Ware intimiteit is die gom van ’n huwelik

2812

Intimiteit word dalk deur die meeste mense gesien as iets wat jy agter ’n toe deur in die arms van jou geliefde ervaar. Die waarheid is egter dat intimiteit baie meer is as romanse en seks.

Intimiteit is meer as seks

Kersligetes is spesiaal. Om diep in mekaar se oë te kyk het sy plek, maar daardie oomblikke gaan verby. Selfs connected seks bly net vir ’n oomblik by ons. Om egter ware intimiteit in jou huwelik te hê is iets blywends. Dis ’n diepe wete dat jy emosioneel veilig genoeg is by jou maat om jouself te wees en nie te vrees dat jy nie goed genoeg gaan wees nie. Dis die vryheid om broos te wees sonder om veroordeel te word. Intimiteit is die diepste vlak van liefde omdat dit beteken dat ons mekaar se diepste gevoelens ken en mekaar se menswees liefhet. Ouderdom kan dit nie bedreig nie en mislukkings kan dit nie wegneem nie. Dis nie gegrond op ’n fisieke aantrekking nie en verdwyn nie omdat ons minder seks met mekaar het nie. Sonder werklike intimiteit sal liefde nooit onvoorwaardelik wees nie, want intimiteit is ’n ding van die hart en gees, en nie van die lyf en omstandighede nie.

Verdiep julle vriendskap

Ek het jare gelede die film Good Will Hunting gekyk, waarin Robin Williams ’n sielkundige speel wat ’n tiener van liefde moet leer. Ongeag sy pogings kon hy geen reaksie uit die seun kry nie. Hy het oor sy eie huwelik gepraat, sy lesse uit die lewe en selfs oor die dood van sy vrou – steeds sonder sukses. Meteens sê Robin die volgende: “My wife used to fart in her sleep.” Op die seun se vraag wat dié bekentenis met liefde te doen het, antwoord Robin: “That’s what made her my wife. I was the only one who knew that she farted in her sleep.” Hoe kosbaar is dit nie om te weet dat die klein dingetjies wat ons van mekaar weet, die suksesse, die agter-die-toe-deur-mislukkings, die gebrokenheid, verleenthede, vrese en seer, ons vriendskap verdiep. Is dit nie juis wat ware vriendskap kenmerk nie? Die vrymoedigheid om net te wees!

Ware vriendskap tussen pelle laat ons veilig voel om ons harte te kan deel. Jy kan saam met ’n beste vriendin sonder grimering met jou flenniepajamas loop. Lang beenhare, ’n deurmekaar huis, lag oor simpel grappies en die vertel van geheime – al hierdie dinge kan deel uitmaak van ’n verhouding met jou beste vriendin sonder enige veroordeling of ongemak. Dis hierdie lekkerte van vriendskap wat ons vrymoedigheid gee en maak dat ons in mekaar se geselskap wil wees. Dalk is die antwoord daarin geleë dat jy en jou man moet werk aan die diepte van julle vriendskap. Kies om lief te wees, kies om te aanvaar, kies om net te wees – met of sonder windjies wat jy in jou slaap los!

Maak werk daarvan

Om intimiteit te begeer is nie ’n waarborg dat jy dit gaan hê nie. Net soos ’n huwelik wat werk, harde werk is en nie net iets wat jy kan bedink nie, sal ook geen intimiteit moontlik wees as jy nie die tree neem om dit te bewerkstellig nie. Te veel mense droom oor sekere dinge in hulle huwelik, maar besef nooit dat dit nie net by ’n konsep kan bly nie. Hou op droom en begeer en spring aan die werk. Lê enige wonde voor die Here neer, kies om te vergewe, vra vir genoeg tyd in jou dagboek en genoeg kreatiwiteit. Die Here ken jou man se hart en weet wat hy nodig het om intimiteit by jou te begeer. Vertel vir hom dat jy hom nodig het, deel ’n stuk van jou hart, sien sy emosie raak en vra die Vader om dit wat jou man dalk nie sê nie, vir jou te wys. Maak tyd vir vriendskap, deel ’n goeie grap, wees lief vir sy boep en sy oorgroot slaapbroek. Kies jou pel. Kies intimiteit!

Gretha Wiid, huwelikskenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.