Vandag daag ek jou uit om op te staan en jou situasie vierkantig in die oë te kyk. Vergewe die wat jou te nagekom het, vergewe jouself vir die foute wat jy gemaak het en veg vir jou drome. Jesus het klaar die oorwinning vir jou behaal. Moenie dat vrees, negatiewe woorde en denkpatrone die wete van jou vryheid en oorwinning wegraap nie.

Jou gebroke hart sal herstel, jou bankrekening weer opvul. Ja, jy sal weer ‘n nuwe beroep vind en jou passie vir die lewe sal weer vlamvat.

Staan op, haal asem, beweeg voorentoe, spreek lewe oor jou situasie en leef!  Onthou, jy is meer as ‘n oorwinnaar. Vasbyt vriendin, jy is ‘n wenner.